Die Germaanse Joelfees (Kersfees)
Sonaanbidding het 'n baie ou herkoms. Onverklaarbare natuurverskynsels was beskou as die werk van die Gode. Omdat ons verre voorouers nie besef het dat die Son 'n vuurbal was nie, is hy as 'n God of Godin beskou. Ons Germaanse voorouers het die Son vereer as 'n Godin: Sunna. Vir hulle het lig (dag) los gestaan van die Son. Die Son het geheers oor die lig. Vergelyk die Joods-Christelike skeppingsgeskiedenis waar die son sou heers oor die dag. In hierdie verhaal word die son op die vierde dag geskape en lig (dag) op die eerste dag.
Teen die begin van ons jaartelling is die Son steeds aanbid, maar sommige volkere het nou ook Gode gehad wat hulle Songode genoem het en waarvan sommige gelykgestel is aan die Son. Die Maan het ook ‘n belangrike rol gespeel. Die ou Germaanse kalender of jaarwiel was ‘n Maankalender. Die probleem was dat die Maankalender nie presies met die Sonkalender saamgeloop het nie. Met die Maankalender was daar elke jaar twaalf (en soms dertien) dae te min teenoor die Sonkalender en dit sou opgevul word met die Joelfees. Die Joelfees het ook bekend gestaan as De Twaalf Dagen (Nederland), Twelve Days (Engeland) en Zwölften, Zwölf Nachte of Zwölf heilige Togen (Duitsland). Ook die kerslied "The Twelve Days of Christmas" verwys na die ou Joelfees.
Op 21 Desember is die son in die noordelike halfrond op sy verste punt van die aarde (noordelike winter). Daarna word die dae langer en die nagte korter. Vir die ou Germane was dit ‘n bewys dat die son herbore was. Hierdie wending op 21 Desember is Midwinter of Midwintre genoem.
Van al die feeste van ons voorouers was die Joelfees (ook jolfees, joolfees of julfees) die belangrikste. Die verskillende wêrelddele in die Germaanse heelal het in daardie tyd bemekaargekom. Dit was nou moontlik dat die feesgangers besoek kon kry uit die onderwêreld of uit die hiernamaals. Die ontslape voorouers sou wel op besoek kom (en hulle was baie welkom) om die huismense te beskerm teen kwade geeste. Maar 'n mens kon ook onverwagse besoek verwag het van Elwe en Trolle.
Die Joelfees was ‘n grootse fees waar vreugde en die hegte band in die sibbe sentraal gestaan het. Die mense het geglo en geweet dat die Son die donker dae sou oorwin.
Die Joelfees het 'n aanvang geneem met sonsondergang op 21 Desember. In die nag het die jaarwiel gaan staan en hy sou vir die volgende twaalf (of dertien) dae nie draai nie. Die Joeltyd was die twaalf dae tussen die ou en die nuwe jaar. Die eerste nag is Moedernag genoem. Dit was baie belangrik en is gewy aan die Godin Freya. Dit was die langste en die magtigste nag van die jaar; dan het alle voorouerlike geeste vrygekom. Maar omdat daar ook kwade geeste uit die onderwêreld vrygekom het, was die mens op sy kwesbaarste en niemand moes dan alleen wees nie. Die Joelblok moes daardie nag aangesteek word en die feesgangers moes dit vir dertien nagte sonder onderbreking aan die brand hou. Die Joelblok was van eikehout; dus heilige hout.
Hierdie brandende vuur was van groot belang en is as heilig beskou. Dit sou die huis vir ‘n jaar lank beskerm teen weerlig en die heilige vuur het ewige hoop, ewige lig en ewige krag gesimboliseer. In hierdie vuur is vrugte, neute en sout gegooi, maar ook bier en wyn as offergawes aan die God Wodan (1). Die as van die vuur is oor landerye uitgestrooi, want dit was vrugbaar.
Splinters en stukkies uitgebrande kole van die vuur is behou en bewaar omdat dit heilsame krag sou besit. Stukkies van hierdie hout is die volgende jaar gebruik om die nuwe Joelblok mee aan te steek. Die vuur het ‘n ewige kringloop gesimboliseer. Die vuur suiwer en verteer alles tot as en uit die as kom weer nuwe lewe. Daarom is die Joel beskou as ‘n geboorte- en dodefees. Die ou jaar sterf en die nuwe jaar word gebore. Die son gaan weg (sterf byna) en word daarna herbore met die terugkeer van die langerwordende dae. Vandag word met Kersfees steeds kerse gebrand as erfenis uit die tyd van die Joel.
