Die Germaanse Vrou

Met die koms van die Christendom na Europa, sou die rol van die Germaanse vrou in die maatskappy, 'n metamorfose ondergaan. Voor die koms van die Christendom was die vrou (net soos die man) 'n eersterangse burger. Sy het hoë aansien in die gemeenskap geniet. Geen Germaanse leër het dit ooit gewaag om 'n stryd te begin, sonder om eers die vroue te raadpleeg nie.

Tacitus (56-120n.C.) skryf dat die Germane geglo het dat daar iets heiligs in die vrou skuil. Sy het oor profetiese gawes beskik. Sy was heldersiende. Sy het oor telepatiese en intuïtiewe kragte beskik wat van haar 'n Sieneres gemaak het om mee rekening te hou. Die Volva's kon alles sien van die begin tot die einde: van die skepping tot die einde van die wêreld (Ragnarok). Sy is vereer vanweë haar vermoë om beheer uit te oefen oor bonatuurlike en magiese kragte. Verder was die Germaanse vrou vereer om haar verleidelike skoonheid en aantreklikheid. Juis om hierdie talente, was die vrou van haar voetstuk gehaal met die koms van die Christendom.

Baie Germaanse vroue het om haar middel 'n klein swastika of sonwiel gedra. Dit het simbool gestaan vir oneindigheid en die ewige lig. Haar armbande was in die vorm van 'n slang (of akkedis) wat vrugbaarheid en wysheid vergestalt het. Ook het sy sleutels aan 'n gordel om haar middellyf gedra. Dit was simboliese sleutels wat haar outoriteit bevestig het en haar toegang verleen het tot die bonatuurlike wêreld. Vergelyk ook die sleutels van die koninkryk van die hemel (Mat 16:19); die sleutels van die dood in Openb 1:18 en ook die simboliese sleutels wat die katolieke priesters dra.

Daarbenewens was sy 'n outoriteit op die gebied van die geneeskunde. Dit was 'n terrein waar geen man hom mee bemoei het nie. Sy het medisyne aangemaak. Sy het gesorg vir die siekes en die gewondes. Sy was die heler en die dokter. Verder het sy kinders voortgebring en as sodanig is sy gesien as die skepper van menslike lewe. Sy het in die lig gestaan van die Moedergodinne. In die Germaanse religie was die Godinne en Gode ewe heilig. Man en vrou was gelyk. Die eerste twee mense was tegelykertyd geskape uit hout. Ask en Embla (twee selfstandige bome).

Moedegodinne: Die skeppers van alle lewe op aarde.

Ook by die ou Germaanse godsdiensbeoefening het sy 'n leidende rol gespeel. Daar was baie meer priesteresse as priesters in die Germaanse gemeenskap. Bowendien, skryf Tacitus, het die manlike Germaanse priesters hulle soos vroue geklee.

Die oordrag van ons volksgeskiedenis en volkskuns na die volgende geslagte was hoofsaaklik in haar hande (moeders lees vandag nog Germaanse 'sprokies' voor aan hul kinders). Ook op die gebied van skriftelike taalhantering het sy 'n leidende rol gespeel. Die meeste runemeesters was vroue. Dit het nie alleen taalhantering ingesluit niet, maar ook die magiese aspekte van rune. Met die koms van die Christendom is die Germaanse rune deur die kerk verbied. Sien rune.

By die bestudering van die Germaanse mitologie blyk dit duidelik dat vroue 'n belangrike skakel gevorm het tussen die mens en die Goderyk. Die Drie Norne (vergelykbaar met die Griekse Fate) bepaal immers die lot van elke mens. Die kryger wat op die slagveld sterf word deur die Walkure na die Walhalla begelei. Mense wat 'n strooidood (beddood) sterf, word onder beskerming geneem van die Godin Hel. Daarbenewens speel die Hekse, Wicca's, Seidkona's, Volva's, Elwe, Disas, Matrone en Gefjons 'n belangrike rol as intermedium tussen die aardse lewe en die Hiernamaals. Sien die hoofstuk wat Germaanse- Gode en Godinne behandel vir meer inligting oor hierdie vroue.

Met die koms van die Christendom na Germaans-Keltiese Europa vind 'n ommeswaai plaas. Die vrou word 'n tweederangse burger. Erger nog, tydens die Middeleeue is sy wreed en brutaal vervolg. Juis haar eens gewaardeerde talente sou haar op die brandstapel laat beland. Miljoene talentvolle vroue is in Europa deur kerkvaders na die brandstapel begelei. Die Heks (Wyse Vrou) sou met die koms van die Christendom verander in 'n bose Heks (Duiwelsgebroed).

Waar die vrou in die ou Germaanse gemeenskap die berader en die arts was, moes sy met die koms van die Christendom hierdie vakgebied opgee. Die mediese beroep sou voortaan met mans gevul word (vroue kon nog assisteer).

Ondersoekers wys daarop dat talle Germaanse- en Keltiese vroue aanvanklik (na hul kerstening) ook Christelike priesters was. Dit was 'n taak wat hulle volvoer het voordat hulle gekersten was. Maar vroulike Christelike priesters was 'n doring in die oog van Rome. Hierdie vroue moes die veld ruim en die Christelike priesteramp verlaat. Die priesterlike amp was nou die uitsluitlike domein van die man.

