Die belangrikste Germaanse Gode en Godinne
Die Germaanse religie/mitologie word gekenmerk deur 'n aantal groepe mitiese wesens. Die oudste religieuse wesens was die natuurgeest/natuurelemente. Hierdie natuurelemente sou personifseer in Reuse en Reusinne, maar ook in Dwerge en Elwe. Later sou die Moedergodinne/Vrugbaarheidsgodinne op die toneel verskyn en nog later sou manlike en strydvaardige Gode die toneel oorheers. In die Germaanse mitologie staan die Vrugbaarheidsgodinne en Gode bekend as die Wane. Die heersende of strydvaardige Gode staan beken as Ase (manlik) en Asinne (vroulik).
Hieronder word van die mees belangrike mitiese wesens beskryf. 'n Meer volledige lys van religieuse terme en mitiese figure vind u hier.
Ægir
Ægir of ook soms Gymer was ‘n baie ou godheid. Maar soms was hy ook as ‘n Reus beskou. Die naam van sy vrou was Ran. Ægir en Ran het nege dogters gehad met die name Bylga, Bara, Dufa, Udr, of Unnr, Hronn, Hefring Himinglæva, Kolga en Blodughadda. ‘n Aantal van hierdie name beteken golf. Ægis is moontlik verwant aan Oudgermaanse *ahwō, in Latyn aqua. Ægir is beskou as ‘n God van die see en sy dogters die golwe.
Aldr
Aldr word in verband gebring met Lot. Aldr word beskou as 'n Skikgodin wat nog ouer is as die Norne. Die woord Aldr is verwant aan die woorde oud en ouderling. Die ander twee ouer Skikgodinne was dan Orlog en Naudr (Nood). Sien ook Norne.
Alf, Elf, Alwe of Elwe (Elfies)
Elwe is bonatuurlike wesens. In die Edda word die Elwe beskou as ‘n aparte groep naas die mense, Ase, Wane, Dwerge, Reuse en die bewoners van die Doderyk. Die Elwe is beskou as mitiese en heilige wesens. Daar word ook tussen verskillende groepe Elwe onderskei. Die eerste groep is die Ligelwe wat in die hemel woon. Hierdie hemel is bekend as Alfheim. Alfheim is ook die woonplek van die God Freyr. Dan is daar nog ‘n groep Ligelwe wat in ‘n ander hemel woon bekend as Vidblain (wye blou). Hierdie Ligelwe is beskou as mooier as die son. Hulle was Ligwesens en wit van kleur. Swane is ook soms Elwe genoem.
Maar dan is daar ook Swartelwe en hulle het baie anders gelyk. Hulle woon onder die grond gewoon en is pikswart (en soms ook lelik). Hierdie groep Elwe is Nikkers of Nekkers genoem. Nikkers was soms in 'n gunstige lig beskou. Swart is beskou as 'n vrugbare kleur, naamlik die kleur van die aarde en ook van roet. Roet kom immers van die Heilige Vuur. Familiename soos de Necker, Neckerman, Schwarzenegger, ens, is afkomstig van hierdie Nikkers. Maar die Nikkers is soms ook in 'n baie ongunstige lig beskou. Nikkers het soms selfs Duiwels geword. Oom Nick, beter bekend in Engels as Uncle Nick is 'n oorblyfsel van die Nikker met 'n destruktiewe karakter. Die woord neger sou later ontwikkel uit die woord Nikker. Soms was Swartelwe en dwerge as sinoniem beskou.
Elwe is as vroulik beskou en in Middelnederlands Elvinne genoem. Elwe is ook nou verwant aan nimfe. In die volksgeloof het die skoonheid van Elwe ‘n belangrike rol gespeel. Die skoonheid van vroue is vergelyk met die skoonheid van Elwe. Die woonplekke van Elwe was as Heiligdomme beskou.
'n Aparte groep Elwe is die Vormers of Wurmers. Dit is kreatiewe Elwe wat van vorm of gedaante kon verander. Plekke wat vernoem is na hierdie groep Elwe (en waar hierdie Elwe ook sou geleef het) is Wormer, Wijdewormer en Wormerveer in Nederland. Die woord wurm is afgelei van Vormer, maar met die woord wurm is vroeër ook gedaante verwisselende insekte bedoel.
In sommige streke was Elwe onwelkom (moontlik Swartelwe of as gevolg van die kerstening). In Duits heet ‘n nagmerrie ‘n Alptraum (Elwedroom). In Middelnederlands dui die woord Alfsgedrocht op ‘n onaantreklike persoon. Met die koms van die Christendom is die Elwe gedegradeer tot wesens van die Duiwel of sprokiesfigure. Tog is daar vandag steeds mense (veral in die Suide van Europa) wat glo in die bestaan van Elwe.
Elwe sou in bosse gewoon het. In Brabant (Nederland) is heuwels wat bekend staan as Alfenbergen of Alvinnenbergen.
Alfheim
Alfheim is die woonplek van die (Lig)elwe. Alfheim is een van die drie Hemelryke. Die 3 Hemerryke is Asgard, Vanaheim en Alfheim. Vanaheim is die woonplek van die Wane (Vrugbaarheidsgode) en Asgard of Asaheim is die woonplek van een ander groep Gode, naamlik die Ase. Sien Nege Wêrelde.
Asatru
Asatru is 'n moderne term. Die naam beteken 'Trou aan die Ase'. Die ondersteuners van Asatru probeer om die ou Germaanse godsdiens te rekonstrueer. In 'n aantal lande is hierdie godsdiens reeds amptelik erken, byvoorbeeld in Ysland in 1973, Swede 1994, Noorweë in 1996, Denemarke in 2003 en Spanje in 2007. In Spanje het die Germaanse Wes-Gote vir 'n lang tyd die heersende klasse gevorm.
Ase, Æsir of Áss
Ass is enkelvoud en Asir meervoud. Die Germaanse Gode word in twee groepe verdeel, naamlik die Ase/Asinne en die Wane. Die Ase is die grootste en invloedrykste groep Gode. Aan hierdie groep het Gode behoort soos: Wodan/Odin, Donar/Thor, Balder, Forseti, Bragi, Vidar, Vali, Tyr, Ull, Hoder, Hœnir, ens. Gode wat aan die Wane behoort het was, Njord, Freyer en Freya. Die Wane is Vrugbaarheidsgode. Die Ase is heersers, krygers en handhawers van die Reg. Alhoewel Ase en Reuse aan mekaar verwant is, is Wane en Ase nie onderling verwant nie. Die groepe staan volledig los van mekaar. Tydens die Ragnarok gaan beide die Ase en die Wane in die stryd onder.
Die benaming Áss kom van die Oudgermaanse wortel *ans. In Goties was die Ase bekend as Ansis en in Angelsaksies Ēsa. In Skandinawië is baie plekname en voorname bekend met die lettergreep ás-. Daar is ondersoekers wat die woord Ass in verband bring met die Indo-Europese wortel *ans wat asem beteken. In Sanskrit beteken asu lewenskrag. In Oudgermaans was ans 'n paal (totempaal).
Asega
'n Asega het ook bekend gestaan as 'n ewa of ook 'n sega (verwant aan sê). 'n Asega was betrokke by die regspraak en is deur die volk aangewys. Sommige ondersoeker is van mening dat 'n Asega 'n regter was, maar andere is van mening dat hy slegs 'n regsadviseur was. Die Ommestand (lede van die Ding) kon sy regspraak ongedaan maak indien hulle dit nie eens was met sy regspraak/regsadvies nie. Daar word ook vermoed dat 'n Asega 'n priester was. By die ou Germane was die wetgeleerdes immers priesters. 'n Asega word nietemin verbind met vonnisoplegging van 'n veroordeelde.
Dit is voorts moontlik dat daar 'n verband kan wees tussen die woord asega en die woord assegaai. Vergelyk ook die woorde zagāya in Berbers, azagaie in Oudfrans, azagaya in Oudspaans en az-zaġāyah in Arabies wat almal dui op 'n wapen.
Asgard, Asegard, Ásgardr, Asengaarde, Asaheim
Asgard of Asaheim is die woonplek van een groep Gode, naamlik die Ase. Die Asgard is een van die drie Hemelryke. Die 3 Hemelryke is Asgard, Vanaheim en Alfheim. Vanaheim is die woonplek van die Wane (Vrugbaarheidsgode) en Alfheim is die woonplek van die (Lig)elwe.
Die Asgard word onderverdeel in 12 burgte. Van hierdie burgte is weer onderverdeel in Sale. Die 12 burgte is:
1) Trudheimer of Trudvanger. Dit is die woonplek van Donar/Thor. Hier staan die paleis Bilskirnir wat uit 540 vetrekke bestaan.
2) Ydalir. Hier het die God Ullr 'n saal.
3) Valaskjalf. Dit is 'n vrolike burg, waar die Ase vermaak word.
4) Sokkvabekker. Hier is die saal van die Godin Saga.
5) Gladsheimer. Dit is waarskynlik die belangrikste (en moontlik eerste) burg. Gladsheimr is die grootste gebou in alle Wêrelde, waar regters sit om oor die lot van mense te beslis. Gladheimr is van suiwer goud. In Gladsheimr is 'n saal bekend as Vingolf, wat as woonplek van die Godinne dien. Daar is egter nog 'n saal met die naam Valholl of Walhalla. Gestorwe krygers uit Midgard word hier ontvang. Die Walhalla is ook uit goud vervaardig en het 540 deure. In die middel van Walhalla staan 'n boom met die naam Lerader. Die bokooi met die naam Heidrun en die bokram met die naam Eikthyrnir leef van die blare van Lerader. Uit die uier van Heidrun het vloei mede (bier). Uit die horings van Eikthyrnir val druppels water wat verkillende bronne voed. By die poort van Gladsheimr is 'n woud met die naam Glasir. Die blare van die bome is van goud. Dit is die mooiste woud bekend by mense en Gode.
6) Thrymheimer. Dit is die burg van die Reus Thjassi. Hierdie burg was aanvanklik in Jotunheimr waar dit hoort as woonplek van Reuse. Maar sedert die huwelik tussen Thjassi en die beeldskone Godin Skadi, het Thrymheimr deel geword van Asgard.
7) Breidablik is die burg van Balder. Hierdie burg word as besonder rein beskou.
8) Miminbjorg is die burg van die God Heimdal.
9) Folkvanger is die burg van die Godin Freya. Hier het sy 'n saal met die naam Sessrumnir.
10) Glitnir. Dit is die burg van die God Forseti. Glitner het 'n goue dak met silwer pilare.
11) Noatun. Dit is die burg van die God Njord. Hy was aanvanklik 'n Waanse God. Njord word egter as gyselaar aan die Ase uitgelewer deur die Wane en so word Noatan deel van Asgard.
12) Landvidi. Dit is die burg van Vidar. Dit is 'n besonder vrugbare en groen burg.
Naas Asgard, bestaan ook Midgard (woongebied van die mense) en Utgard (Onderwêreld en woonplek van mitiese wesens).
Sien ook Nege Wêrelde.
Balder
Balder was ‘n seun van Wodan/Odin en Frigg. Die vrou van Balder was Nanna. Balder was ‘n baie gewilde en geliefde God wat gestraal het van skoonheid en lig. Die woord Balder kom van die Indoeuropese wortel *bhel- wat wit en stralend (son) beteken. Balder was dus besou as ‘n Lig- of Songod en ook die God van skoonheid, goedheid en suiwerheid. Die stryd tussen Loki en Balder was die ergste ramp wat die mensdom nog ondervind het. Loki vermoor vir Balder, maar hy doen dit via die blinde Hoder. Loki laat Hoder ‘n pyl afskiet en dit tref Balder noodlottig. Dit het die begin van Ragnarok (die eindtyd) ingelui. Balder en Nanna het ‘n seun gehad met die naam Forseti.
Die naam Balder is verwant aan die Keltiese God Belenos, Belenus of Bel, maar ook aan die Fenisiese/Egiptiese God Baäl. In Armeens eweneens bekend as Bel en onder die Grieke ook bekend as Belos. Die naam België is afkomstig van hierdie groep name asook die Engelse naam vir Wit-Rusland naamlik Belorussia of Belarus.