Tydens die Joelfees het die mense hulle slegs besig gehou met goeie dade en mekaar lofuitinge toegedig. By die aanvang daarvan het hulle mekaar ‘n goeie Joel toegewens en geskenke gegee. Hierdie gebruike ken ons vandag nog, maar ons vier dit as Kersfees (2). Tydens die fees het die mense ook ede afgelê waarvolgens hulle sekere voornemens vir die nuwe jaar gemaak het. Ons nuwejaarsvoornemens is ‘n erfenis uit daardie tyd, behalwe dat hulle ede of geloftes oor die kop van die Beer (manlike swyn) afgelê is en heilig was. Die verbreking daarvan sou groot onheil bring vir die aflegger van die eed.
Die Joeltyd was ‘n tyd van vrede en dit moes ten alle koste bewaar word. Geen stryd! Geen oorlog! Geen rusie! Geen arbeid! Om te jag of vis te vang was verbode. Alle visnette is uit die water gehaal. Daar moes algehele vrede heers. Omdat die jaarwiel stilgestaan het, mag geen ander wiel gedraai het nie, want draaiende wiele kon die goeie begin van die jaarwiel versteur. Spinwiele en windmeulens moes dus tot stilstand gebring word. Dit was ‘n tyd van besinning en van totale rus vir liggaam en siel. Dit was ook n tyd van groot gasvryheid, ‘n ware fees waar almal baie geëet en gedrink het.
Foto: Sabbatwiel

Daar is vir die feestyd ook versierings gemaak: bokkies van strooi en kranse uit groen takke en blare, dikwels in die vorm van ‘n wiel (die jaarwiel). Vandag ken ons hierdie gebruik nog as die adventskrans. Daar is ook baie gebak soos Joelbrood en Joelkoeke in die vorm van ‘n sonwiel, letters (rune), diere (veral die swyn) en ook koeke in gevlegte vorm (‘n soort koesister?). Vandag ken ons hierdie gebruike in die vorm van gebak of speelgoed of sjokolade in die Kerstyd.
Die ontslape voorouers was ook genooide gaste tydens die Joelfees. Die mense het op strooisakke voor hul beddens geslaap sodat hul oorlede voorouers op die beddens kon rus. Ook aan tafel is vir hulle gedek en voedsel en drank is ook aan die voorgeslagte geoffer. Nadat ons voorouers gekersten is, was die dooies nie meer welkom nie, maar in Swede het voorouerverering tot en met die 20ste eeu voortgeduur.
Om ongewenste geeste weg te hou het die Germane hamertekens (of kruistekens) op hulle deure of teen hul huise gemaak, en die krygers het dieselfde tekens op hulle skilde geverf. Dit het ''stryd'' of ''afweer'' gesimboliseer, maar ook ''seën''. Seën van die God Thor, want die hamerteken was geassosieer met Thor. Vandag pryk hierdie hamertekens (kruistekens) steeds op die landsvlae van die Skandinawiese lande en ook Brittanje. Die Christelike kerk het in sy beginjare die gebruik van die kruis as simbool van die Christendom geheel en al verbied; dit was immers ‘n Heidense simbool. Vandag simboliseer dieselfde kruis ook stryd, maar ‘n Christelike stryd. Terloops, Jesus is gekruisig aan ‘n T-vormige kruis en nie die “Christelike kruis” wat ons vandag ken nie.
‘n Baie belangrike figuur in die Joeltyd was die Oppergod Wodan. Hy sou tydens die fees met sy agtbenige wit perd (Sleipnir) deur die lug gevlieg het; agter hom aan sou nog Gode gevolg het, en agter hulle die gestorwe voorvaders, en dan nog goeie en bose geeste agterna.
Vir die Germane was bome belangrik en die Joelboom is versier met klein beeldjies van heilige diere soos die swaan, swyn en perd. Daar is ook vrugte soos appels aan gehang en ook neute, koekies, brood en eiers. Die eiers en vrugte is as vrugbaarheidsimbole beskou. Hierdie vrugte en gebak was bedoel as offergawes aan die Gode. By die stam van die boom is geskenke vir die familielede en ook vir die Gode en die Geeste geplaas. Die lede van die sibbe het om die boom versamel om hulle gehegtheid aan mekaar te toon, want die Joelboom was die middelpunt van die fees, soos wat die wêreldboom Yggdrassil die middelpunt van die aarde was. Die Joelboom is ook die paradysboom genoem.