Die nuwe godsdiens het die vrou beskou as oorsaak van alle sondes in die wêreld. Eva is deur 'n 'pratende' slang verlei waarna sy die onskuldige Adam verlei het. Sonder die vrou, sou die man nóóit gesondig het nie. Sy veroorsaak 'n sondeval.

Na die sondeval het die sonde nie opgehou nie. Met haar skoonheid sou sy elke man tot sondige gedagtes verlei. Beeldskone vroue het tydens die Middeleeue 'n groot risiko geloop. As sy te mooi was, beteken dit dat sy moontlik 'n verleidelike heks was, wat op die brandstapel hoort. En as sy te bekwaam of intelligent was, het sy dieselfde risiko geloop.

Daar was selfs vroeër in kerklike kringe geglo dat 'n vrou nie 'n siel het nie. Sy is geskape uit Adam. Sy was beskou as deel van Adam: sonder identiteit. Sy kom uit die man (by die Germane kom die man uit die vrou) en was nie eerste geskape nie, maar tweede. Om die rede moet sy onderdanig wees aan die man. Omdat die vrou skuldig was aan die sondeval moet die man oor haar heers, volgens Gen 3:16.

By die bestudering van die Bybel (en die Koran), blyk dat die Midde-Oosterse vrou 'n besonder onderdanige posisie beklee het ten opsigte van die man. Sy spreek haar man aan as ''heer'', sy is onrein wanneer sy menstrueer of geboorte geskenk het. Verder word sy beskou as haar man se eiendom. Die Bybelse vrou is 'n stil figuur op die agtergrond. By die bestudering van die Germaanse Edda's is dit baie duidelik dat die vrou op geyke voet met die man verkeer. In die Edda's is sy prominent op die voorgrond aanwesig.

Ook by die Kelte blyk dat vroue voor die koms van die Christendom hoë posisies beklee het. Boudicca was byvoorbeeld in Brittanje in die 1ste eeu n.C. 'n baie belangrike koningin en leëraanvoerder. Maar sy was nie die eerste en enigste nie. Tacitus skryf dat die Romeinse leërs dit later nie meer vreemd gevind het om teen Keltiese leërs te veg onder aanvoering van 'n vrou nie. Ook in die Keltiese sages kom koninginne voor wat leërs aangevoer het. Nog ander bekende vroulike leëraanvoeders (of vroulike stryders) onder die Kelte was Medb, Scáthach, Aoife, Credne, Coinchend, Estiu, Cartimandua, Onomaris, Eponina, Chiomara, Camma, Macha Mong Ruadh, ens. Talle ondersoekers en geskiedskrywers (byvoorbeeld Tacitus en Pausanius) maak melding van die hoë posisies van vroue in die Keltiese gemeenskap.

Keltiese en Germaanse vroue kon die hoogste posisies in die maatskappy bereik sonder wetlike belemmering. Hulle kon maklik van hul mans skei as hulle dit sou verkies. By 'n egskeiding het die vrou haar eie besittinges behou asook alle geskenke wat sy by haar man ontvang het. Germaanse- en Keltiese vroue kon grond besit en het erfreg gehad. Romeinse- en Griekse vroue daarenteen, het hierdie regte nie gehad nie. Romeinse- en Griekse vroue het die status gehad van slavinne en is beskou as 'n besitting. Met die koms van die Christendom na Noord en Wes-Europa vind 'n oordrag plaas van die Romeins-Griekse kultuur na die Germaans-Keltiese kultuur. Die maklike egskeidings onder Germaanse- en Keltiese egpare is 'n halt toegeroep by die invoering van die Christendom.

Met die koms van die Christendom is 'n patriargale tradisie in Midde-Europa gevestig. In Nederland sou vroue vanaf 1922 algemene stemreg verwerf het. Die kerk het dit teëgestaan. As blyk van afkeur van die invoering van vroulike stemreg, is selfs 'n nuwe politieke party gestig, naamlik die Staatkundig Gereformeerde Partij. Hierdie party bestaan vandag nog steeds en is steeds gekant teen vroulike stemreg en die vrou as ampsdraer.

By die bestudering van die Keltiese en Germaanse mitologië val dit op dat die vrou nie alleen 'n belangrike rol gespeel het in die maatskappy nie, maar selfs 'n verhoogde status gehad het. Sy was 'n simbool van die Moedergodin. Sy het simbool gestaan vir kennis, wysheid en geregtigheid. Die huidige simbool vir geregtigheid in talle Westerse lande is 'n weegskaal of die afbeelding van 'n vrou.

In Europa sou die kersteningsgolf die laaste oor Noord-Europa gespoel het. Die Heidendom het daar die langste stand kon hou. Om hierdie rede het die Noord-Europese maatskappy nooit werklik 'n patriargale maatskappy geword nie. Selfs vandag nog word die Skandinawiese lande as 'vroulike' lande bestempel teenoor die Midde-Oorsterse 'manlike' lande.