Bragi
Bragi was die God van die digkuns. Hy was besonder wys en welsprekend. Sy vrou se naam was Idun en Bragi was ‘n seun van Wodan/Odin en die Reusin Gunnlod. Die naam Bragi is waarskynlik afgelei van die Oudnoorse bragr (belangrikste). ‘n Welsprekende persoon sou bekend gestaan het as bragr en hierdie groep mense (digters en sangers) het die Skalde gevorm. Die Engelse woord brag is aan Bragi verwant.
Dag, Dagr en Nag Nott, Nótt
Dag is die seun van Delling. Nott is die dogter van Nörr. Nott was weer die dogter van ‘n Reus Nörfi of Narfi en was donkerkleurig. Dag en Nott sou daagliks langs die hemel gery het in opdrag van Wodan/Odin. Daar is egter ook ‘n Germaanse stam (Swabe) wat die God Daguz vereer het. Daguz was ‘n Songod.
Dis, Disse, Disa, Dís, Dísir, Dys, Tys, Tes of Tessa
Dit is ‘n groep vroulike goddelike wesens of Godinne. Godin Freya was soms Vanadis genoem (Waangodin). ’n Dis is ’n heilige of gesiene vrou en kom voor in Oudsaksiese as Idis en in Oudhoogduitse as Itis of in Oudengelse as Ides. Die woord dis kom ook voor in die auslaut van akkedis (hagedis in Nederlands) wat na bonatuurlike vroulike wysheid verwys. Die slang en akkedis is wysheidsimbole. (Sien Heksejag). Die woord Heks (Haegtesse) is verwant aan Hagedis of akkedis. Moontlik het Hekse ook gebruik gemaak van disselplante. Hierdie plante het aansien geniet onder sommige Germaanse stamme. Die pleknaam Disathing in Swede dui op 'n verering van die Disse in die gebied. Dis is egter 'n baie ou godheid. Die woorde Dis en Dyr/Tyr/Tiwas is verwant aan mekaar (wisseling van s en r in die inlaut en auslaut van woorde - vergelyk spies, speer en spear (Eng) en haas, hare (Eng)). Tyr/Tiwas word egter as 'n manlike God beskou wat moontlik dui op 'n oorgang van die Moedergodinne na manlike Gode.
 |
 |
 |
'n Dis of Vanadis |
Familiewapen Disselhoff |
'n Skotse wapen |
Donar, Thor, Tho(na)r of Thunar
Waar Wodan/Odin 'n gevreesde God was, was Donar/Thor weer ‘n baie geliefde God. Naas Wodan/Odin, was Donar/Thor die beroemdste van alle Gode. Hy is ook Ase-Thor of Wa-Thor genoem. Hy is ‘n reus van ‘n man en die sterkste van alle Gode en mense. Sy hare en baard was rooi en hy het vurige blou oë gehad. Sy eggenote was Sif en saam het hulle twee seuns gehad met die name Magni en Modi en ‘n dogter mat die naam Trud. Donar/Thor was beskou as die grootste vyand van die Reuse en die kragtigste verdediger van Asgard en Midgard.
Donar/Thor was die seun van Wodan/Odin en Jörd of Fjörgyn (Aarde). Donar/Thor het oor 'n strydwa beskik wat deur bokke getrek was (Tande-knerser en Tande-ontbloter). Hy het ook ‘n kraggordel en ‘n ysterhandskoen en dan die beroemde hamer (Mjölnir). As hy hierop slaan is die slag op die aarde sigbaar as Bliksem (weerlig). Mjolnir is ‘n vreeslike wapen wat Donar/Thor sal gebruik om die Midgardslang te tref. Hierdie Thorhamer is deur Dwerge gemaak en word beskou as die magtigste wapen van die Ase teen alle vyande. Waar Wodan/Odin die God van die heersende klasse en die Skalde was, was Donar/Thor die God van die boere. Hy is deur die boere vereer as Krygsgod en Vrugbaarheidsgod (omdat hy mag gehad het oor die reën, die wind en die landbou). Baie Germane het miniatuur Thorhamers of klein beeldjies van Donar/Thor gedra as amulet. Daar is ondersoekers wat meen dat daar 'n verband is tussen die Thorhamer Mjolnir en die Russiese woord molnija wat weerlig beteken.
Daar is ondersoekers wat ooreenkomste sien tussen die Germaanse Donar/Thor en die Indiese God Indra.
Hamers van Thor
Die meeste ou Germaanse huwelike (bruide was in wit geklee - 'n heilige kleur vir die Germane) is op 'n Donderdag gesluit, omdat Donar/Thor beskou was as die Huweliksgod. Volgens die tradisie onder die Germane is die Hamer van Thor/Donar eers op die skoot van die bruid neergelê. Die huwelik (ooreenkoms) is met die slaan van die Thorhamer beklink. Vandag word hierdie hamer steeds gebruik in geregshowe as simbool van bevestiging of finaliteit.
Omdat Donar/Thor een van die mees vereerde Gode was, is sy naam herkenbaar in baie plekname asook in voor- en familiename van die Noordgermane. In die Ou Ysland was ‘n kwart van die bevolking na hom vernoem. Baie plekke heet vandag Thorshof, Thorsland, ens. Die naam Thor of Donar is ook verwant aan die Keltiese God Donn (en Danu) asook aan die Griekse Adonis, van oudsher 'n Fenisiese God bekend as Adon. Maar die naam Donar is ook verwant aan 'n ander Griekse God Dionysos. In Semities (afstammelinge van Sem) was hy bekend as Adoni of Adonaj. Die Latynstalige volkere gebruik 'n woord wat afgelei is van Adoon, as naam vir die Christelike God, naamlik in Spaans Dios, in Frans Dieu en in Italiaans Dio.
Die angs/respek vir hierdie God het in die volkskultuur bly voortbestaan tot en met vandag. Die woord Donner is steeds 'n woord wat óf versigtig uitgespreek word óf as 'n taboe/vloekwoord beskou word. Dieselfde taboe geld ook vir die woord Bliksem (wat ontstaan wanneer Donar/Thor met sy hamer (Mjolnir) slaan.
Bokke is as offerdiere aan Donar geoffer.

Drommel of Drummel
'n Drommel was 'n klein mannetjie, moontlik 'n Dwerg. Dit is moontlik dat die woorde drom en drommel verwant kan wees aan die woord droom. 'n Drommel is later gesien as 'n soort Duiwel, moontlik met die koms van die Christendom. Die woord drommel of drommels het vandag die betekenis van sukkelaar of trut.
Dwerge of Dwergies
Dwerge is mitiese wesens van 'n laer rangorde. Die Gode sien neer op die Dwerge en gebruik die Dwerge soms vir allerlei take. So dra die Dwerge die aarde op hulle skouers. Hierdie Dwerge se name was Oos, Wes, Noord en Suid. Dwerge is egter meestal beskou as hardwerkende en nuttige wesens.
Hulle was die meesters van die skatte onder die aarde. Hulle was vaardige kunstenaars en smitte. So vervaardig die Dwerge die unieke skip van Frey met die naam Skidbladnir. Ook sou die Dwerge die magiese ring van Wodan/Odin gemaak het, met die naam Draupnir. Verder maak die Dwerge vir die Ase ook die magiese ketting Gleipner. Dan maak hulle ook vir Donar/Thor sy hamer met die naam Mjollnir. Ten slotte maak hulle vir Freya haar bekende halsketting met die naam Brisingamen.

Eir
Eir is 'n Asin wat geassosieer word met die geneeskunde. Sy was waarskynlik 'n Godin, moontlik 'n Valkerie, wat moes sorg vir die herstel van siekes en gewondes.
Eostara, Ostara, Ôstarûn, Ester
Ostara was ‘n Suid-Germaanse Godin. In Oudengels was die maand April bekend as ēastur-mōnath wat na hierdie Godin vernoem is. Ook verwys Paasfees na hierdie Godin, naamlik in Engels Easter en Duits Ostern. Ostara was ‘n Lentegodin en ‘n Vrugbaarheidsgodin ook bekend as Ester. Sy was egter in die Noordgermaanse gebied onbekend. Haar eweknie in die Noordgermaanse gebied was Freya. Die Godin Ostara stam uit 'n verre verlede, want haar naam is herkenbaar in die name van talle ander Indo-Europese Godinne, byvoorbeeld die Romeinse Aurora, die Griekse Eos, die Litouwse Austrá, die Voorasiatiese vrugbaarheidsgodin Astarte, die Mesopotamiese Ishtar en die Vediese Usas.
Fenrir, Fenrisúlfr (Bose Wolf)
Fenrir is die naam van die Bose Wolf wat ‘n groot bedreiging vir die mensdom en die Gode inhou. Die God Loki het drie ‘kinders’ verwek by die Reusin Angrboda. Die name van hierdie ‘kinders’ was Fenrir, Midgardslang en die Godin Hel. Die Gode het die wolfmonster Fenrir in die Asegard geboei waar hy sal bly tot aan die eindtyd, naamlik die Ragnarok. Tydens aardbewings in die eindtyd sal Fenrir vrykom. Die oopgesperde bek van Fenrir is so groot dat dit vanaf die aarde reik tot aan die hemel. Uit sy oë en neusgate sou vuur straal. In die Ragnarok sal hy teen Wodan/Odin veg. Wodan/Odin sal uiteindelik verslind word, waarop die seun van Wodan/Odin, naamlik Vidar tot die stryd toetree en hy sal Fenrir met sy swaard doodmaak. Vidar sal die Ragnarok oorleef (as een van weinige).
Forseti, Fosite of Fosete
Forseti is ‘n Ase. Hy is die seun van Balder en Nanna. In die Asegard woon hy in die saal/hal met die naam Glitner. Hierdie saal het goue pilare en ‘n silwer dak. Glitner is ‘n regsaal vir Gode en mense. Wie sy/haar regsaak aan Forseti voorlê kan seker wees van ‘n eerlike en gunstige uitslag. Forseti het groot aanhang gehad op die Heilige eiland Helgoland, tussen Deense en Friesse grondgebied. Daar word beweer dat woord Forseti verwant kan wees aan die woord voorsitter (leier, president)
Frigg, Frîja, Fricka
Frigg was ‘n besondere Godin, want sy was die vrou van Wodan/Odin en dus die belangrikste Asin. Frigg het gesag gevoer oor drie ander Godinne, naamlik: Hlín (beskermgodin), Gna (boodskappergodin) en Fulla (vrugbaarheidsgodin).
Die naam Frigg (en ook Freya) word in verband gebring met die Oudindiese Priyā (geliefde) en Oudengels Frēo (vrou) en Oudsaksies Frî (vrou). Frigg is beskou as 'n simbool van die huwelik, moederskap, vrugbaarheid, liefde, seksualiteit en goeie huishouding. Frigg was ‘n dogter van Fjorgyn, die Godin van die aarde en die lug. Alhoewel Frigg 'n Asin was, word sy ook as 'n Vrugbaarheidsgodin beskou en in hierdie sin is sy dan eintlik 'n Waanse Godin. Sommige ondersoekers is egter van mening dat Frigg en Freya dieselfde Godin was.
Frigg, Freya en Freyr is van een stam afgelei, wat beteken dat dit in die verlede een Godheid was.

Freyja of Freya
Freyja was die belangrikste Godin uit die Oudgermaanse religie. Sy was soms as 'n Asin beskou, maar eintik was sy 'n Waanse Godin. Sy is die tweelingsuster van Fro (Freyr). Freya en Fro was kinders van Njord. Freya word beskou as die Godin van die liefde, hartstog, wellus, vrugbaarheid, erotiek, skoonheid, liefdesliedere, weelde en magie. Sy was beeldskoon en buitengewoon aantreklik. Alhoewel sy beskou was as simbool van vrugbaarheid, is sy soms ook beskou as 'n gedugte vegter. Sy word soms ook beskou as die hoof van die Walkure of Valkure.
In die Asegard woon sy op ‘n spesiale plek wat bekend staan as die Folkvangr (volksveld) waar sy die helfte van die gestorwe krygers mag ontvang. Wodan/Odin sal die ander helfte ontvang in Walhalla. Die naam van haar saal is Sessrúmnir (ekstra ruim en mooi). Die woorde ses (saal van Freya) en seks is verwant. Ook is die woord vrou afkomstig van Freya en Frigg en ook is Vrydag na haar vernoem.
Freya was getroud met Od. Freya en Od het twee dogters gehad met die name Hnoss (kosbaarheid) en Gersimi (kosbaarheid). Op ‘n dag sou Od vertrek het op ‘n lang reis, maar hy keer nie terug nie. Hieroor het Freya lank getreur en rooi-goue trane gehuil. Freya sou Od gaan soek het, maar kon hom nooit vind nie.
Haar strydwa word deur katte getrek en word Freya met katte geassosieer. Na die kerstening van die Germane sou Freya met haar katte as ‘n duiwelse wese en die Hoofheks gebrandmerk word. Ten spyte daarvan is Freya in Denemarke vandag steeds ‘n nasionale volksfiguur en word sy selfs in die Deense volkslied besing.
Die Vrugbaarheidsgodin Freya toon ook ooreenkomste met ander Godinne soos Cybele, maar ook met Afrodite of Venus. Ook Cybele het ‘n wa gehad wat getrek was deur panters of leeus wat ooreenkom met die wa en katte van Freya. Ook treur Cybele oor haar man Attis wat verdwyn het. Dit is ook bekend dat die Griekse Godin Rhea se wa getrek was deur leeus. Al hierdie Godinne het ‘n herkoms wat strek vanuit die prehistoriese Moedergodin(ne). Terloops, die Afrikaanse woord luiperd kom van leo (leeu) + pardus (panter). Dit is leenwoorde via Grieks en Latyn.

Fro, Freyr, Frik of Frikko
Fro is net soos sy suster nie ‘n Ase nie, maar ‘n Wane. Fro was ‘n baie gewilde Vrugbaarheidsgod. Hy is beskou as die stamvader van die Sweedse koningshuis, die Ynlingen. ‘n Bynaam van Fro was Yngvi-Freyr.
Fro het in die Alfheim gewoon, wat die tuise was van die Elwe. Sy eggenote se naam was Gerd en Gerd was ‘n Reusin.
Njord, die Seegod, was die vader van Fro. Fro het ‘n magiese skip Skilbladnir besit. Die skip kan opgevou word om in ‘n broeksak te pas en hy het altyd die wind in sy seile. Alhoewel Fro ‘n Wane was, was hy beskou as ‘n gedugte stryder. Hy was beskou een van die beste en dapperste ruiters. Die naam van sy perd was Blodughofi (met bloeiende hoewe). Fro het ook ‘n strydwa wat getrek word deur ‘n swyn met die naam Gullinbrosti. Dan was die swyn as offerdier aan Fro geoffer, maar ook perde en soms ook bulle.
In die Ragnarok speel Fro ook ‘n belangrike rol. Sy teëstander is die Reus Surt. Surt is ‘n oerwese wat in die Ragnarok die eindstryd met vuur sal ontketen. Die swaard van Surt sal helderder wees as die son en Fro sal in die eindstryd omkom.
In Noorweë en Swede is daar talle plekname wat dui op die verering van hierdie God, byvoorbeeld: Frøishov, Frøisaaker, Fröstuna, Fröslunda, Frösåker. Veral in Swede was hierdie God baie gewild. Sy goue beeld het ook in die tempel van Uppsala gestaan, saam met die van Wodan/Odin en Donar/Thor.