Die wêreldboom het onder die Poolster gestaan en daarom is in die top van die Joelboom ook ‘n ster geplaas. Soms is daar ‘n sonwiel met agt strale (wat in sommige gevalle kon draai) in die top van die boom geplaas, in plaas van die ster, en ander kere weer ‘n wit haan met ‘n goue kam (salgofner), wat die krygers in Walhalla met sy gekraai sou wakker maak. Die haan sou die aanwesigheid van die Goddelike vergestalt. Glansballe in die boom was daar om bose geeste op ‘n afstand te hou, maar dit sou eers heelwat later gebruik word toe glasblasers op die toneel verskyn het. Verder is die Joelboom ook met slingers (tooisel) versier wat die melkweg of Freya se hare voorgestel het. Soms is egte haarlokke gebruik. Die boom het meesal buite gestaan, maar is soms in die huis ingebring. Groen takke is ook binnegebring om as versiering te dien. Die Joelboom het later die Kersboom geword wat ons vandag ken.
In sommige streke is ‘n Piek gemaak. Dit was ‘n piramied-agtige, driehoekvormige konstruksie van latte gemaak (die getal drie was vir die Germane heilig). Binne in die driehoek is die afbeelding van Wodan staangemaak. Na die kerstening van die Germane is die Wodanbeeld vervang met ‘n Sinterklaasafbeelding, en nog later is dit vervang met ‘n Kersman of Kersvader.
Tydens die Joelfees is soet alkoholiese dranke gedrink, gemaak met heuning. Dit is beskou as Godedrank en is ook gebruik by die ou Griekse en Indiese offerdienste. As die drinkers daarvan bedwelm geraak het, is dit beskou as ‘n Goddelike ingryping. Die gebruik van alkohol tydens Kersfees is dus ‘n baie ou gebruik.
Die einde van die Joel is ook feestelik afgesluit. Klokke is gelui en gerinkel en ‘n groot kabaal is opgeskop. Die Joel moes verjaag word. Die jaarwiel moes weer begin draai. Die lewe moes weer begin. Met groot lawaai is dit alles weer aan die gang gesit. Daar is ook op ramshorings en trompette geblaas en op hierdie manier is die geeste verwilder wat nog ‘n bietjie op Midgard wou vertoef. Die mense het mekaar ‘n goeie en voorspoedige jaar toegewens. Op sommige plekke is ‘n brandende wiel van ‘n heuwel afgerol om die jaarwiel weer goed aan die gang te kry. Die afskiet van vuurwerke en die nuwejaarswense ken ons vandag nog as ‘n erfenis uit die Joeltyd; so ook die trompetjies waarmee kinders vandag nog in die Kerstyd so ‘n lawaai opskop.
Met die kerstening van die Germane het die kerk hard probeer om hierdie Joelfees te verbied, maar sonder sukses. Die vreeslike eet- en drinkpartye was vir die Christene ‘n doring in die oog. Die woord Joel het ook nou ‘n ongewenste woord geword. Die datum 25 Desember het belangrik geword vir die Christene, maar as ‘n sobere en “kerkfees”. Die Joelfees is egter steeds gevier en is later met Kersfees gekombineer en die aantal feesdae is ingekort. In Nederland en Engeland is die woord Joel ook vervang met Kersfees (Christmas), maar in Duitsland is die ou woord Weihnachten behou en in die Skandinawiese lande het die Joelfees die naam behou tot vandag toe: Oud-Noors is Jol, Sweeds is Jul, en Deens/Noors is Juul. Soms word in moderne Engels nog na Kersfees verwys as Yule.
