Die Germaanse Lewensbeskouing

Die Germane van 2000 jaar gelede kon grofweg in drie kultuurstamme verdeel word volgens Plinius die Oude (23-79nC) in sy boek ‘Naturalis historia’, naamlik: Ingväone, Herminone (of Irminone) en Istväone. Hierdie name kan herlei word na die (Opper)gode wat hierdie kultuurgroepe respektiewelik vereer het, naamlik Ing, Irmin en Istvas. Die tweede gedeelte van die naam kan moontlik verband hou met die Germaanse woord –väone (wet of reg). Hierdie Germaanse stamme het geleef volgens die wet van hul (Opper)god.  

Aan die begin van ons jaartelling kom die Romeine en die Germane met mekaar in aanraking as gevolg van die Germaanse volksverhuising en die uitbreiding van die Romeinse ryk. Germane was in die tyd meestal boere of jagters. Stede het hulle nie geken nie. Waar die Romeine groot kerke/katedrale/tempels gebou het, was die tempels van die Germane die natuur self (met die uitsondering van ‘n paar houttempels). Die Germaanse volkere was boeregemeenskappe wat geleef het van die land, van hulle landerye en in harmonie met die natuur. Hulle was selfversorgend en het nie meer geploeg as wat nodig was vir voedsel vir die komende jaar nie. Die jaarwiel was gebaseer op die boerekalender en hulle tradisies en feeste was gewone boerefeeste. Hulle het hulle boereverstand gebruik wat beteken het dat hulle logiese of nugtere denkers was. Verder was die Germane baie gesteld op hulle vryheid en onafhanklikheid. Dit het dan ook dikwels gelei tot “ligte” konflikte tussen die stamme onderling.

Die Germane het in klein gemeenskappe gewoon. ‘n Gemeenskap het bestaan uit ‘n stam en die stam was verdeel in ‘n aantal sibbe (groot families met ‘n gemeenskaplike stamvader). Aan die hoof van die stam het ‘n koning gestaan (ook stamhoof genoem). Elke sibbe is gelei deur ‘n sibbevader of sibbemoeder. Hy/sy was die oudste lid van die sibbe. Die koning is gekies uit die sibbevaders/-moeders. Die konings (van verskillende stamme) het een keer per jaar bymekaargekom vir die Ding (volksvergadering). Hier is sake bespreek soos oorlog, vrede, interstreeklike sake en geskille, ens. Die konings het gestaan onder die gesag van ‘n Opperkoning. Volgens sommige bronne was daar egter slegs ’n Opperkoning aangewys wanneer ’n aantal stamme gesamentlik bedreig was.

Vir die Germane was daar één belangrike wet en dit was jou eer. Daar was nie ‘n God wat wette van bo af gedikteer het nie. Daar was nie ‘n God wat bepaal het wat goed en wat sleg was nie. Die mens moes eervol handel. Eer was die hoogste goed. ‘n Ou Germaanse spreuk het gelui: “Dis beter om te sterf as om jou eer te verloor.” Wat ‘n mens ook al gedoen het, hy/sy moes altyd ‘n goeie rede hê waarom hy/sy op ‘n bepaalde manier opgetree het. As die rede vir die optrede van die persoon goed was, dan was die handeling goed. Die Germane het geen geregtelike gesag geken nie. As iemand oneervol teenoor jou opgetree het, was jy verplig om te reageer. Jy (en jou sibbe) moes sorg vir vergelding in die afwesigheid van ‘n regter of magistraat. Die mense het geleef vir die sibbe. Hulle spreekwoord was:  "Beskerm die sibbe en die sibbe beskerm jou".

Die godsdiensbeoefening van die Germaan het plaasgevind binne die sibbe. Die sibbevader/-moeder is beskou as die aanvoerder van die sibbe en was verantwoordelik vir die godsdiens-beoefening. Tydens die jaarfeeste (in stamverband) was die onderkoning of die Gouwkoning verantwoordelik vir die offerdiens. Die ritueel by die bring van offerhandes en ook die kommunikasie met die Gode was nie ‘n handeling wat smekend of pleitend gedoen is nie. Dit was nie knielend gedoen nie en ook nie uit vrees nie.  Die Germane het regop gestaan terwyl hulle die guns van die Gode vra. Die Germane is sonder erfsonde gebore en nederigheid of 'n skuldgevoel teenoor die Gode was afwesig. Hulle was die Gode wel dankbaar vir die ordening van hulle lewe. Die Gode het ‘n integrale deel van die natuur gevorm. Die begrip “Godheid” was vergestalt in die natuur: Son, Reën, Lente, Riviere....Die guns van die Gode is nooit gevra vir die individu nie, maar vir die sibbe of die stam.

Vir die Germane was daar nege waardevolle deugde (volgens die Edda) wat hulle op die hart gedra het naamlik: 

Moed, Waarheid, Trou, Orde, Gasvryheid, Betroubaarheid, Vlyt, Volharding en veral Eer.