Fulla of Volla
Fulla vorm saam met Gná en Hlín 'n goddelikke drie-eenheid onder gesag van Frigg. Fulla word beskou as 'n Vrugbaarheidsgodin wat beteken dat sy eintlik 'n Waanse Godin moet wees, maar tog word sy as Asin beskou. Fulla word soms beskou as 'n suster van Freya (waarskynlik omdat ook Freya 'n Vrugbaarheidsgodin is). Fulla beteken "vol" of "oorvloed".
Gefjon of Haeva
Gefjon is die maagdelike Godin wat die siele van alle ongetroude meisies, wat gesterf het, onder haar hoede neem. Sy was waarskynlik aanvanklik ‘n vrugbaarheidsgodin en veral verbonde aan die eiland Sjælland. Haar naam beteken gee (geven). Gefjon was 'n Noordgermaanse Godin. By die Suid-Germaanse stamme het sy bekend gestaan as Haeva. Vergelyk ook die ooreenkomste tussen die woord hemel en die Yslandse woord vir hemel, naamlik gimle. Sommige ondersoekers meen ook in die naam Haeva die naam Eva te herken.
Gerd, Gerda, Gerðr
Gerda is ‘n Reusin. Sy is die dogter van die Reusepaar Gymir en sy vrou Aurdoba. Gerda was die eggenote van die God Fro of Freyr. Gerda en Fro staan simbool van die Heilige Huwelik. In Swede en Noorweë is talle klein goue plaatjies gevind met die afbeelding van Fro en Gerda daarop waar hulle mekaar die hand gee en ook aan mekaar ‘n gerf of koringaar oorhandig. Die gerf is ‘n simbool van vrugbaarheid.

Gná
Gná word beskou as 'n Boodskappergodin. Sy vorm saam met Híln en Fulla 'n goddellike drie-eenheid onder gesag van Frigg. Die naam Gná is moontlik verwant aan die woord genade. Gná is moontlik 'n baie ou Godin, want haar naam kom ook voor in die naam van die Keltiese Godin Morrigan (Mare + Gna). Mare = Meisie (wisseling van -r- en -s-). Die woord genade is selfs vandag nog 'n religieus belaaide woord in die Christelike religie (God is genade!). Verder word die woord genade ook as 'n uitroep gebruik. Talle woorde wat as uitroep gebruik word, het 'n religieuse ondertoon of is die naam van 'n godheid. Vergelyk hededaagse uitroepe soos "Oh my God!" (Eng), "Jesus Christ!" (Eng), "My Vader!", "Jesus!", "Jissie!" ens.
Gná is voorts ook moontlik verwant aan name soos Genta en Genata, maar ook aan woorde soos Gent (pleknaam), Gent (Eng) en gentle (Eng).
Hagal
Hagal moes 'n baie ou Godin gewees het. Hagal word baie duidelik verbind met die rune. Die rune is immers opgedra aan 3 Goddelike wesens, waarvan Hagal een is. Die woord Hagal is verwant aan die Oudengelse haga en dus ook aan die Engelse Hedge. Vergelyk verder ook die Engelse hedge-priest, hedge-lawyer, hedge-wench, ens. Hagal is ook verwant aan die Engelse haw- in hawthorn (Meidoring of Haagdoring). Hierdie plant moes 'n baie belangrike rol gespeel het in die Germaanse mitologie. Hagal verwys ook na 'n grens. Dit was waarskynlik die grens tussen die heilige omgewing waarin die Wyse Vrou haar bevind het en die buitewêreld. Dit is bekend dat Hekse (Wicca's of Wyse vroue) grense getrek het, wanneer hulle orakels moes uitlê. Dit was 'n sirkelvormige grens met 'n kruis daarin. Hierdie groep vroue is dus baie duidelik verbind met 'n grens en ook die oorskryding van hierdie grens. Hekse sou immers met besems oor grense heen kon reis. Aan die woord Hagal is ook woorde verwant soos haag, behaag, behae en welbehae. Den Haag was vroeër 'n sentrum van vroulike magie.
Aan dieselfde groepie woorde is ook die volgende woorde verwant: Haggemoeder, Heggemoeder, Haegmoeder; Haggesus(ter), Heggesus(ter), Hazusa; Haggetis, heggetis, Haegtesse, Haegesse, ens. Hieruit ontstaan ons woord Heks, maar ook woorde soos hek en heining.
Hekse was voor die kerstening van die Germane 'n gesien groep wyse vrouwe. Die woord hael (hagel) is ook verwant aan hierdie groep woorde. Die naam van Griekse Godin Hecate lyk nogal op die woord Heks en daar sou mootlik 'n verband kan wees, maar dit is nie seker nie.
Verder is die woord hoog mitologies verwant aan die woord haag. Wyse Vroue (Hekse, Volva's of Seidkona's) het gebruik gemaak van 'n baie hoë stoel wat as hoog of hoogsit bekend gestaan het. Hierdie stoel was soms selfs 2 meter hoog. Nadat die Wyse Vrou 'n aantal rituele uitgevoer het, bestyg sy die hoog of hoogsit vanwaar sy haar uitleg gee. Hierdie uitleg staan bekend as 'n seid of 'n profesie.
Ook is daar op hoogtes geoffer. Hierdie hoogtes was soms 'n bestaande heuwel of soms 'n mensgemaakte heuwel. Die piek van die heuwel is gelykgemaak of afgeplat en het hierdie heuwels (hoogtes) ook soms bekend gestaan as tafelberge. In die middel van die afgeplatte gedeelte het 'n altaar gestaan. Die rand van die tafel (of afgeplatte heuwelspits) is van 'n heining (haag) voorsien. Hoogte was by die beoefening van die Germaanse religie 'n baie belangrike aspek en het onlosmaaklik verband gehou met 'n haag en dus 'n Heks.
Heid
Heid was 'n bekende Vala of Sieneres. Dit is egter mootlik dat Heid lank gelede 'n Godin was, maar dit word nie in die lektuur bevestig nie. Tog was Heid 'n vroulike figuur met hoë aansien. Heid is afkomstig van die Proto-Germaanse *khaidus wat eer of waardigheid beteken.
In die Walhalla is 'n bokooi met die naam Heidrun. Uit haar uier vloei mede (bier) om die gaste (gesneuwelde krygers) te laaf.
In Duits is die geslag (genus) van selfstandige naamwoorde wat op -heit eindig vroulik.
Heid, heit of het is as agtervoegsel in Afrikaans-Nederlands, Duits en die Skandinawiese tale besonder populêr. Heid is verwant aan die woorde hede, heide, heiden en die name Heidi, Adelheid en Heidenreich/Heidenrich.
Heimdal, Rig
Heimdal of Rig word beskou as een van die witste (vergelyk witty (Eng)) en slimste van die Ase. Hy besoek drie ouerpare. Na sy besoek kry elke van hierdie ouerpare 'n kind. Uit hierdie kinders sou drie klasse ontwikkel (slawe, vryburgers en adel). Heimdal of Rig was groot en heilig en ‘n seun van Hymer. Verder is hy gebore uit nege susters. Dit is onduidelik hoe dit moontlik kan wees, maar moontlik is hy nege keer gebore wat beteken dat hy nege lewens gehad het en dus ook nege keer sal sterf. Hy was ‘n besonder waaksame God, wat die gras op die aarde kon hoor groei en ook die wol van die skape kon hoor groei. Hy word beskou as ‘n wagter van die Gode, want sy tuiste was aan die einde van die hemel waar hy ‘n brug sou bewaak teen Bergreuse. As die Ragnarok losbars, sal hy op ‘n horing blaas om die Gode tot die stryd op te roep.

Hel
Hel is ‘n Godin. Sy was die Godin van die doderijk, maar die doderyk self het ook as Hel bekend gestaan, maar soms ook as Niflhel (Newelhel) of Niflheim (Newelheim: heim = hemel). Hel is die dogter van die God Loki en die Reusin Angrboda. Die woord Hel kom van die Oudgermaanse woordstam *helan wat verberg beteken. Vergelyk ook halje in Goties, hella in Oudhoogduits en hell in Oudengels. Die woord hel is ook verwant aan hol en hal (saal), wat veilige plek beteken. Uit die Edda’s blyk dat oorlede mense onder die aarde in die doderyk voortleef. Mense wat ‘n natuurlike dood gesterf het, het na die Hel gegaan. Mense wat vedrink het, het na die Godin Ran gegaan. Sy was die vrou van die Seegod Ægir. Mense wat op die slagveld gesterf het, het na die Walhalla gegaan waar die helfte na Freya sou gaan en die ander helfte na Wodan/Odin.
Die Godin Hel was egter 'n vreemde figuur. Die een helfte van haar liggaam was leweloos. Sien afbeelding hieronder. Maar sommige ondersoekers meen egter dat die een helfte van haar liggaam nie leweloos was nie, maar blou.
In Nederland ken mense ook nog die woord Helleweg. Dit is die laaste gedeelte van die weg waar die oorledene na die graf gedra (vervoer) word.
Die vermoede bestaan ook dat Hel 'n baie ouer Moedergodin moes gewees het. Die woord hel is verwant aan die woord(e) hol/hal en hil(l) wat na 'n nes of outydse huis/woning verwys. Hel was moontlik vroeër 'n Vrugbaarheidsgodin of 'n Huisgodin en ook verwant aan die Godin Holla/Holda. Die huidige betekenisse van die woorde held en helder (verwant aan hel) bevestig die vermoede dat die Godin Hel vroeër 'n besondere Godin was.
Hera
Hera was 'n Griekse Godin. Maar sy was ook verwant aan die Keltiese Godin Herecura. Dit blyk dat Hera/Herecura diep spore getrap het in die Germaanse mitologie. Die naam word in verband gebring met hiëra (heilig), of met 'heros'.
Hero was die priesteres van Aphrodite. Hera was die Godin van geboorte en die heilige huwelik of 'hiëros gamos'. Hera was die oudste dogter van Rhea en Kronos. Daar bestaan 'n vermoede dat Hera verwant kan wees aan die Germaanse Godin Hertha, maar ook aan die woord heer. Die Keltiese Godin Herecura was 'n Aardsgodin.
Die woord Heer kom in talle Noord-Europese plekname voor en het die woord ook 'n verhewe betekeniswaarde wat die vermoede bevestig dat die woord Heer van 'n Godheid afkomstig is. Voor die koms van manlike Gode het vroulike Godinne die religieuse toneel oorheers. Heer vloei heel moontlik voort uit Hera/Herecura. Met die aanvaarding van die Christendom deur die Germane word in Nederlands (en later Afrikaans) die naam Jahweh vertaal met HEER, wat dui op die belangrikheid en verhewenheid van hierdie woord.
In die Germaanse taalgebied verwys die woord Heer ook na 'n heilige plek, meestal op 'n koppie, heuwel of mensgemaakte offertafel (hoogte). Die woord is ook gebruik as titel vir 'n vername manlike persoon. Maar ook is die titel Fro voorheen gebruik vir 'n belangrike man. Fro is afkomstig van die Germaanse God Frey. Dit bevestig die vermoede dat Heer in die verre verlede 'n Germaanse Godheid moes gewees het. Terloops die titel mevrou en juffrou (juff=jong) is afkomstig van Freya, voorloper van Frey.
Die woord heer, hoar (Eng), har (Oudengels) en Herr (Duits) is afkomstig van die Proto-Germaanse *khairaz. Die woord is ook verwant aan die woorde Hero, Herodus, Harry, Herman, Irma ((h)eer+man), herberg, heerskare, heelik, heers, eer, ens.
Die woord heer kan ook verbind word met Irminsul. Irminsul was 'n legendariese suil in Eresburg (vandag Marsberg). Hierdie enorme suil of totempaal was ‘n Saksiese simbool wat in 772 nc. deur Karel die Grote vernietig is.
Plekname wat verbind kan word met heer is Ermelo, of Irminlo ( (H)eer + man + loo (loo = heilige oopte in 'n bos)), maar ook Haarlem, Heerlen, 's Heeren Loo, Heerenveen in Nederland en Harrow, Harrowden en Harrowdown in Engeland.
Sien ook Hercules.
Hercules of Herklaas
Hercules is moontlik afkomstig uit die Romeinse-Griekse mitologie. In Grieks was hy bekend as Herakles. Hercules of Herklaas was wel deeglik bekend by die Germane en Kelte. Onder die Batawe was Hercules Magusanus selfs die Oppergod. In die woord Hercules verwys die eerste gedeelte van die woord na Heer, maar ook na Hera, wat die vermoede bevestig dat Heer en Hera verwant moet wees. Daar bestaan ook 'n vermoede dat daar 'n Godheid bestaan het met die naam Klaas. Hierdie Klaas sou dan verwant wees aan Sinterklaas en Santa Claus (Eng).
Sien ook Hera.
Hertha
Hertha was 'n Germaanse Godin. Sy word beskou as Moeder Aarde. Die naam Hertha beteken Aarde. In Sanskrit beteken artha 'rykdom'. Hertha is verder ook bekend as Urd, Urth, Erda, Ertha, Hretha, Eortha, Erce, Heortha en Irtha.
Hertha is moontlik verwant aan Holda en ook moontlik verwant aan Hera. Hertha se wa word getrek deur koeie.
Hoder, Höder, Hodr
Hoder was ‘n seun van Wodan/Odin. Hy was egter blind. Hoder vermoor sy broer Balder, wat ‘n baie geliefde God was. Agter die moordverhaal sit Loki, want Loki laat Hoder ‘n pyl afskiet wat Balder noodlottig tref. Hoder is ook as ‘n ervare kryger beskou wat ten spyte van sy blindheid akkuraat kon skiet met ‘n pyl en boog.
Hlín of Lín
Hlín word beskou as 'n Beskermgodin. Haar naam is verwant die moderne name Helen, Helena en Lyn. Hlín vorm 'n goddelike drie-eenheid met Fulla en Gna.
Hœnir
Van hierdie God weet ons nie veel nie, maar hy tree dikwels op saam met Wodan/Odin. Hœnir, Lodur (Loki) en Wodan/Odin vorm saam ‘n Goddelike drie-eenheid. Hulle skep die eerste twee mense Ask en Embla uit twee stukke hout (boomstamme). Wodan/Odin sou aan die stukke hout asem gegee het, Hœnir sou aan hulle ‘n gees gegee het en Loki sou hulle kleur gegee het.
Holle, Holda of Hludan
Holle was 'n Germaanse Godin, ook bekend as Vrou Holle. Die woord hol is afkomstig van Protogermaanse *khulaz en van PIE wortel *kel- en ook verwant aan Hel. Vrou Holle was vroeër 'n baie gewilde Godin. In Nederland het die melkweg vroeër bekend gestaan as Vroneldenstraet of Vrou Hollenstraat.
Die Germaanse God Ullr of Holler is verwant aan Vrou Holle, maar ook die Godin Hel.
Idun, Iðunn
Idun was die vrou van die God Bragi. Sy is bekend vir die appels wat sy by haar gehad het. Hierdie appels het ‘n ewige jeug en onsterflikheid verseker. Die Gode moes van tyd tot tyd ‘n appel van Idun eet, of ‘n hap daaruit neem om nie oud te word nie. Die Gode kon op die manier dus bly leef tot die Ragnarok ‘n aanvang neem.
Ing
Ing of Ingwaz is ’n baie ou Godheid. Hy word deur Tacitus genoem as die stamvader van alle Inguæone (Germaanse volkere wat aan die kus gewoon het). Maar die naam Ing kom ook voor in die geslagsregisters van Oudengelse koningshuise. Ing is waarskynlik verwant aan Enki, een van die belangrikste Gode in Mesopotamië. Die plekname Enkhuizen en Wageningen in Nederland verwys na Ing.
Soms word Ing ook in verband gebring met die God Fro: Inguna(r)-Freyr.

