Germaanse Portret

Hierdie gedeelte behandel hoofsaaklik die eerste kontakte tussen die Romeine en die Germane (Suidgermane) gedurende die eerste eeu van ons jaartelling. Die inligting is dan ook hoofsaaklik ontleen aan die waarnemings van die Romeinse geskiedskrywer Tacitus. Tacitus het die Germane omskryf as 'n besonder suiwer volk wat nie met ander volke vermeng het nie. Vogens Tacitus was die duidelikste kenmerke die volgende: Die Germane het woeste blou oë gehad met rooi-blonde hare en hulle liggame was fors en aantreklik. Hulle kon kragtig aanval in die stryd, maar was nie bestand teen hitte nie.

Foto: Tacitus.

 

Tacitus skryf dat die Germane bepaalde oorlogsliedere gesing het voor die aanvang van die stryd, om hulle strydlus op te wek en ook om die vyand angs in te boesem. Hierdie dreunsang was laag van toon. Hierby het die Germaanse krygers hulle skilde ook op ’n bepaalde manier voor hulle monde gehou om ’n swaarder en holler geluid voort te eggo. Hierdie krygsgeskreeu het bekend gestaan as 'barditus', skildsang of baardpraat. Hierdie rou gebulder was 'n poging om die stem van Donar na te boots.  

Die familiebande onder die Germane was baie sterk. Die opstelling van die slagorde was dan ook nie willekeurig gedoen nie, maar volgens familiebande. Elke kryger moes veg met ’n familielid in sy nabye buurt (oom, neef, broer, vader, seun, ens) vir morele steun, aanmoediging en beskerming.

'n Veldslag het begin deurdat twee partye teenoor mekaar stelling inneem. Die aanvoerder moedig sy manskappe aan en daarna hy vyand beledig. Hierna gooi hy 'n spies "Die Wapen van Wodan/Odin", oor die koppe van die vyand met die kreet: "Wodan/Odin, vat hulle"! Die krygers gooi hierna die meeste van hulle kleding af en gaan dan oor (soms naak) tot die aanval.

Die knapste krygers het voor in die linie geveg en vir hulle was dit 'n edele taak. Hierdie groep elite-styders het bekend gestaan as Hund of Honderd (vergelyk Oudsaksiese, Oudengelse en Gotiese hund). Die woord hond en die Engelse woord hunt (jag) is hieraan verwant.

Die rol van die Germaanse aanvoerders was ook anders as by die Romeine. Die Germaanse aanvoerders het hulle manskappe aangemoedig deur ‘n leidende voorbeeld te stel. Die aanvoerders het die hardste geveg en vóór in die linie. Elke Germaanse leier was ook byna permanent (ook in vredestyd) beskerm en opgepas deur 'n groepie manne wat bekend gestaan het as die komitatus (verwant aan komitee). Lede van die komitatus was besonder getrou aan die leier. Hulle het die kern gevorm van die strydmag. Tydens die aanval het hulle alles in die stryd gewerp om te voorkom dat hulle leier ooit val. Dit was as 'n skande en 'n groot vernedering beskou om die stryd te oorleef, terwyl die leier gesterf het. Sommige krygers (veral lede van die komitatus en hund) het na 'n verlore stryd selfmoord gepleeg deur hulself op te hang. Onwillige krygers is nie deur die leier gestraf nie. Dit was die taak van die priesters.

Vanaf ongeveer 12/13 jaar was 'n persoon beskou as volwasse. Seuns kon volwaardig meeveg. Meisies kon trou. Die Frankiese koning Karel die Grote se 2de vrou Hildegard (Houdiard) van Vinzgouw was 13 jaar oud toe hy met haar getrou het. Sy het 9 kinders in die wêreld gebring en gesterf toe sy 25 jaar oud was.

Waar die Romeine hulle gestorwe soldate (soms) op die slagveld agter gelaat het, het die Germane dit nooit gedoen nie. Alle gestorwe Germaanse krygers is deur hulle geliefdes weggehaal. In hierdie eerste eeue na die begin van ons jaartelling, maak die Germane gebruik van 'n interessante afweertegniek. Hulle het soms ossewaens gebruik as skans deur dit in 'n sirkel te trek en aan mekaar vas te bind. Dit het bekend gestaan as 'n 'wagenburcht' - 'n laer.

 

 

Op die party wat 'n stryd verloor het, het daar ook 'n swaar lot gewag. Die vlugtende party is agterna gesit en baie van hierdie gevangenes is aan die Gode geoffer. Die wat nie geoffer was nie, was as slawe saamgeneem huis toe. Die wapens van die verloorders is nie buitgemaak nie. Dit is vernietig en aan die Gode geoffer deur dit in veenmoerasse te stort.