Nog belangrike riglyne uit die Edda was:

Sterkte is beter as swakheid

Moed is beter as lafhartigheid

Vreugde is beter as skuldgevoel

Eer is beter as oneer

Vryheid is beter as slawerny

Verwantskap is beter as vervreemding

Realisme is beter as dogmatisme

Krag is beter as leweloosheid

Verbondenheid is beter as universalisme

Die Edda (“bybel” van die Germane) is 'n versameling gedigte, lofliedere en odes opgedra aan die volkshelde, Gode, en die natuur (Natuurgode).

By die afsterwe van ‘n familielid is daar in beginsel nie getreur nie. Die Germane het geglo dat die siel van die afgestorwene nog steeds tussen hulle geleef het. As ‘n mens gesterf het op die aarde (Midgard), gaan die siel na die Walhalla of na die Hel. Maar die Hel was nie die Hel van die Christen waar kierankies gebraai word nie. Hel was Helheim. Dit was die Hiernamaals. Germane wat in die stryd (oorlog) gesterf het, het na Walhalla gegaan. Op hulle het ‘n hoër doel gewag. Hulle moes nou saam met die Gode veg teen die uiterste Kwaad of die Ragnarok. Om na Walhalla te kon gaan is dan as ‘n besondere eer beskou.

Die Germane het geglo dat daar velerlei wêrelde was wat in verbinding met mekaar gestaan het. Daar was die Godewêreld (onder bevel van die Oppergod Wodan of Odin), dan die mensewêreld en daaronder die “onderwêreld” (slange, drake en ander mitiese wesens). Hierdie wêrelde word bymekaar gehou deur die reusagtige lewensboom Yggdrasil of die “Boom van Kennis”. Die getal drie was heilig. Maar 3 x 3 was drie keer so heilig (3x3=9). Die ou Germaanse week het om die 9de nag gewissel. Vanaf die ring van Odin drup daar elke 9de nag, agt goue ringe af. Hierdie 8 goue ringe staan simbool vir die volgende 8 dae – die 8 dae van die week. Verder was daar drie Gode in die tempel van Uppsala, drie Norne(1), drie wortels van die boom Yggdrasil wat na drie wêrelde uitgereik het. Die drie wêrelde was Asegard, Midgard en Utgard. Hierdie wêrelde is met mekaar verbind deur die boom: Die wortels in kontak met die onderwêreld en die takke reikend na die hemel wat die weg baan na die Gode.

Na die dood van ‘n Germaan verlaat die siel van die oorledene die sibbe nie dadelik nie. Die oorledene kom gereeld na die sibbe terug om te sorg vir die welstand van die sibbe en ook vir vrugbaarheid. Tydens belangrike feeste is die gestorwe voorouers ook uitgenooi om aan die verrigtinge deel te neem. Die Germane het geglo die Heilgar, heil van die sibbe, was ‘n soort geestelike geen wat van geslag tot geslag deurgegee is. Die kinders erf hierdie geestelike gene. Dit beteken dat die voorouers in die kinders leef en ook weer in die kleinkinders. Dit kan gesien word as ‘n soort Germaanse reïnkarnasie. Die feit dat ‘n kind uiterlike kenmerke en ook karaktertrekke toon van ‘n ouer of grootouer, was vir die Germane die bewys dat die voorouer ook in daardie kind of kleinkind voortleef.

Die religieuse lewe van die Germaan was ten volle gewy aan die natuur. Goeie en voorspoedige gebeurtenisse is gesien as ‘n uiting van die guns van die Gode. Die Lot was ‘n onfeilbare plan. Die Lot kon jy nie ontwyk nie. Elke Germaan se geboorte- en sterfdatum was reeds bepaal (deur die Norne). Om hierdie rede was Germaanse krygers nie bang vir die dood nie. Hierdie vreesloosheid van die Germaanse kryger was vir sy vyande vreesaanjaend. Die dapper kryger gaan tog na Walhalla waar hy wil wees om die hoër doel te dien. Die Germane kon veel groter vyande verslaan met veel swakker wapentuig.

Die Germane was besonder hard en genadeloos, maar hulle het ook baie aandag aan mekaar gegee. Oorlewing verg gehardheid. Almal wil die vinnigste, die beste en die knapste wees. Dit was ‘n natuurwet. Die Germane het as natuurmense geleef volgens hierdie wet. Wie swak was, moes uitgewerk word. As een lid van die stam swak was, was die hele stam swak. Swakkelinge en misdadigers is geoffer aan die Gode. Die Germane het nie gevangenisse gehad nie. Die oplossing was van tweerlei waarde. Die Gode is goedgestem en die stam is gesuiwer van swakkelinge. Die resultaat hiervan was die opbou van buitengewoon sterk rasse wat later die wêreld sou gaan oorheers.