Jodute
Jodute word deur 'n aantal ondersoekers vermeld as 'n God of Godin met 'n baie ou herkoms. Daar is egter weinig bekend oor hierdie Godheid. Die naam is moontlik verwant aan die Germaanse stam Jute woonagtig in Jutland (huidige Denemarke). Jodute kan egter ook verwys na die Jotun of Jote(n). Jotuns was Reuse en Reusinne. Hierdie Jotuns dateer uit die steentyd en was vereer voor die koms van die Wane en die Ase. Verskillende ondersoekers maak ook melding van die uitroep Jodute, wat vandag nog bekend is, wat daarop dui dat die Godheid vroeër aangeroep was. Die Afrikaanse uitroep Jitte (byvoorbeeld, Jitte, ek moet nou loop) is moontlik ook verwant aan Jodute. Name soos Jutte, Jody en Judith is afkomstig van hierdie Godheid asook die Belgiese pleknaam Jette, naby Brussel.
Jord, Jörd of Jørð (Aarde)
Jord is soms as ‘n Asin beskou, maar soms ook as ‘n Reusin. Sy was die minnaares van Wodan/Odin. Wodan/Odin en Jord het ‘n seun gehad met die naam Donar/Thor wat ‘n rasend populêre God sou word. Jord was oorspronklik ‘n Aardsgodin met ‘n baie ou verlede. Die Aarde word immers altyd as vroulik beskou. Bowendien is Jord = Aarde.
Kaboute(rs), Couboute(n), Kobold of Kaboutermannetjie
Kabouters of Kaboute is huisgeeste en het dus tussen die mense in hulle huise gewoon. Maar hulle het ook in grotte, onder heuwels (hol) en in splete in die grond gewoon. Kabouters is altyd lig van kleur en nooit swart nie (Elwe is soms swart). Kabouters is klein van postuur (15 tot 45cm), dra lang baarde, is misvorm, vrolik, lewendig en altyd behulpsaam met take in en om die huis. Hulle kleding is meestal rooi en groen. Kabouters kom steeds dikwels voor in talle Germaanse 'sprokies'. Naby die dorp Gelrode is 'n heuwel wat vandag nog bekend staan as Kabouterberg en waar daar Kaboutermannekens in woon. Tussen die dorpe Turnhout en Casterle is daar ook 'n heuwel wat vandag nog bekend staan as Kaboutermannekensberg. Kabouters word meestal as manlike beskou, maar Kaboutervroutjies kom ook soms voor.
Lahra
Lahra is 'n Godin wat in Nederland vereer was. Daar is verder geen besonderhede oor haar nie. Dit is egter moontlik dat die huisgeeste wat as Lare(n) bekend gestaan het verwant kan wees aan Lahra asook die naam van twee Nederlandse dorpe Laren en Zuid-Laren.
Leva
Die naam Leva is op gedenkstene gevind, wat die vermoede laat ontstaan dat daar 'n Godin met die naam Leva was. Lava was vroeër baie gewild as naam en het lav, lef, lif, lief, leif en lev dikwels deel uitgemaak van mansname en in vrouename lea, leva of lefa. Die pleknaam Leefdaal is waarskynlik verwant aan Leva en ook woorde soos lief en leef.
Lofn
Lofn was 'n Asin. Haar taak was om verhoudings tussen mans en vroue te bewerkstelling. Sy kon help om 'n huwelik tot stand te bring, selfs in gevalle waar die families gekant is teen sodanige huwelik. Haar naam beteken loof (goedkeuring) of verlof (goedkeuring).
Loki, Lodur, Lother, Lotter, Luther, Lothar, Lopt, Loke, Loge
Loki of Lodur is aanvanklik beskou as die God van die vuur of die God van die lig. Hy is die seun van die Reusepaar Farbauti en Laufey. Loki vorm saam met Wodan/Odin en Hœnir ‘n Goddelike drie-eenheid. Hy is medeskepper van die eerste twee mense. Wodan/Odin en Loki is ‘bloed’broers, maar hierdie ‘bloed’verwantskap sou deur ‘n eed tot stand gekom het. Loki is immers uit 'n Reusepaar gebore. Aanvanklik was Loki ook ‘n baie gewilde God. Later sou Loki ‘n wispelturige karakter vertoon het. Hy sou ‘n God geword het van voorspoed en van teëspoed. Hy sou sowel geluk as ongeluk bring. Sommige Germane het hom egter later met groot wantroue bejeen. Sy lippe is geskeur, want hy het eens ‘n eed verbreek waarna die dwerg Brokk sy lippe met naald en gare aanmekaar gewerk het.
Loki sou die baie geliefde God Balder vermoor het, en is hierna deur die ander Gode met ‘n ketting aan ‘n rots vasgebind. ‘n Slang spuug af en toe in die gesig van Loki. As Loki van pyn aan die ketting ruk, bewe die aarde.
Loki sou, voordat hy vasgeketting is, by Sigyn twee kinders gehad het met die name (V)ali en Nar(f)i. Hy sou ook by die Reusin Angrboda nog drie ‘kinders’ verwek het, naamlik Fenrir (Bose Wolf), Midgardslang en die Doodsgodin Hel. Tydens die Ragnarok breek Loki uit sy kettings en veg hy saam met die Reuse en die monsters teen die Gode. Tydens die Ragnarok breek ook Fenrir uit sy boeie en kom Midgardslang uit die see, waar Wodan/Odin hom ingegooi het. Beide die Midgardslang en Fenrir sal aan die kant veg van Loki teen die Gode. Loki is die enigste God wat téén die ander Gode veg. Sommige ondersoekers meen dat Loki daarom nie as ‘n God beskou kan word nie, maar as ‘n Reus of Jotun.
Loki is in Oudnoors Lúka (sluit). Die Engelse woorde lock, luck en lucky kom van Loki asook die woord geluk. In Ysland word sy naam verbind met die groot leuen (loka-lýgi), dus Loki die leuenaar. Lucifer is moontlik ook afgelei van Loki.
Daar is egter ondersoekers wat meen dat Loki en Lodur moontlik verskillende Gode was. In die Skandinawiese tale is Saterdag vernoem na Lodur: Lördag of Lørdag. Die Engelse woord Lord is ook afkomstig van Lodur.

Maagd
Die betekenis van die woord maagd was in die outyd 'n breër begrip vergeleke met die betekenis van die woord soos ons dit vandag ken. Maagde (Burchtmaagde) was priesteresse. Maagde was ongetroud en moes die priesterlike amp opsê indien hulle wou trou (verbintenis in die Heilige Huwelik). Maagde (priesteresse) het hoë aansien in die gemeenskap geniet.
Die woord maagd is verwant aan woorde soos Meier, Mayor (Eng), majoor, Mei, meid/meisie, merrie, Maria/Marie/Myra en marry (Eng). Moontlik is ook die Griekse Godin Moira verwant aan Maagd.
Mannus
Volgens Tacitus was Mannus die seun van die God Tuisto. Mannus was die oervader van die Germane. Mannus het drie seuns gehad wat die drie hoofstamme van die Germane sou vorm, naamlik: die Inguæone, Herminone en die Istævone. Die name van die seuns van Munnus was *Ingwaz, *Erminaz en *Istraz wat as stamgode beskou kan word.

Matrone, Matres, Matrae
Matrone was Germaanse- sowel as Keltiese Moedergodinne of Goddelike vroulike wesens. Hulle het meestal opgetree in groepe van drie. In Europa is daar ongeveer elfhonderd inskripsies gevind van Keltiese- en Germaanse name wat dui op die verering van Matrone. Die Matronenaam wat die meeste voorkom is Vacallinehae. Uit die afbeeldings wat gevind is, is dit duidelik dat dit gegaan het om die verering van vroue, getroud of ongetroud. Getroude vroue het kappies of ander hoede gedra en ongetroude dames se hare hang los. Hierdie dames het dikwels mandjies by hulle gehad met vrugte daarin.
Meda
Meda was 'n Suid-Germaanse Godin. In Friesland het 'n tempel gestaan in Medemblik en 'n beeld van Meda was in die tempel bewaar. Medemblik verwys al na Meda. Ook ander plekname verwys na Meda soos Medemahem, Medanheim, Medem en 'n gehug naby Utrechte met die naam Medemlake (Medemlake = Medemleek, waar leek verwys na lekkende water). Ook is Mendonk in Oos-Vlaandere moontlik vernoem na Meda, want Mendonk het in 694n.C. bekend gestaan as Medmedung of Memmedung. Meda was 'n maagdgodin. Die woorde meid, mädchen (Duits), maid (Eng) en meisie is afkomstig van hierdie Godin asook name soos Mieta en Mieti. Meda is ook verwant aan die woorde maagd en Mei. In Oudnoors was 'n meisie bekend as 'n maer (wisseling van r en s in inlaut en auslaut van Germaanse woorde). Dit beteken dat merrie en marry (Eng) eweneens verwant is aan Meda. Sien ook nagmerrie.
Meerminne
Meerminne is mitiese wesens met 'n verre verlede. Meerminne word meestal gesien as 'n vrou wat in water woon. In plaas van bene, bestaan die onderste gedeelte van haar liggaam uit 'n visstert. Hierdie vrouvis was nie beperk tot die Germane nie, maar was ook bekend by die Babiloniërs en die Sumeriërs. Die eerste gedeelte van die woord verwys na die see. In Middelnederlands was die see bekend as 'n mere. Vergelyk ook die Latynse mare. Die tweede gedeelte van die woord meermin verwys na 'n vrou. In Duits is daar ook Waltminne in plaas van Waldfrau. Ook is meerwijf of meerwiif in Nederlands bekend. In Noors is mareviv (meerwyf), marequinder (meervrou of meerkoningin) en mareminder (meermin) aangeteken. Meerminne was meestal vroulik, maar 'n manlike vorm was ook bekend, naamlik meermanne.
Midgardslang, Jörmundgand
Die Midgardslang was een van die ‘kinders’ van die God Loki en die Reusin Angrboda. Wodan/Odin en die ander Gode het die Midgarslang egter in die see gegooi omdat hulle sy krag gevrees het. Midgardslang sal daar bly tot aan die eindtyd (Ragnarok) wanneer hy saam mer Fenrir (Bose wolf) en ander monsters teen die Gode sal veg. Midgardslang is so groot dat hy om Midgard lê en homself aan sy stert byt. In die Ragnarok sal Donar/Thor en Midgardslang teen mekaar veg. Donar/Thor sal die stryd wen deur Midgardslang met sy hamer te vermorsel, maar hierna sal Donar/Thor 9 tree agteruit stap en self sterf in die gif wat Midgardslang in sy laaste stuiptrekkings sal spuug.
Nagmerrie
'n Nagmerrie is vroeër beskou as 'n Elf (Elfie) en meer spesifiek 'n wit Lugelf. Hierdie (wit) Lugelwe of Nagmerries sou die nagrus van mense versteur deur hulle bang of benoud te maak. In Duits word 'n nagmerrie 'n Alptraum (Elfdroom) genoem, wat dus ook daarop dui dat die nagmerrie 'n Elf is. In Deens is 'n nagmerrie bekend as 'n mare en in Sweeds 'n mara. Ook hier dui die woord mare of mara op 'n Elf. Elwe was altyd as vroulike wesens beskou. Die woord merrie is egter verwant aan die woord meisie (wisseling in die Germaanse tale van die r en s in die inlaut en auslaut van woorde; vergelyk haas en hare (Eng)). 'n Nagmerrie is dat eintlik 'n nagmeisie. In Nederlands was 'n nagmerrie vroeër dan ook 'n nachtvrouwe en ook 'n nachtmoeder genoem. Voorname soos Mara en Maria is dus verwant aan merrie/meisie.
Nanna
Nanna was die vrou van die baie gewilde God Balder. Aanvanklik was Nanna 'n Reusin, maar sy word 'n Asin deur haar huwelik met Balder. Balder word egter deur sy blinde broer Hoder vermoor. Nanna kon die dood van Balder nie verwerk nie. Tydens die verassing van Balder (sy lyk is op sy skip aan die brand gesteek), spring sy in die vuursee en sterf.
Die Engelse woord nanny, maar ook die Afrikaanse woorde non en nooi is verwant aan Nanna. Verder is die voornaam Anna eweneens verwant aan Nanna. Nanna is verwant aan die Griekse Godin Nana, die Sumeriese Godin Inanna en moontlik ook verwant aan die Sumeriese Maangod Nanna.