In Europa was daar ook ‘n ander poging deur die kerk om die Joel te verdring (lees: totaal te probeer vernietig). Die hooffiguur tydens die Joel was Wodan of Odin. In sy plek het die kerk ‘n heilige figuur na vore geskuif met die naam Sint Nicolas, afkomstig uit Myra in Turkye. Hierdie biskop was ‘n weldoener en was in Klein-Asië verantwoordelik vir ‘n aantal wonderwerke. Na sy dood op 6 Desember sou hy as ‘n heilige beskou word. Sint Nicolas het goed ingang gevind by die Nederlanders en die Duitsers. In Nederland sou hy Sinterklaas word. Op die lange duur het Wodan op die agtergrond geskuif en sy plek is ten volle ingeneem deur Sinterklaas. Die ooreenkomste tussen Wodan en Sinterklaas was egter opvallend en dit het die vervanging van die een deur die ander makliker gemaak: |
 |
Wodan of Odin was Oppergod |
Sinterklaas is ‘n Goed (lees God) Heilige man |
Ry op ’n wit skimmel met die naam Sleipnir |
Ry op ’n wit skimmel met die naam Americo |
Aan die perd van Wodan is hooi neergelê, of ’n stuk oes is laat staan ‘für Wodans pferd’ |
‘n Skoen met hooi en suikerklontjies uitgesit vir die perd van Sinterklaas |
Ry met Slepnir deur die lug |
Ry met Americo deur die lug |
Het ‘n breërande hoed |
Het ‘n myter |
Dra ‘n wye mantel |
Dra ’n rooie lange mantel |
Het ’n spies met ‘n slangkop |
Het ’n staf met ‘n krul |
Gee geskenke in die vorm van lig, warmte en van vrugbaarheid |
Gee geskenke aan alle kinders |
Wodan daal af deur die skoorsteen. |
Met Sinterklaas kom die geskenke ook deur die skoorsteen |
Wodan het twee swart kraaie Hugin (gedagte) en Munin (geheue) wat inligting deurgee oor menslike handelinge op aarde aan Wodan |
Sinterklaas het twee swarte piete wat die wêreld verken en Sinterklaas vertel welke kinders soet is en welke stout |
Wodan is ’n Digtergod |
Sinterklaas hou van gedigte |
Wodan is alwetend |
Sinterklaas het ’n Groot Boek waar alles in staan |
Wodan gee Runen (tekens) aan die mensheid |
Sinterklaas gee sjokolade letters |
Wodan is beskermheer van die skoenmakers |
By Sinterklaas word ‘n skoen uitgesit |
Neute word geoffer aan Wodan, want neute dra die lewenskiem |
By Sinterklaas word kleine koekies (neute of pepernoten) uitgedeel |
Gevlegte koeke en brood (ook in vorms van diere) was geëet en aan Wodan geoffer, asook vrugte |
Vrugtekoek en gemmerbrood is gewild by Sinterklaasvierings |
Wodan het ’n baard |
Sinterklaas het ‘n baard |
 |
Na die Hervorming was die “Paapse” feesdae nie baie gewild onder die Protestante nie. Martin Luther het in 1535 die viering van Sinterklaas probeer ontmoedig, maar dit word egter vandag nog in baie Europese lande op 5/6 Desember gevier.
Vanaf 1611 het Nederlanders hulle gaan vestig in Nieuw Amsterdam (vandag New York) en hulle het Sinterklaas saamgeneem. In Amerika het Sinterklaas onder Engelse uitspraak vinnig Santa Claus geword. Die viering is ook verskuif van 5/6 Desember na 25 Desember. Santa Claus of die Kersman of Kersvader het die meeste eienskappe van Sinterklaas behou. Die “swarte piete” is afgeskaf en die Kersman het ‘n sakkerige figuur geword met sakkerige klere. |
Die Joelfees en Sinterklaasfees het Kersfees geword en die gebruike en gewoontes is behou, ook wat die boomverering betref. Vandag sing ons steeds tydens Kersfees ‘n duisende-jaar oue Germaanse psalm, naamlik: ''Oooh denneboom, oh denneboom... Jou het ek lief bo alles ...."
Die kerkklokke wat ons vandag ken, die haan op die kerktoring en op sommige torings ook ‘n glansbal, stam uit die voorchristelike tyd. Terloops, die klokke wat ‘n Katolieke priester vandag tydens die misdiens lui en die wierook wat daar gebrand word, is om bose geeste op ‘n afstand te hou. Luidende klokke sou bose geeste verdryf.
(1) Vandag beskou Christelike kerkgangers die kollekte wat hulle afstaan as ‘n offergawe aan God. Dit is eintlik ‘n gebruik wat stam uit die voor-Christelike tydperk. Sout was destyds baie waardevol en ook ‘n betaalmiddel (die woorde “soldy” en “salaris” is afgelei van die woord sout). Die ou Germane het in werklikheid geld aan Wodan geoffer.
(2) Die bewoording het in Afrikaans, Nederlands en Engels verander (verkersten), maar in die ander Germaanse tale nie: Afrikaans – Geseënde Kersfees; Vrolijke Kerst (Ned); Merry Christmas (Eng); Glückliches Weihnachten (Duits); Glad Jul (Noors); Heldig Jul (Deens); Glad Julen (Sweeds) en Hamingjusamur Jól Yslands).