Verder moet ‘n mens nie dink dat alle Germane die Gode aanbid het nie. Sommige het geen Gode aanbid nie, maar hulle het wel by die norme en waardes van die sibbe gehou. Hulle was ook nie verstoot nie. Die gemeenskap het oopgestaan vir Gode en ander Godsdienste. Elke Germaan kon soveel Gode aanbid as wat hy/sy wou, of niks nie. Die Godsdiens van die Germane het dus ook geen sendelinge geken nie. Niemand is gedwing om ‘n bepaalde God te aanbid nie. Om hierdie rede het die Christelike sendeling maklik sendingwerk onder die Germane gedoen (alhoewel aanvanklik sonder blywende sukses). Maar die Christelike God was ook welkom. Die spanning in die gemeenskap sou later ontstaan toe die Christene die aanbidding van ander Gode wou verbied.

Die Germane het nie ‘n geskrewe boek gehad soos ‘n Bybel of ‘n Koran nie. Die Germane moes die ongeskrewe boek (Edda) uit hulle hoofde ken. Vir die Heidense Germaan is dit as ‘n swakheid gesien om hul geskiedenis en religie op skrif te stel – ‘n gebrek aan goeie geheue. Die geskiedenis en godsdiens moes in die volksmond LEEF. Hierdie sages, odes, gedigte, verse, liedere en verhale is saans wanneer dit rustig was (en veral tydens feeste) op kunstige en dramatiese wyse voorgedra. Dit was die taak van die Skalde of die Barde om die gesamentlike geskiedenis van die sibbe, stam of volk van geslag tot geslag oor te vertel. Skalde of Barde was rondtrekkende digters, sangers of vertellers. Talentvolle kinders is van kleins af in hierdie vak opgelei. By die Germane was die skryfkuns ook nog in sy kinderskoene toe die kersteningproses ‘n aanvang geneem het. Dit het bekend gestaan as die Runeskrif of Runeletters, maar dit is nie eintlik gebruik om boeke te skryf nie.

Tydens en na die kerstening van die Germane het die Christene so vinnig en so deeglik moontlik alle Heidense gebruike en simbole vernietig. Maar die kerstening het nie sonder slag of stoot verloop nie. Die Germane wat oopgestaan het vir ander gelowe, moes nou verneem dat die Gode wat hulle al duisende jare lank aanbid het, skielik uit die bose was. Wat eers baie goed en heilsaam vir die volk was, was nou baie verkeerd. Verder is hulle gedwing om net een God te aanbid, en nie meer ‘n paar nie. Baie Germane het direk hierteen in opstand gekom. Christelike sendelinge is deur die Heidene gedood, en halstarrige Heidene is deur die Christene gedood. Baie Germane het botweg geweier om van hulle Godsdiens af te sien ter wille van die Christendom en was bereid om vir hulle geloof te sterf. Baie duisende van hierdie mense het dan ook uiteindelik vir hulle geloof gesterf.

Die taktiek van die sendelinge het met verloop van tyd verander. Dit het gou geblyk dat dit ‘n hopelose saak was om die gewone volk te probeer kersten. Die sendelinge het hierna eers die koning en daarna die adel bekeer. Die koning is bekeer met die argument dat die Christendom beskawing bring. Baie van die konings is met hierdie verlokking na die “hoër beskawing” oortuig. As die koning en die adel bekeer was, was die res van die bevolking makliker om te kersten. Diegene wat hulle nie vrywillig wou bekeer nie, is nou met koninklike gesag tot bekering gedwing deur dreigemente van die swaard en die brandstapel. Sommige Heidene het hulself laat doop om konflik met die owerheid te vermy, maar het daarna gewoon voortgegaan om hulle ou Gode te vereer.

Die Christelike Godsdiens was eintlik vir die Germane vreemd. Die Christelike God was onsigbaar, terwyl die Germaanse Gode via die beelde sigbaar was. Verder het die Germane in terme van “krag” gedink en nie in terme van ideologiese konsepte nie. ‘n God moes Meginn uitstraal via sy/haar afbeelding. Die aanbidder moes kragdadige heil en seën kon aanvoel en dit ontvang. As ‘n Heiden ‘n bepaalde God aanroep en hierdie heilsame krag het nie na die aanbidder gevloei nie, is die rug gekeer op hierdie God en ‘n ander God is aanbid.

Die heilige plekke waar die teenwoordigheid van die Gode aangevoel is, was in ‘n woud onder magtige eikebome. Maar ook alleenstaande groot eikebome het hierdie gevoel van magtigheid en die aanwesigheid van die Gode verleen.

(1) Norne was ook bekend as Skikgodinne of die Drie Wyse Maagde.  Hulle het die Lotsbestemming van elke mens bepaal. Hulle het alles geweet, van alle ewigheid tot in alle ewigheid. Hulle name was Urd, Word (of Verdandi) en Skuld. Urd = oerverlede, Word (Verdandi) = hede, en Skuld = wat nog verskuldig is in die toekoms.