Nanna en Balder
Naudr
Naudr word in verband gebring met Lot. Naudr word ook beskou as 'n Skikgodin wat nog ouer is as die Norne. Die woord Naudr is verwant aan die woorde nood en need (Eng). Die ander twee ouer Skikgodinne was dan Orlog en Aldr (Oud). Sien ook Norne.
Nehalennia
Sien Keltiese Gode en Godinne.
Nege Edele Deugde
Die gedragskode wat die fundament vorm van die Germaanse maatskappy, is die Nege Edele Deugde. Elke persoon moes hom/haar met hierdie doelstellings identifiseer. Daar is 'n klemverskil tussen die Ase en Waanse denkstroom. Die herlewing in sommige Germaanssprekende lande van die Ou Germaanse godsdiens, gebruik die volgende oorgelewerde riglyne. Asatru (trou aan die Ase) volg harder en strenger reëls as die Vanatru (trou aan die Wane).
Asatru |
Vanatru |
1 |
Moed |
Respek en sorg vir die natuur |
2 |
Eer, eerbaarheid |
Moed |
3 |
Waarheid |
Eervol lewe |
4 |
Trou en lojaliteit |
Verwantskap |
5 |
Dissipline |
Selfbeheersing |
6 |
Gasvryheid |
Gasvryheid en vrygewigheid |
7 |
Vlyt |
Vlyt |
8 |
Selfstandigheid |
Matigheid |
9 |
Deursettingsvermoë |
Vriendelikheid en barmhartigheid |
Nege Wêrelde
Vir die ou Germaanse gemeenskap het die heelal uit Nege Wêrelde bestaan. Die Nege Wêrelde is soms verskillend ingedeel. Die mees bekende indeling is die volgende 3 modelle, waarvan model A die mees aanvaarbare model is. Die Nege Wêrelde het uit drie vlakke bestaan naamlik: 1 Hemelryk, 2 Aardryk en 3 Onderwêreld.
Model A
1 |
Asgard |
Vanaheim |
(Lig)Alfheim |
2 |
Jotunheim |
Midgard |
Nidavellir |
3 |
(Nif)Helheim |
Svartalfheim |
Muspelheim |
Model B
1 |
Asgard |
Vanaheim |
(Lig)Alfheim |
2 |
Jotunheim |
Midgard |
Nidavellir |
Svartalfheim |
3 |
(Nif)Helheim |
Ginnungagap |
Muspelheim |
Model C
1 |
Vanaheim |
Asgard |
(Lig)Alfheim |
2 |
Jotunheim |
Nidavellir |
Midgard |
Svartalfheim |
Muspelheim |
Vanaheim: Dit is die rustige en vrugbare wêreld (Hemelryk) van die Waanse Godhede onder gesag van die God Frey.
Asgard of Asaheim: Dit is die wêreld (Hemelryk) van die Ase. Die Asgard bestaan uit groot sale, waarvan die belangrikste die Walhalla is. In hierdie saal word die gestorwe krygers ontvang uit Midgard. Hulle staan onder gesag van Wodan/Odin. Maar ook die Waanse Godin Freya het hier 'n saal bekend as Sessrumnir. Die helfte van die gestorwe krygers word in haar saal opgevang.
(Lig)Alfheim: Ook soms Alfheim genoem en soms ook Ljossalfheim (Ljoss = helder, lig). Dit is die Hemelryk van die Elwe, maar ook die wêreld van die plante, diere en natuurkragte.
Jotunheim: Dit is die wêreld van die Reuse, Gigante of Jotuns. Hierdie wêreld verteenwoordig 'n chaotiese element in die heelal. Meestal word die Reuse as vyande van die mense en Godhede beskou.
Midgard: Dit is die wêreld van die mensdom. Midgard is die Aarde en staan onder gesag van die God Thor/Donar. Midgard word beskou as die sentrum van die heelal, wat alle ander wêrelddele aan mekaar verbind.
Nidavellir: Dit is die wêreld van die Dwerge. Hulle is meesters wat oor die skatte in die Aardse bodem heers, soos goud en ander (edel)metale.
Svartalfheim: Svart = Swart + Alf of Elf + heim of hemel. Dit is die wêreld van die Swartelwe. Hierdie groep Elwe het ook bekend gestaan as Nikkers. Vanuit Nikker het later die woord Neger ontwikkel. Swartelwe was nie as vyande beskou van die mens nie, maar hulle was onvriendelik en moeilik om mee om te gaan.
Helheim of Nifhelheim: Dit is die Onderwêreld of Utgard en staan onder gesag van die Godin Hel. Dit is die Rusoord vir die siele van mense wat 'n natuurlike dood gesterf het. Hierdie wêreld is koud en ysig.
Muspelheim: Dit is die wêreld van die element Vlam of Vuur en vorm die teenpool van Helheim. Hierdie wêreld staan vir warmte en geselligheid, maar ook vir vernietiging en gevaar.
Nerthus
Tacitus skryf dat die Moedergodin Nerthus ‘n baie belangrike Germaanse Godin was. Etimologies gesien is Nerthus verwant aan Njord. Daar is ondersoekers wat meen dat Nerthus en Njord moontlik dieselfde Godheid was (sommige Godhede was tweeslagtig). Daar is ook ondersoekers wat reken dat Nerthus die suster was van Njord en dat Freyr en Freya die kinders was van Nerthus. Nerthus het op ‘n eiland in die Oossee gewoon en het sy soms na die vasteland gekom. Sy sou in ‘n heilige wa gewoon het, wat alleen deur priesters aangeraak was. Nerthus was ‘n Vrugbaarheidsgodin en dus ‘n Wane.

Nidhogg, Nidhogr, Nydhakker
Nidhogg is die draak wat by een van die drie wortels van die wêreldboom Yggdrasil leef. Hy knaag onophoudelik aan een van hierdie wortels. Nidhogg word soms ook as 'n slang gesien. Hy sal die Ragnarok oorleef.

Nikkers
Sommige ondersoekers is van mening dat Nikkers deel vorm van die Elwe (Swartelwe). Sien die bespreking van Elwe hierbo. Ander ondersoekers wys weer daarop dat Nikkers watergeeste is en los staan van Elwe. Nikkers is swart van kleur. Hulle was soms beskou as ongewenste wesens (Duiwelsfiguur), maar soms ook weer wesens met 'n baie hoë aansien (Goddelike figuur). Wodan/Odin is soms Nikarr, Hnikar, Nikus, Hnikarr of Hnikudr genoem. Nikkers is vandag steeds bekend in Friesland, waar hulle in moersasse, mere en waterstrome woon.
Njord
Njord was ‘n Wanegod en vader van Freyr en Freya. Hy het mag gehad oor elemente soos wind, water en vuur. Seevaarders en jagters sou op sy steun kon reken. Ook was hy bekend as die God van welvaart. Die eggenote van Njord was Skadi, maar dit was ‘n ongelukkige huwelik wat op ‘n skeiding geëindig het.
Norne of Skikgodinne
Norne was ook bekend as Skikgodinne of die Drie Wyse Maagde. Die woord Norn kom moontlik van die Indo-europese wortel *(s)ner-, wat draai of wend beteken. Norne is mitologiese wesens wat met spin en weef geassosieer word. Die lotsbestemming van elke God, Reus, Dwerg of mens word bepaal soos spindrade tussen die vingers van die Norne. Hulle het alles geweet, van alle ewigheid tot in alle ewigheid. Hulle name was Urd, Word (of Verdandi) en Skuld. Urd = oerverlede, Word (Verdandi) = hede, en Skuld = wat nog verskuldig is in die toekoms.
Die Norne is afkomstig van die Reuse, naamlik Thursa-Meyjar. Hierdie Meyjar (Meiers) is deur die Jotuns (Reuse) opgevoed en is dus ouer as die Godendom. Daar is ook ondersoekers wat van mening is dat hierdie Norne nie die lot bepaal nie, maar alleen die lot kan uitlê of voorspel. Die lot is alreeds bepaal deur nog ouer Skikgodinne, naamlik deur Orlog, Naudr en Aldr.
Ook by die Ou Grieke het skikgodinne bestaan (Moira of Fate) asook by die Kelte.
Norne
Ork
Middeleeuse skrywers maak vermelding van die bestaan van Orke. Orke is beskou as lelike, afskuwelike, ongewenste en gevreesde wesens. Hulle word soms ook Aardmanne genoem. Soms was hulle klein, maar meestal was hulle so groot soos reuse. Woorde soos orka (walvissoort) en orkaan is afkomstig van die Orke. In Sweeds en Noors staan robbe bekend as Orke. Die Orkney eilande (vroeër Orkadiese eilande) en moontlik ook Urk (Urk was vroeër ook 'n eiland) in Nederland, verwys na die ou Orke.
Orlog
Orlog word in verband gebring met Lot. Orlog word ook beskou as 'n Skikgodin wat nog ouer is as die Norne. Die woord Orlog bestaan uit 'n samestelling waarvan die eerste gedeelte verwys na oer en die laaste gedeelte na wet (log). Die ander twee ouer Skikgodinne was dan Naudr (Nood) en Aldr (Oud). Die woord orlog is verwant aan die woord oorlog en warlock (Eng). Sien ook Norne.
Pan
Sover bekend was Pan nie 'n Germaanse God nie, maar Pan het tog spore getrap in die Germaanse taalgebied, wat die vermoede wek dat Pan bekend was by die ou Germane. Pan was bekend as 'n Griekse God en in Latyn was hy bekend as Faunus en verwant aan die Latynse Godin Fauna. Pan het die betekenis gehad van Alles. Hierdie betekenis is behou in woorde soos Pan-Europese, Panteïsme en Pantheon (tempel vir alle Gode), maar dit is redelik resente leenwoorde. Pan is egter ook herkenbaar in ouer woorde soos paniek die familienaam Panacker/Pijnacker en ook in penning of pennie. Vergelyk die Oudengelse pening of penig die Oudnoorse penningr, die Sweedse pänning, die Oudfriese panning, die Middelduitse pennic en die Oudhoogduitse pfenning. Onseker is of dakpan en braaipan afkomstig sou wees van Pan.
Pan word afgebeeld as 'n God met horings en word veral met diere en landbou (vrugbaarheid) in verband gebring. Die woord fauna (diere) dui hierop. Dit is egter ook moontlik dat Pan verwant kan wees aan Pusan. Sien Puster.
Puster, Pustrich
Puster was moontlik 'n ou Germaanse God van die Vuur. Maar Puster was ook heel moontlik 'n Godin. Aspoestertjie of Aspoester of Assepoester (Ase+Poester) verwys waarskynlik in die rigting van 'n ouer Godin - 'n Liefdesgodin of Vrugbaarheidsgodin. In Nederlands is 'n poes 'n vroulike kat. Katte word ook duidelik geassosieer met liefde en vrugbaarheid. Die Germaanse Godin Freya word met katte geassosieer. Dieselfde geld vir Cybele. Cybele word egter met groot katte (leeus) geassosieer. Ook die Egiptenare het geglo in 'n Katgodin: Bastet. Maar Bastet was vroeër ook bekend as Bast of Pasht. Bast/Pasht is heel moontlik verwant aan die Germaanse pust(er). In Engels verwys pussycat/pussy na 'n sensuele vrou/meisie, maar ook na 'n kat. Ook is Hekse onlosmaaklik met (swart) katte in verband gebring.
Daar bestaan ook 'n baie ou Vediese (Hindoe) God/Godin met die naam Pusan. Hierdie Godheid word veral met vrugbaarheid in verband gebring. Die Chinese ken 'n Godin met die naam Pussa. Pussa word afgebeeld in 'n Lotusboom en sy het 16 arms. Ook in Latyn is daar 'n vergelykbare woord vir vrou, naamlik: pusa en 'n meisie 'n posilla. In Engels het die woord push vroeër ook die betekenis gehad van 'n prostituut, maar die woord het ook gedui op 'n seksuele handeling. In Afrikaans en Nederlands beteken poes vroulike geslagsdele wat weer dui op die verband met vrugbaarheid en liefde.
Terloops die woord cut (Eng) het vroeër die betekenis gehad van vroulike geslagsdele (snit, spleet). Vandag dui die Nederlandse woord kut of kutje steeds op vroulike geslagsdele. Dan is die woorde kuit (viseiers) en cute (Eng) ook verwant aan cut/kut.
Ragnarok
Die Ragnarok is die eindtyd waarin die huidige wêreld vergaan en waarna ‘n Nuwe Wêreld tot stand kom. Sien die Germaanse skeppingsgeskiedenis vir meer besonderhede. Die eerste deel van die samestelling beteken Goddelike, edele, verfynde, of verhewe. Die woord ragna is verwant aan die woorde regent (vors), regeer, reg en rig. Die woord ragna is afkomstig van die Indoeuropese stam*reg- en die Protogermaanse *rekhtaz (vergelyk ook in Oud-Hoogduitse reht, in Duitse recht, in Gotiese raihts, in Latynse rēx en in Sanskrit rājā. Ragna is ook verwant aan rak of rag soos in spinnerak, ragebol of ragfyn. Die tweede gedeelte van Ragnarok is verwant aan rook (skemer) en raak. Tydens die Ragnarok trek die Gode (en mense) onder aanvoering van die Oppergermaanse God Wodan, op teen die Reuse (en ander mitiese wesens) onder aanvoering van die God (Reus) Loki. All Reuse word tydens die Ragnarok verslaan en ook byna alle Gode. Slegs twee mense sal die Rangnarok oorleef en slegs 'n paar jonger Gode.

Retto of Rheda
Tussen Brunstein en Wibrechthausen is 'n berg wat Retberg genoem word. Op hierdie berg sou daar 'n beeld van 'n Suid-Germaanse God/Godin gestaan het met die naam Retto, wat deur Christelike sendelinge vernietig is. Retto was moontlik verwant aan die Saksiese God/Godin Rheda en Hrédha. Moontlik is die naam van hierdie God/Godin verwant aan die voornaam Rita en woorde soos rite en ritueel. Vergelyk ook die Latynse ritus wat godsdienstige seremonie beteken.
Reuse en Reusinne
Die Reuse is 'n baie ou groep Gode, wat stam uit die steentydperk en daarvoor. Met die koms van meer moderner Waanse Gode en Godinne tydens die bronstydperk sou die Reuse in onguns verval. Later (ystertydperk) sou die Ase weer op die toneel verskyn wat rondom ons jaartelling besig was om die Wane te verdring. Hierna verskyn die Christendom op die toneel.
Die Reuse en Reusinne vorm egter ‘n belangrike mitologiese groep. Hulle is nou verwant aan die Gode, maar later sou hulle tot ‘n vyandige mag uitgegroei het wat die mensdom en die Gode sou bedreig. Baie Gode sou huwelike met Reuse aangaan. Al vroeg in die skepping kom daar ‘n vyandskap tussen die Gode (Wodan/Odin, Vili en Vé) en die Oerreus of Ysreus Ymer, wanneer hierdie drie broers Ymer doodmaak. Hierna sou alle Reuse verdrink het in die bloed van Ymer behalwe die Reus Bergelmir en sy familie wat die stamouers sou word van die nuwe Reuse.
Behalwe Reuse met een kop beskryf die Edda ook Reuse met drie, ses en selfs nege koppe. Daar was ook verskillende groepe Reuse, naamlik die Jötuns of Eone, die Risi of Bergrisi (Bergreuse), die Trolle (Drolle), die Trollkona (Reusinne) en die Thurse (verwant aan Dors). Die oudste Reuse het bekend gestaan as Oerreuse, Rypreuse of Ysreuse. Die Trolle was met groot afkeer bejeen. Onder die Grieke het die Reuse bekend gestaan as Titane.
Tydens die Ragnarok word alle Reuse en Reusinne verslaan, maar ook byna alle Gode.
In Europa vorm Reuse en Reusinne steeds 'n belangrike onderdeel van talle volksfeeste.
Rhea
Rhea was nie 'n Germaanse Godin nie, maar 'n Griekse Godin. Tog blyk dat hierdie Godin spore gelaat het in die Germaanse mitologie. Rhea moes 'n baie ou Godin gewees het, want sy word ook beskou as 'n Reusin. Daarbenewens word sy beskou as 'n Moedergodin (ook moeder van Gode en Godinne) en ook 'n Magna Mater (Magtige Moeder). Sy sou ook bekend gestaan het as Magna Rhea wat sou lei tot die voornaam/titel Maria. Dit is ook bekend dat Elwe bekend gestaan het as Mare, Mara, Mari of Marie. Verder is die woord Mare ook verwant aan marry (Eng) en merrie, maar ook aan meisie. Sien Nagmerrie.
In die Germaanse taalgebied het die woord Mare 'n verhewe betekenis gehad wat 'n verwantskap met 'n Godin bevestig. Voëlent is onder andere ook 'n Maretak genoem en dit was as heilig beskou.
Rind, Rinda of Rinna
Daar is baie min bekend van hierdie Godin, behalwe dat sy ‘n seun (van Wodan/Odin) gehad het met die naam Vali. Rind was ‘n Asin en haar vader het Billing geheet. Rind simboliseer die ontdooiing van die natuur na die winter. Hieronder was Wodan/Odin in die gedaante van Vecha haar bevrore voete.

Ryn, Rin, Rein of Rheno
Aan die Ryn(rivier) is verskillende altare ontdek waarop die naam Rheno staan wat dui op die verering van die Ryn. Rheno was nie alleen aan die Ryn verbonde nie, maar aan alle waterbronne, waterstrome en water in die algemeen. Woorde soos reën en rein en familiename soos van Rensburg of van Rhenen is verwant aan Rheno of Ryn(rivier).
Saga
Saga is 'n belangrike Asin. Sy woon in 'n kristalpaleis met die naam Sokkvabekkr. Sy word beskou as die Godin van die geskiedenis en die vertelkuns wat die verlede, hede en toekoms kon besing. Sy was 'n dogter van Wodan/Odin en kon uit die hoë toring van haar paleis die hele wêreld sien.
Saxnoot, Saxnôt, Saxneat of Sahsginot (Genoot of kameraad van die Sakse).
Van hierdie God is net die naam bekend. Dit is moontlik dat hy alleen in Sakse bekend was, maar hy was ongetwyfeld ‘n belangrike Suidgermaanse God, want hy word saam met Wodan/Odin en Donar/Thor genoem in die Utrechtse Doopbelofte. Sy naam verskyn ook in Oudengelse bronne. Hy was die voorvader van enkele Engelse koningsgeslagte (Seaxnet). Oudkoningsgeslagte het die name van Gode opgeneem in hulle geslagsregisters om aan te dui dat hulle van hierdie Gode afstam.

Seidkona of Spakona(r)
Sommige ondersoekers maak 'n ondersekeid tussen Seidkonas en Veledas (of Volva's). Andere is weer van mening dat hulle tot een groep behoort. Seidkona is 'n samestelling waavan die eerste gedeelte verwant is aan die woord sê, waarsê of waarsêery. Sedr of sejd is 'n woord wat dui op die beoefening van magie. Die tweede gedeelte van seidkona verwys na 'n baie ou woord vir vrou: kona. Kona is verwant aan queen (Eng). Vergelyk ook die Oudengelse cwen, die Griekse gyné en die Armeense kin. Seidkona beteken letterlik Sêvrou. Seidkona's het hulle besig gehou met magie en towerkuns, waar Veledas of Volva's hulle besig gehou het met profesie en voorspellings. Die woord sejd is ook sinoniem vir 'n profesie, hetsy van 'n seidkona, hetsy van 'n Volva. 'n Spakona is 'n spreekvrou.

Sif of Siba
Sif is die eggenote van die God Donar/Thor. Sif en Donar/Thor het ‘n dogter gehad met die naam Trud. Sif is ook die moeder van die God Ull. Sy het pragtige lang hare gehad. Op ‘n dag sou Loki van haar hare afgeknip het. Op aandrang van Donar/Thor het Loki na die Dwerge gegaan waar hy vir Sif hare uit goud laat maak het. Sif was volgens sommige ondersoekers 'n Germaanse Godin. Die woorde sewe sieben (Duits), sif en sibbe (Eng sibling) is verwant aan die naam van hierdie Godin. Die Suid-Germane het ook 'n Godin geken met die naam Siba, Sieba of Siva. Hierdie Siba was beskou as 'n Liefdesgodin en verwant aan die Noord-Germaanse Sif.