Vroue en kinders het waar dit kon, saamgegaan na die strydperk. Die vroue moes sorg vir die bereiding van voedsel en hulle het ook die gewondes met liefdevolle aandag en sorg verpleeg. Op die slagveld kry die Germaanse kryger dus ondersteuning van sy allerdierbaarste 'besit', naamlik sy vrou, sy kinders en ook sy moeder. Maar dit is ook hierdie kosbare 'eiendom' wat hy onder geen omstandighede wou verloor nie. Die maatskaplike druk op hierdie kryger was enorm groot. Hy moes 'n buitgewone prestasie lewer. Hy móés wen! Hy moes soos 'n besetene veg om sy vrou en kinders uit die hande van die vyand te hou. Die vroue het die manne aangemoedig deur te gil en te skree, maar ook het hulle soms met swepe onder die manne ingelê. Tacitus vertel dat Germaanse vroue ook soms hulle borste ontbloot het aan die vyand. Die boodskap was: ‘kom haal ons maar, want ons manne is voos’. Die doel hiervan was om die manne (stamgenote) opnuut aan te vuur om die oorwinning te verseker. Op die slagveld het priesteresse na afloop van die stryd 'n towerspreuk gemompel aan swaargewondes wat in die 8ste eeu nC opgeteken is, naamlik: ''Ben zi bena, bluot zi bluoda, lid zi geliden, sose gilimida sin'', wat beteken: Been aan been, bloed aan bloed, lid aan lid asof dit gelym is. Die towerspreuk moes wonde help genees.

Tacitus skryf dat die Germane baie waarde geheg het aan die opinies van vroue. Hulle het geglo dat vroue ’n talentvolle vermoë gehad het tot heldersiendheid, profetiese gawes en intuïsie. Onder die Germane was sieneresse wat die leëraanvoerders moes adviseer. Hierdie priesteresse was in wit (heilige kleur) geklee. Hulle was meestal ouerig (wys) en hulle het metaalgordels gedra. Baie van hierdie Germaanse vroue het selfs die status van Godinne behaal. Daar is ondersoekers wat aandui dat daar ook manlike priesters en sieners was onder die Germane. Maar die Wiccas (Wyse mense) was byna almal vroue. Hierdie vroue was besonder intelligent en talentvol, maar hulle sou later deur die kerk as hekse vervolg word – en op brandstapels gesterf het. 

Tacitus skryf ook dat die Germane baie strenger sedelike norme gehandhaaf het as die Romeine. Mans wat ontug gepleeg het, was veroordeel tot verdrinking in 'n veenmoeras. Verder het Tacitus ook bewondering gehad vir die sobere Germaanse huwelik. Mans was getrou aan hulle vroue en verder het elke man net een vrou gehad, met die uitsondering van 'n beperkte aantal adellike mans wat meer as een vrou gehad het. Dit was volgens Tacitus nie die geval onder die Romeine nie. Owerspel is baie swaar gestraf en egskeidings het volgens Tacitus selde voorgekom. Ander bronne vermeld egter dat Germaanse pare wel maklik geskei het en dat die 'maklike skeiding' 'n halt toegeroep is na die kerstening van die Germane. Verder het die Germane 'n streng opvoedingstyl gehandhaaf in teenstelling tot die veel soepeler Romeinse opvoedingstyl.

By 'n huwelik moes die man aan die familie van die vrou 'n bruidskat gee. Dit was hoofsaaklik beeste plus 'n perd, 'n skild en 'n swaard. Die bruid gee dan op haar beurt 'n swaard of 'n ander wapen aan die bruidegom. Daar is ook ondersoekers wat beweer dat by die Noordgermane die bruidskat hoofsaaklik om geskenke gegaan het wat die bruid aan die bruidegom sou skenk.

Die verhouding tussen die man en die vrou was gelyk. Die man (Ask = spierkrag) moes sorg vir 'n woning, vir voedsel en die verdediging van sy kosbaarste besit, naamlik die sibbe. Die vrou (Embla = psigologiese krag) moes sorg vir die intellektuele opvoeding van haar kinders (oorvertel van volksverhale, geskiedenis en religie), kleding en die bereiding van voedsel. Die mediese wetenskap was volledig in die hande van vroue. Sy is om spirituele advies gevra en het die leiding geneem by die bring van offerhandes. Weens die aantreklikheid en skoonheid van vroue was hulle vereer. Talentvolle en heldersiende vroue het al gou die status van 'n lewende Godinne behaal. Met die koms van die Christendom is die vrou van haar verhewe voetstuk gehaal.

Die Germane het baie kinders gehad. Geboorte beperking of die poging daartoe was as 'n skande beskou. Elke kind is enkele dae na die geboorte tydens 'n seremonie met water besprinkel. Water was beskou as 'n lewende entiteit en sommige ondersoekers meen dat Water as 'n Godheid beskou was (soos ook in die geval van Vuur). Misvormde en gebreklike kinders moes deur die vader om die lewe gebring word, so spoedig moontlik na die geboorte. Dit was gedoen deur so 'n kind buite (in die koue) aan sy/haar lot oor te laat. 