Skadi
Skadi is die dogter van die Reus Thjasi (of Thiassi) en sy was die vrou van die God Njord. Sy is die moeder van Freyr en Freya. Die huwelik tussen Njord en Skadi was nie suksesvol nie. Skadi het uit die berge gekom en Njord van die see. Hulle het ‘n ooreenkoms gesluit waarvolgens hulle om die beurt nege nagte in die berge sou woon en dan weer nege nagte by die see. Uiteindelik het dit ook nie gewerk nie. Tog het Skadi ‘n belangrike rol vervul in die Germaanse religie. Haar naam kom moontlik van die Oudgermaanse *skeða. Woorde soos skei, skade, skede, skadu, sky (Eng) en ook Skandinawië word verbind met hierdie Godin.
Skalde
Skalde was (rondtrekkende) digters, sangers en toneelspelers. Hierdie kunstenaars het ook bekend gestaan as Barde (Barde word egter dikwels as 'n Keltiese fenomeen beskou). Woorde verwant aan Barde is Longobarde of Lombaarde (Germaanse stam wat verhuis het na die Noorde van Italië en verromaans het), maar ook die woord baard en voorname soos Bard, Bert, Berth en Bertha. Die belangrikste doel van die Skalde en Barde was om die volkskuns, geskiedenis en religie te handhaaf en uit te bou. Skalde word ook beskou as Sieners en Sieneresse.
Skatte
Die ou Germane het geglo dat daar op sommige plekke in die aarde skatte was. Hierdie geloof in die bestaan van skatte was egter nie alleen tot die Germane beperk nie, maar talle antieke volkere het daarin geglo. Van hierdie skatte sou deur mitiese figure bewaak word. Alleen hierdie figure sou ook geweet het waar die skatte begrawe is. Volksverhale is deurspek met temas wat handel oor skatte (wat iewers begrawe is).
Skuld
Skuld is 'n Skikgodin. Sien Norne.
Sol, Sól, Sunna of Sigel en Mani of Máni
Sol (of Sunna) en Mani was kinders van Mundilfoeri. Hierdie kinders was so mooi dat die seun Mani genoem was en die meisie Sol. Hieroor was die Gode so kwaad dat Sol en Mani aan die hemel geplaas was. Sol moes die Sonwa ry en Mani moes die loop van maan volg. Mani sou twee aardse kinders saamgeneem het met die name Bil en Hjuki (Jack and Jill in die Engelse volksverhaal) om uit ‘n put (bron) water te gaan haal met emmers. Sol en Mani word agterna gesit deur wolwe. Die wolf Sköll sit die Son agterna en die wolf Hati hrodvitnisson sit die Maan agterna. As Ragnarok aanbreek sal hulle die Son en die Maan verslind. Na Ragnarok sal die Nuwe Aarde verlig word deur ‘n Nuwe Son, wat ‘n dogter is van die Ou Son.
Sol of Sunna was getroud met ‘n onbekende Glen en sy was ‘n Asin. Mani was ‘n Reus.
Hierdie verhaal wyk af van ‘n ander verhaal wat oor die Skepping vertel word. Daar word beweer dat die Son, Maan en Sterre in die Oertyd geskape was met die dood van Ymer.
Uit talle verhale blyk dat die Son en die Maan al in die vroegste tye vereer was deur die Germane. Die Son was beskou as die Skepper van elke greintjie lewe. Mettertyd sou die Son en die Maan egter meer na die agtergrond verskuif het. Die Gode wat hulle plekke ingeneem het, was as Son- of Maangode beskou: Wodan/Odin, Tiwas, Donar/Thor, Freya, ens.
Die Germaanse Godin Sunna is een van die oudste en belangrikste Godinne. Die Duitse grammatikale geslag van die woord Sonne is immers vroulik. Ook in die Japanse Shintoïsme (verwant aan die Germaanse religie) word die Son as 'n Godin beskou asook die Baltiese Saule. Sondag is na Sunna vernoem en Maandag na Mani.
Stavo of Stuffo
Stavo was 'n Germaanse God en in Friesland selfs 'n hoofgod. In die Friesse stad Stavoren wat na Stavo vernoem is, het 'n tempel gestaan met 'n beeld van Stavo daarin. Stavoren is een van die oudste stede van Friesland en het al bestaan voor die koms van die Romeine na die gebied. Stavo is ook bekend onder die naam Stuffo wat in Duitsland bekend was. Daar bestaan vandag nog 'n aantal Stuffenberge in Duitsland. Woorde soos stof, staf (simbool vir mag en magie) en staaf is verwant aan Stavo en Stuffo, maar ook voorname soos Gustaf (God Stavo/Goddelike staf), Stoffel, Christoffel/Christopher (wisseleling -s en -r in auslaut van Germaanse woorde) en moontlik ook Steven. Nog plekname verwant aan Stavo/Stuffo is Stoffenheim, Steveren, Stavenisse en Stoufenborch.
Die staafkerke wat veral in die Noorde van Europa gebou is tydens die aanvaarding van die Christendom, is juis geskoei op die boustyl van die ou Germaanse tempels. Van hierdie staafkerke was moontlik vroeër Germaanse tempels. By sommige van hierdie staafkerke is aanduidings dat hulle bo-oor ouer geboue gebou is wat ongetwyfeld die reste van Germaanse tempels is. Daar word beweer dat die staafkerk sy naam te danke het aan die stawe/pale waarop die gebou staan. Dit is egter onwaar. Die staaf in die staafkerke verwys moontlik na die God Stavo. Ander geboue op pale/stawe het immers nooit bekend gestaan as staafhuis/staafgeboue nie. Daarbenewens was die staaf (paal, boomstam of totempaal) vereer. Vergelyk ook die belangrikheid van 'n staf in die hand van 'n Vors, Heks of Godheid.
By 'n hedendaagse Christelike begrafnis gebruik die voorganger die volgende woorde: Van God is jy en tot God keer jy terug. Ook die volgende is bekend: God het gegee en God het geneem. Maar ook die volgende woorde is bekend: Stof is jy en tot stof sal jy terugkeer. In Nederlands: Stof zijt gij en tot stof zult gij wederkeren. In Engels: Ashes to ashes. Die volgende woorde is egter ongebruiklik: Grond/sand is jy en tot grond/sand sal jy terugkeer. In die laaste sin word klem gelê op die stoflike aspek terwyl die klem tydens die begrafnis juis val op die geestelike aspek en die heropstanding van die liggaam. Beide die woorde stof en as verwys egter na die ou Germaanse Gode. Die oorspronklike sinne by die teraardebestelling het egter as volg gelui: Van Stavo is jy en tot Stavo sal jy terugkeer. Asook: Van die Ase is jy en tot die Ase sal jy terugkeer.
Surt, Surtr, Surtur of Surthr
Surt was ‘n Reus wat bestaan het voor die koms van die Gode en voor die koms van die Rypreuse of Oerreuse. Eintlik is dit nie duidelik of hy ‘n Reus was nie, want dit word nêrens vermeld nie. Surt is bekend weens sy vlammende swaard (Surtalogi). Verder weet ons dat hy 'n poortwagter was en dat hy uit die Suide kom. Surt word beskou as 'n vyand van die Gode. Hy heers oor Vuur. In die Raganrok is sy teëstander Freyr. Aan die einde van die Ragnarok, wanneer die grootste slag gelewer is, sal Surt vuur oor die aarde slinger en alles verbrand. Dit word die eindbrand of Suta(r)-logi genoem. Van die woord Surt ken ons vandag die woorde swart, swaard, Saturnus en Saterdag. Surt is egter ook verwant aan Satyr, 'n figuur uit die Griekse mitologie en ook aan Saturnus, die Latynse Landbougod en die Saturnalia. Die vrou van Surt was Sinmara of Sinmore (mara of more is verwant aan merrie en meisie).
Volgens sommige bronne oorleef Surt die Ragnarok, maar volgens ander bronne word hy deur Freyr gedood.
In Ysland is Surt steeds baie bekend en word hy steeds met vuur geassosieer. In 1963 het ‘n nuwe eiland ontstaan as gevolg van ‘n nuwe vulkaanuitbarsting. Hierdie nuwe eiland word vandag Surtsey (Surtse eiland) genoem. In Ysland is ook 'n holte of helling in die lawa van Borgarfjord met die naam Surtshellir.
Tempels
Die Romeinse skrywer Tacitus was van mening dat die Germane nie tempels gehad het nie, en dat die Germaanse 'temples' heilige woude was en ook heilige bome. Wat Tacitus geskryf het was nie volledig korrek nie. Die Germane het ook geboude temples gehad waarin Gode en Godinne gestaan het.
Thrymr
Thrymer is 'n Reus en hy woon in Trymheimr. Thrymr was egter voorheen 'n Dondergod of Onweersgod. Hy is later vervang deur die Dondergod Donar/Thor. Thrymr sou die hamer van Donar/Thor gesteel het. Loki het uitgevind dat Thrymr die dief was en is daar 'n plan beraam om die hamer terug te kry. Daar is aan Thrymr beloof dat hy Freya as vrou mag kry in ruil vir die hamer. Hierna sou Donar/Thor hom as 'n vrou (Freya) verklee. Loki sou die bruid Donar/Thor (geklee as Freya) na Thrymr bring. Tydens die huweliksplegtigheid word die hamer van Donar/Thor op die skoot gelê van die bruid (hierdie seremonie was bekend by alle Germaanse huwelike). Donar/Thor sou vervolgens die hamer gegryp het en die skedel van Thrymr daarmee verbrysel het.
Tiwas/Tiu/Ziu,Týr/Tys/Dis/Tuisco of Mars Thingsus
Tiwas was die Germaanse Hemel- en Krygsgod, maar ook 'n Regsgod en beskermer van die volksvergadering (Ding). Hy was vroeër ‘n baie gewilde God, maar rondom ons jaartelling het sy glans begin vervaag.
Die Proto-Germaanse *tiwisko (Tuisco) beteken: kind van Tiwas/Tiu en is verwant aan die eweneens Proto-Germaanse *tiwaz. Tuisco is ook verwant aan die Proto-Indo-Europese Hemelgod *dyeus.
Die woord Tiwas/Tiu beteken reeds God. In Grieks word die Christelike God Theos genoem, verwant aan Tiwas. Die naam Tiwas/Tiu is baie oud en kom voor in baie Indo-Europese tale: Dyaus (Oud-Indies), Zeus (Grieks), Jup-piter (Latyn), Deva (Oud-Indies) en Dia (Oud-Iers).
Onder Romeinse invloed staan Tiwas ook bekend as Mars Thingsus. Maar Thingsus verwys na die ou vergaderplekke (waar ook regsittings gehou was) en bekend gestaan het as Thing of Ding, van Oudgermaans *þingsaz, in Longobardies Thinx en in Oudnoors Thing. Die volksvergadering of volksraad is later ook 'n Ding genoem. Dit is egter ook moontlik dat die God Ing 'n rol gespeel het in die etimologie van die woord Ding. Dit is selfs ook moontlik dat daar 'n versmelting was tussen die Gode Tiwas en Ing, vandaar Ding.
Sommige ondersoekers is van mening dat die woord Ding 'n rol gespeel het by die etimologie van Dinsdag, terwyl andere dit weerlê. In Nederlands en Duits kom daar 'n -n- voor in Dinsdag wat in die ander Germaanse tale afwesig is. Vergelyk Oudfries Tysdei, Tiesdei, Tyesdei en Tirsdei, maar in Oudvlaams Dyssendach of Disendach.
Tiwas was 'n baie ou Godheid. Die woord Dis is ook verwant aan Tiwas. Disse is naamlik Goddelike vroulike wesens. Voorts is die woord Duiwel ook verwant aan Tiwas. Duiwel is in Oudhoogduits tiuval, in Oudfries diôvel, in Oudengels dêofol, in Latyn diabolus en in Grieks diabolos.
Die stier/bul is aan Tiwas geoffer.
Thjassi, Thiassi of Thjasi
Thjassi was 'n bekende Reus. Hy was die seun van Olwaldr (Allwaldr). Hy het twee broers gehad met die name Idi en Gangr. Thjassi het ook 'n dogter gehad met die naam Skadi. Thjassi was bekend daarvoor dat hy die Godin Idun en haar appels (wat ewige jeug waarborg) ontvoer/geroof het. Dit was eintlik alles die skuld van Loki. Thjassi het Loki ontvoer en Loki het gepleit vir sy eie vrylating. Vir sy vrylating sou Loki sorg dat Thjassi vir Idun en haar appels bekom.
Hieroor was die Gode woedend, want hulle het begin ouer word, omdat hulle nie meer appels van Idun kon eet om hulle jonk te hou nie. Wodan/Odin het Loki beveel om Idun en haar appels terug te besorg aan die Asegard. Loki sou homself in die gedaante van 'n valk verander om sodoende Idun en haar appels terug te roof van Thjassi. Loki slaag daarin, maar hy word agtervolg deur Thjassi wat homself weer in 'n adelaar verander het. Idun en haar appels word in Asegard afgelewer, maar Thjassi se vlerke vat vlam in die vuur wat die Gode op die mure van die Asegard gemaak het om Thjassi te verwilder. Thjassi het verbrand en gesterf waarna Wodan/Odin die oë van Thjassi gegryp het en dit in die hemelruim geslinger het. Volgens ander bronne het Donar/Thor Thjassi vermoor en sy oë in die hemelruim gewerp. Die oë van Thjassi het in sterre verander. Vanuit die hemel kyk Thjassi steeds neer op alle wêrelde. Skadi sou die Gode om vergoeding gevra het vir die dood van haar vader, waarna sy in die Asegard 'n woonplek gekry het as vergoeding.
Ullr, Ull, Holler, Oller, Uller, Vulder of Wulder
Holler of Ullr was die God van die dood, maar ook die God van die Winter en die God van die jag. Hy kon baie goed met 'n pyl en boog skiet. Ook kon hy baie goed ski. In sommige sterke was hy selfs as die Hoofgod vereer. Tog was hy 'n baie ou Godheid en moontlik ook verwant aan Vrou Holle. In Friesland was hy 'n baie bekende God onder die naam Holler.
Urd
Urd is 'n Skikgodin. Haar naam is verwant aan die woord oer. Sien Norne.
Vali, Ali
Vali is die seun van Wodan/Odin en Rind. Hy is ‘n dapper God en ‘n baie goeie boogskutter. Hy neem wraak op die moordenaar van Balder, naamlik Hoder deur Hoder te vermoor. Dit is eintlik vreemd, want Hoder was blind en die eintlike moordenaar is Loki. (Loki het ook 'n seun gehad met die naam Vali, waaroor weinig bekend is).
Vali oorleef die Ragnarok en sal deel vorm van die Nuwe Wereld of Nuwe Aarde. Alhoewel Balder en Hoder dood is tydens die Raganrok, sal alleen hulle twee (tragiese figure) uit die dood opstaan en deel hê aan die Nuwe Wereld.
Die naam van Vali kom moontlik van die Oudgermaanse *wanilo, wat klein Waan beteken. Tog was Vali nie ‘n Wane nie, maar ‘n Ase.
Valknot of Valknut
In die Germaanse religie is die Valknot 'n besondere simbool en word dikwels aangetref op gebeitelde gedenkstene in Skandinawië. Die Valknot word veral as simbool beskou van Wodan/Odin, maar ook as simbool van die hedendaagse Asatru. Die Valknot word tewens ook as krygssimbool beskou. Omdat die Valknot 9 sye vorm, staan dit simbool vir die 9 Wêrelde en die 9 Edele Deugde. Woorde soos knot (Eng), Knoten (Duits), knoop en knoets is verwant aan die Valknot. Die Valknot is verwant aan die Keltiese triquetra en die goddelike drie-eenheidsbeginsel wat in talle godsdienste voorkom.
Die Valknot staan ook bekend as die:- Hart van de gesneuvelde kryger
- Hart van die Volva of Wolwa
- Hrungnir's hart. Hrungnir was 'n mitiese Reus
- Odin/Wodan se knoop
- Odin/Wodan se ster
|
|
Vanatru
Vanatru is 'n moderne naam en staan vir 'Trou aan die Wane'. Die ondersteuners van Vanatru probeer om die ou Germaanse godsdiens te rekonstrueer. Die aanhang van Vanatru is egter baie kleiner as die van Asatru.
Vanaheim
Vanaheim is die woonplek van die Wane (Vrugbaarheidsgode). Vanaheim is een van die drie Hemelryke. Die 3 Hemerryke is Asgard, Vanaheim en Alfheim. Sien Nege Wêrelde.
Vár
Vár is 'n Asin. Haar naam is verwant aan die woord waar of waarheid. Sy het veral 'n rol gespeel in die handhawing van ooreenkomste (tussen man en vrou). Hierdie ooreenkomste is met 'n eed verseël. Vár sou help om die eed te handhaaf (Waarborg). In die latere Christendom sou ook haar naam 'n belangrike rol speel in die religieuse belewing van die Christene. Vergelyk die betekeniswaarde van woorde soos Waarheid en Waaragtig in die Christelike leer. Die woord Waaragtig was (veral) voorheen met groot omsigtigheid uitgespreek en het die woord 'n besondere verhewe betekeniswaarde geken. Hierdie verhewenheid stam uit 'n voor-Christelike verlede.
Volva, Veleda, Völva of Wolwa
In die ou Germaanse maatskappy het sieneresse ‘n baie belangrike rol gespeel. Hierdie vroue is as mitiese wesens beskou wat beheer gehad het oor bonatuurlike kragte. Hulle was heldersiende en het oor profetiese gawes beskik. Daar word in talle sages vertel van hoë platforms wat vir hierdie sieneresse ingerig was sodat hulle beter kontak kon maak met die bonatuurlike wêreld. Hierdie sieneresse het hoë aansien onder die bevolking gehad en baie van hulle is later selfs as Godinne vereer. Veleda is ‘n voorbeeld van so ‘n sieneres wat die sukses van die Bataafse opstand in 69 nC voorspel het. Sy het later so heilig geword, dat niemand haar meer kon sien nie en het sy permanent in ‘n hoë toring geleef, waar sy later as ‘n Godin vereer was.
Baie van hierdie sieneresse het as eregaste van huis tot huis gegaan om vir mense en gemeenskappe die toekoms te voorspel, advies te gee oor talle sake, huweliksvooruitsigte te bepaal en opbrengs van die volgende oes te beraam. Voor die aanvang van die voorspelling het die sieners op 'n hoë stoel (1,5 tot 2 meter hoog) gaan sit en in 'n soort trance eers 'n aantal spreuke opgesê. Hierna kon die huisbewoners vrae aan haar stel. Sy het altyd 'n koperstaf by haar gedra.
In die Germaanse geskiedenis is daar talle voorbeelde van sulke sieneresse, byvoorbeeld: Albruna, Waluburg, Ganna en Völva. Van hierdie name kan herlei word na die Oudgermaanse *waluz (towerstaf) en ander name weer van gandr wat ook towerstaf beteken. Die gedig uit die Germaanse Edda met die naam Völuspá (voorspelling van die sieneres) vertel meer oor die Volva of Wolwa. Die bekende merk Volvo is afgelei van Volva, asook die woord vulva. Veleda is 'n Keltiese benaming en Volva 'n Germaanse benaming vir dieselfde groep vroue.
Die woord Wolf word ook verbind met die Volva of Wolwa. Dit is bekend dat hierdie groep vroue (ook bekend as Hekse) nie alleen op besems kon ry nie, maar ook snags op die rûe van Wolwe gery het. Die ou Germane het geglo dat die Wolf(hond) 'n medium was waarmee 'n mens toegang tot die Ander Wêreld (hiernamaals) kon kry. Daar is dus 'n logiese verband tussen die Sieneres en die Wolf. Die Wolf was beskou as 'n baie slim dier. Om hierdie rede het Wodan/Odin nie alleen twee kraaie gehad om hom van inligting, kennis en wysheid te help voorsien nie, maar ook twee Wolwe. Vir die ou Germane was die Wolf 'n mitiese dier. Hy kom immers in talle 'sprokies' voor. Maar hy is ook 'n gevaarlike dier wat dreig om die Son en die Maan te verslind. Sien ook Fenrir.

Vidar
Vidar was die seun van Wodan/Odin en die Reusin Grid. Vidar is beskou as ‘n ‘magtige’ seun van Wodan/Odin. Vidar sou wraak neem op die moordenaar van Wodan/Odin tydens die Ragnarok. Tydens die Ragnarok sou Wodan/Odin deur die Bose Wolf Fenrir verslind word. Vidar gaan met sy groot skoen in die bek van Fenrir staan, waarna hy die bek van Fenrir met sy hande oopskeur en Fenrir sterf.
Vidar oorleef die Ragarok en vorm deel van die Nuwe Wêreld.
Walhalla, Valhöll
Dit is die saal van Wodan/Odin. Gevalle krygers gaan na die Walhalla (hemel), want op hulle wag ‘n hoër doel, naamlik om saam met die Gode onder leiding van Wodan/Odin te veg tydens die Ragnarok. Wanneer die krygers in Walhalla aankom, sal hulle van dan af bekend staan as Einheri’s (elite-soldate) onder hulle leier Wodan/Odin of Herjann (aanvoerder).

Walkure, Valkyrja of Valkyrië
Die term Walkure word verskillend geïnterpreteer. Soms was Walkure gesien as vroulike stryders. Meestal was hulle gesien as bonatuurlike vroulike wesens, wat nie regstreeks aan die geveg deelgeneem het nie. Hulle het soos roofvoëls (valke in die vorm van wolke) bo die slagveld gehang, waar hulle sou aanwys wie moes sterf en wie nie. In hierdie opsig was hulle beskou as doodsgodinne, wat soms al voor die styd aanwesig was op die slagveld. Hulle was dienaars van Wodan/Odin wat die gevalle styders na die Walhalla moes neem. In die Walhalla sou hulle die Eiheri’s van voedsel en drank voorsien (kelnerinne).
Die woord Walkure is ‘n samestelling waarvan die eerste deel dui op val of gevalle stryder en die tweede deel dui op keur of kies. Sommige Walkure het name gehad en hierdie name het ook weer op ‘n stryd gedui, byvoorbeeld: Gunn (stryd), Hild (geveg), Göndul (stafdraer), Geirskögul (spiesswaaier), Sigrdrifa (oorwinningsdrif), Brynhild (harnas+stryd) en Skögul (skildswaaier).
Wane
Naas die groter groep Gode bekend as die Ase, was daar nog ‘n kleiner groep Gode bekend as die Wane. Die Gode Freyr en Njord en die Godinne Freya en Nerthus was byvoorbeeld Wane. Hulle was Vrugbaarheidsgode (en Godinne) in die ruimste sin van die woord. Die woord Wane is verwant aan die Duitse woord wonne wat saligheid of genot beteken. Die Wane is egter 'n ouer groep Gode as die Ase. Die oudste groep Gode, naamlik die Reuse en Reusinne, stam uit die steentyd. Hierna volg die Wane (bronstyd), dan die Ase (ystertyd) en hierna die Christendom. In die Germaanse religieuse geskiedenis vergestalt die Wane die kultus van die Moedergodinne/Vrugbaarheidsgodinne. Met die koms van die Ase tree meer manlike Godhede op die voorgrond.
Die stryd (of oorlog) tussen die Wane en die Ase word in die Germaanse mitologie as 'n hoogtepunt in die geskiedenis beskou. Die tweestryd was egter onbeslis en die partye het vrede gemaak. Hierdie oorlog word die 'eerste oorlog in die wêreld' genoem.

Ward, Warn
Ward was waarskynlik 'n baie ou Godheid. Maar Ward is etimologies ook verwant aan twee Skikgodinne naamlik Urd en Word (Verdandi). In Nederland is ook gedenkstene gevind met die naam WARD in rune skrif daarop uitgebeitel. Die woord Ward is egter ook verwant aan die woord Garde. Vergelyk Oudfries wardia, Middelduitse waerden en Oud-Hoogduitse warten asook die Franse garder, Italiaanse guardare en Spaanse guardar. Hierdie woorde beteken: beskermer, oppasser, wagter of bewaker. Die woorde is afkomstig van die Prote-Germaanse *warth en die Proto-Indoeuropese wortel *wer-.
Die woord Ward is voorts verwant aan die woord gard(en) (hemel), aan reward (Eng) en (lug)waardin. Daarbenewens is Ward ook verwant aan Bart of Bard. Ward is 'n bekende voornaam en familienaam.
Ward word ook verbind met Wyrd en Wêreld. Wyrd word beskou as 'n lewensfilosofie.
Warn (ook afkomstig van die Proto-Indoeuropese wortel *wer) word ook as 'n Godheid beskou. Verwant aan Warn is die woord warn(ing) (Eng). Sommige ondersoekers is van mening dat Warn eintlik maar Odin/Wodan was. In Oudfries is byvoorbeeld die volgende aangeteken vir Woensdag: Woernisdaghe, Wernisdei, Wernsdei, Wersdey, Werrendei, Werndey en Warrensdei.
Weerwolf
Vandag ken die begrip Weerwolf 'n negatiewe betekeniswaarde. Die woord weer dui op mens. Daar is vroeër geglo dat sommige mense instaat was om hulself tydelik in wolwe/honde te verander (gedaante verwisseling). Op hierdie manier kry die Weerwolf insig in die 'ander wêreld' of die hiernamaals. Aan die wolf is bonatuurlike kragte toegeken. Die wolf was die skakel tussen die mens en die 'ander wêreld'. Met die koms van die Christendom word die Weerwolf egter in verband gebring met allerlei gruwels.
Wêreld
Die woord Wêreld is 'n samestelling waarvan die eerste gedeelte afkomstig is van die Indo-Europese wortel *wer. Die woord Wer het mens beteken. Die tweede gedeelte van die woord Wêreld beteken oud: eld/alt/old. Die Weerwolf (menswolf) is verwant aan die woord Wêreld. Die woord Wêreld het vroeër gedui op die bestaan van die mens in Midgard. Sien ook Ward.
Wit Wywe, Wit Juffers of Wit Vroue
Dit was pragtige vroue in wit geklee. Wit Wywe was egter spookfigure of geestelike figure. Hulle het tydig en ontydig op die platteland aan mense verskyn en vir die nodige onrus gesorg. Wit wywe het meestal in heuwels geskuil en het ook meestal in drieë verskyn, maar die altyd nie.
Wodan/Odin, Wuodan, Wotan, Wothan, Wêda, Godan, Gwodan of Guodan
Wodan/Odin/Godan was ‘n gevreesde God – die Woedende of Woeste God. Die naam Wodan is afkomstig van die Oudgermaanse *wōdana of *Watanaz (Wetende) en die Protogermaanse *Wōđinaz, *Wōđanaz of *Wod-enaz. In Goties is hy bekend as Wōds, in Oudnoors Óðr, in Oudhoogduits Wotan, in Longobardies Godan, in Oudengels Wēden en Oudsaksies Woden.
Hy was die Oppergod van die Germane en daar is met ontsag oor hom gepraat. Vir Wodan/Odin was kennis mag en het hy voordurend gesoek en gestreef na Kennis en Waarheid. Vir hierdie drang na kennis moes hy 'n oog afstaan aan die dwerg Mimir om uit die Bron van Wysheid te kon drink. Wodan/Odin sou ook 9 dae lank aan die Wêreldboom Yggdrasill gehang het as 'n self-offer vir die verkryging van die Geheim van Kennis. Hy sou homself ook met 'n spies gesteek het terwyl hy aan die boom gehang het (selfkastyding). Wodan/Odin is ook Alvader (Almagtige Vader) genoem omdat hy alwetend was en die hele wêreld vanuit die Asgaard kon sien.
Die vrou van Wodan/Odin was Frigg, maar hy het ook ander minnaresse gehad. By Jörd (Aarde) het hy Donar/Thor verwek en by Rind het hy Vidar en Vali verwek.
Wodan/Odin word ook aan die volgende herken: Hy was fors gebou met ‘n lang wit baard en een oog. Hy was geklee in ‘n lang mantel en het ‘n hoed gedra. Hy het ‘n spies (Gungnir), ‘n mantel, ‘n slaprandhoed en ‘n ring (Draupnir). Vanaf hierdie ring drup daar elke negende nag, agt goue ringe af. Hierdie 8 goue ringe staan simbool vir die volgende 8 dae, waarna weer 'n heilige nag aanbreek. Die ou Germaanse week het uit 9 nagte bestaan. Wodan/Odin het twee kraaie (Huginn en Munnin) wat vir hom nuus bring. Sleipnir is sy agtbenige perd waarmee hy soos 'n stormwind deur die lug kan vlieg. Freki en Geri is Wodan/Odin se twee wolwe wat hom op die slagveld begelei.
Volgens die mitologie stam Wodan/Odin uit die ystydperk. In hierdie tyd lek die oerkoei Audumla die reus Búri vry uit die ys. Hierdie Búri is die stamvader van alle Gode. Uit Búri het Borr gekom en hy en die vroulike reus Bestla kry drie seuns: Odin/Wodan/Vodan, Vili en Vé. Dit was die eerste Gode. Hulle het die eerste mense geskape, nl. Ask en Embla. Talle Germaanse koningsgeslagte (byvoorbeeld Volsung) het vroeër beweer dat hulle van Wodan/Odin afstam.
Wodan/Odin berei homself voor vir die einde van die wêreld: Ragnarok. Krygers wat tydens hulle aardse lewe in die stryd gesterf het, word in die Einherier (elitekorps) opgeneem. Hierdie Einheri’s oefen elke dag. Wanneer die einde van die wêreld kom, sal hierdie leër saam met die Gode veg teen duistere magte onder leiding van Loki. In die Ragnarok kom Wodan/Odin te staan teen Fenrir, die Bose Wolf. Wodan/Odin verloor egter hierdie tweestryd, maar die dapper seun van Wodan/Odin, Vanir, neem wraak deur Fenrir dood te maak.
Wodan/Odin is beskou as die God van wysheid, oorlog, dood, poësie en magie. Onder sy invloed het die krygers voor die aanvang van die stryd in ‘n soort “trance” of ekstase gaan. Dit is ‘n soort woede-aanval wat die Romeine nie geken het nie. Daar word twee groepe onderskei, nl. Die Beermanne (Beserker) en die Wolfmanne (Ulfhadnar).
Ondersoekers wys daarop dat Wodan/Odin moontlik van Slawiese afkoms kan wees. Die Russiese woord vir die Afrikaanse telwoord een, is immers ook Odin! Daarbenewens was Wodan/Odin onder die Germane nie 'n baie ou Godheid nie. Wodan/Odin bereik die toppunt van sy populariteit onder die Germane in die 8ste eeu n.C.
Woensdag is na hierdie God vernoem. Dit blyk ook verder dat die Germaanse woord God verwant is aan Wodan/Odin. In België is soms na Woensdag verwys as Goensdag of Goensdagh, maar ook Guesdesdach en Guesdach. In Duitsland het Woensdag ook bekend gestaan as Godenstag, Gonstag, Gannstag, Gunstag, Gudestag en Gudenstag.
Perde is as offerdiere aan Wodan/Odin geoffer.

Word of Verdandi
Word is 'n Skikgodin. Sien Norne.
Yggdrasil
Die Yggdrasil was ‘n Es of ‘n Eik en het ‘n sentrale rol gespeel in die Germaanse religie. Hierdie lewensboom (Boom van Kennis) word egter in die Eddas op verskillende maniere beskryf wat daarop dui dat hy ‘n baie ou verlede het. Hy sou in die middel van Asegard staan, maar soms ook in Utgard. Die Yggdrasil was die grootste boom wat bestaan het. Sy takke hang in al nege wêrelde. Die boom het drie hoofwortels: Die eerste reik tot in Reuseland Jotunheim, by die bron van Mimer. Die tweede reik tot in Niflheim by die bron Hvergelmir, waar die draak Nidhogg soms aan knaag. Die laaste wortel reik tot in Asegard, onder die bron van Urd.
Die top van die boom reik tot in Asgard, waar dit bekend staan as Lerader. Die blare van die boom dien as voeding vir Eikthyrnir en Heidrun, maar ook vir die 4 herte met die name Dainn, Dvalin, Duneyr en Durathor. In die top van die boom sit 'n wyse arend en tussen sy oë sit die valk Vederfolnir. Die eekhoring met die naam Ratatosker hardloop op en neer langs die stam van die boom.
Tydens die Ragnarok sal hierdie boom deur Surt aan die brand gesteek word.
In 772 vernietig Karel die Grote en sy troepe ‘n reuse suil by Eresburg bekend as Irminsul. Irminsul was ‘n Saksiese heiligdom. Hierdie simbool was vermoedelik ‘n voorstelling van die Yggdrasil.

Ymer, Aurgelmir
Ymer was die eerste Reus, maar hy was geslagsloos. Ymer plant voort deurdat hy sweet en uit sy sweet ontstaan die eerste manlike en vroulike Reuse. Sien die Germaanse skeppingsgeskiedenis vir meer besonderhede.