Die huise van die Germane was baie eenvoudig. Tacitus skryf dat die Germane nie aandag geskenk het aan 'n mooi boustyl nie. Die huis moes funksioneel wees. Die huise was in die vorm van 'n heuwelagtige struktuur en het as 'n hol, heul, heuwel, hel, hil of hal bekend gestaan. Huise van hout, steen of klip was 'n latere ontwikkeling. Verder het die huise nie teenmekaar gestaan nie in teenstelling tot die Romeinse huise wat juis teenmekaar gebou was. Tacitus skryf dit toe aan die onafhanklikheidsdrang van die Germane.

Ou Germaanse wonings

Ons Germaanse voorouers het aanvanklik nie wyn geken nie. Hulle het later wyn ingevoer van die Romeine en ook die Kelte. Die Germane was bierbrouers en bierdrinkers. Soms het hulle ook te veel bier gedrink. Tacitus skryf dat die Germane dronkenskap nie as 'n skande beskou het nie. Ook het die Germane graag gedobbel. Maar 'n dobbelspel was alleen gespeel as die deelnemers baie nugter was. 'n Dobbelspel was vir die Germane 'n baie ernstige aangeleentheid. Dit was as 'n skande beskou om vroeg uit 'n dobbelspel te stap. Baie mense het in hierdie dobbelspelle al hulle besittings verloor. Sommiges was selfs as slawe verkoop om dobbelskuld te kon betaal. Dit was nie as 'n skande beskou om as 'n slaaf verkoop te word nie, maar wel om uit 'n ongunstige dobbelspel te probeer sluip.

Tacitus skryf dat die Germane hulle slawe eintlik ook nie werklik as slawe behandel het nie. Slawe was nie in kettings aangehou nie en het ook nie dwangarbeid verrig nie. Tog skryf Tacitus dat baie slawe deur hul eienaars gedood is. Die doodslaan van 'n slaaf was nie beskou as 'n oortreding nie. Slawe het gedeel in die voorspoed en teëspoed van die gesin. Die Germaanse maatskappy het uit 3 klasse bestaan, naamlik slawe (thrall), vryburgers (karl) en die adel (jarl). Slawe was meestal oorlogsbuit. Die hare van manlike slawe was kort geskeer. Mans uit die adel en vryburgers het lang hare gehad. Lang hare was die sieraad van die hoër klasse.

Vir die Germaan was sy wapens van baie groot belang. Hy het nêrens heen gegaan sonder sy wapens nie. Ook waar 'n ooreenkoms beklink was tussen twee partye, het die gebruik van wapens deel uitgemaak van die seremoniële afsluiting van die ooreenkoms. 'n Goeie swaard was baie waardevol. Met 'n goeie skede daarby was dit sewe koeie werd. 'n Skild en 'n lans daarenteen was tesame maar twee koeie werd. Wat egter ook baie belangrik was vir die Germane was die grootte van die veestapel. Hoe groter, hoe ryker. Die kleinvee was maar van 'n kleinerige soort. Dan het die grootvee ook nie die edele voorkoms en pragtige horings gehad van die Romeinse grootvee nie, aldus Tacitus.

Tacitus skryf oor die Germaanse konings, dat hulle nie absolute mag gehad het nie. Hulle is deur die volk verkies en kon maklik weer hulle posisies verloor. Die konings het wel uit die Germaanse adel gekom. In die Ding (volksvergadering) kon burgers hulle mening lug. 'n Voorstel wat nie aanklank gevind het nie is met 'n gemor deur die volk afgewys. Wanneer daar 'n voorstel gemaak was wat 'n breë steun geniet het, het die Germane hulle spiese teen mekaar gekletter. Die ou Germane het dus 'n verregaand en uitgebreide demokrasie geken. Die volksvergadering is gelei deur die koning, maar die dissipline was gehandhaaf deur priesters. Die Germane was egter nie bang vir hulle konings nie en skryf Tacitus dat die burgers soms maar traag gereageer het op koninklike 'opdragte'.

Dit blyk uit die beskrywing van Tacitus dat die Germane baie onrustige mense was. As daar 'n lange tyd vrede was, gaan soek die jongmanne die stryd op. Hulle doen dit uit verveeldheid. Hulle sluit dan aan by stamme waar wel 'n stryd gevoer was. In hierdie gevaarlike omstandighede was dit makliker om beroemd te word en bewondering af te dwing vir onverskrokke dapperheid. Tacitus skryf dat die Romeine baie versigtig was vir die Germane en dat hulle 'n baie groot respek gehad vir die Germaanse deeglikheid en hulle onweerstaanbare dapperheid. Baie Romeine het botweg geweier om teen die Germane te veg. Tacitus skryf dat baie Romeine 'oorwinningsfeeste' gevier het deur bloot 'n fees te vier in plaas van die swaard op te neem. Alleen die wilde en vurige blikke van die Germane was vir die Romeine al 'n verskrikking. Die gemiddelde Germaanse kryger was in die tyd ook 'n kop langer as die gemiddelde Romeinse soldaat.

 

Die Germaanse volkere: