Name van God(e) in die Ou Testament

Elohiem en Eloah
Die eerste naam vir die Opperwese wat in die Bybel vermeld word, is Elohiem. Hierdie naam word in die Afrikaanse Bybel vertaal met God. Elohiem kom in die Ou Testament ongeveer 2,750 keer voor. Die naam kom al voor in Gen 1:1: “In die begin het God (Elohiem) die hemel en die aarde geskep”. Elohiem is die God van die Joods-Christelike skepping wat sy ontstaan ken ongeveer 4000 jaar gelede. Kyk hier vir 'n chronologiese tydindeling.

Tog was die naam Elohiem ook gebruik om ander gode aan te dui, byvoorbeeld: Gen 1:19-34. In vers 19 staan: “Laban was weg om sy skape te gaan skeer. Toe steel Ragel haar pa se afgodsbeeldjies (Elohiem)”. In Exodus 12:12 word die gode van Egipte Elohiem genoem en in Levitikus 19:4 word die afgode ook Elohiem genoem. In Exodus 32:4 staan die volgende na aanleiding van die Goue Kalf wat aanbid was: “Hier is jou God (Elohiem) wat jou uit Egipte bevry het”.

Die naam Elohiem dui (ook) die meervoudsvorm aan, naamlik: Gen 1:26:” Toe het God gesê: Kom Ons (Elohiem) maak die mens …”. Ook in Gen 3:22 staan: “Toe het die Here God gesê: Die mens het nou soos Ons (Elohiem) geword deurdat hy alles kan ken”. In Gen 11:7 staan: “Kom laat Ons (Elohiem) afgaan en verwarring bring in hulle taal…”.

Die naam Eloah kom in die Ou Testament 57 keer voor, waarvan 41 keer alleen in die boek Job.  Eloah is die enkelvoud van Elohiem. Die naam Eloah kom die eerste keer voor in Deut 32:15-17: “Hy het God (Eloah) wat hom gemaak het verwerp. Hy was vermetel teen die Rots wat hom gered het…offers gebring aan veldduiwels, aan goed wat nie gode (nie Eloah) is nie, maar onbekende gode (Elohiem)”.


Jahweh en Jah
In die Ou Testament word Jahweh die meeste genoem. Die Hebreeuse Jahweh word vertaal met Here in Afrikaans (in die 1933 vertaling HERE of HEER met hoofletters). Die naam Jahweh kom in die Ou Testament 5,321 keer voor.  Die verskil tussen die name Elohiem en Jahweh is van belang. Elohiem is die verhewe skepper van die heelal. Hy is alwys en die Allerhoogste. Jahweh is die persoonlike God wat ’n verbond sluit met die mens. Jahweh was baie gewild onder die Jode. Soms word die name langs mekaar gebruik, byvoorbeeld in Gen 2:4: “Toe die Here (Jahweh) God (Elohiem) die aarde en die hemel gemaak het…”. 

In die Bybel kom nog ’n woord ongeveer 50 keer voor wat in Afrikaans ook met Here vartaal is, en dit is die naam Jah. In Jes 12:2 en 26: 4 word selfs Jah Jahweh gebruik. Die agtervoegsel in hallelujah dui op Jah en beteken hallelujah letterlik: prys Jah!

Eljoon
Die naam Eljoon kom 36 keer voor in die Ou Testament en beteken letterlik Dié Allerhoogste. Soms word die naam gebruik saam met Elohiem, byvoorbeeld Elohiem Eljoon, God die Allerhoogste. Sien Ps 57:3 en Ps 78:56. Soms word Eljoon ook saam met Jahweh gebruik, byvoorbeeld Ps 7:18 en Ps 47:3 en Ps 97:9. Ook word die naam Eljoon gebruik saam met El (God). Byvoorbeeld El Eljoon, God die Allerhoogste. Sien Gen 14:18,-22.

Sjaddaj
Hierdie naam kom 48 keer voor in die Ou Testament en word vertaal in Afrikaans met die Almagtige.  Waar Elohiem die naam was van ’n eisende God, is Sjaddaj die naam van ’n gewende God. In Ex 6: 2 staan: “En Ek het aan Abraham, aan Isak en aan Jakob verskyn as God, die Almagtige (El Sjaddaj), maar met my Naam Here (Jahweh) het Ek My nie aan hulle bekend gemaak nie”. In Gen 17:1 staan: “Ek is God , die Almagtige (El Sjaddaj); wandel voor my aangesig, dan sal jy opreg wees”.

El
Die Hebreeuse naam El, wat in Afrikaans vertaal word met God, kom in die Ou Testament  meer as 200 keer  voor (Psalms 72 keer, Job 55 keer en in Jesaja 24 keer). In Deutronomium 5:9 staan: “want Ek, die Here (Jahweh) jou God (Elohiem) is ’n jaloerse God (El)”…..  Die meervoud van El is Eliem. Eliem word alleen gebruik by vreemde gode. Byvoorbeeld: Exodus 15:11 “Wie van die gode (Eliem) is soos U, Here”?

 
Adoon, Adoniem en Adonaj
Die drie name Adoon, Adoniem en Adonaj is aan mekaar verwant en word in Afrikaans vertaal met Here. Die eerste keer wat die woord adoon voorkom in die Bybel is Gen 18:12 waar Sarai haar man Abraham ‘heer’ (adoon) noem. Hier beteken adoon meester.  As naam van God word Adoon gebruik in Ex 34:23: “Al jou manspersone moet drie maal in die jaar voor die aangesig van die Here Here (Adoon Jahweh), die God (Elohiem) van Israel, verskyn”. In Deut 10:17 staan: “Want die Here (Jahweh) julle God (Elohiem) is die God (Elohiem) van die gode (Elohiem) en die Here (Adoon) van die here (Adoniem); die grote, magtige en gedugte God (El)…..”. Die naam Adonaj kom ongeveer 300 keer voor in die Ou Testament en word alleen gebruik as aanspreektitel vir God.


Jahweh Zebaoth
Jahweh Zebaoth word in Afrikaans vertaal met Heer der Leërskare. Die naam word meestal met Jahweh verbind, byvoorbeeld Ps 89:9: “o Here (Jahweh), God van die leërskare (Elohiem Zeboaoth), wie is soos U? Grootmagtig is U, o Here (Jahweh)”. Soms word die sterre ook aangedui as Zebaoth en vertaal met leër, byvoorbeeld Deut 17: 3: “en ander gode gaan dien en voor hulle neerbuig, en voor die son of die maan of die hele leër van die hemel….”. In die nuwe vertaling word die woorde “ hele leër van die hemel” vertaal met “enige ander hemelliggaam”. Sien verder ook Deut 4:19, Deut 29:26, 2Kon 17:16, 2Kon 21:3, 2Kon23:5,11, Jer 7:18, Jer 44:17,19,25. Amos 5:25-26, Sef 1:5 en Hand 7:42,43, waar die naam Zebaoth dui op hemelliggame. Maar Zebaoth dui ook heel duidelik op engele, byvoorbeeld 1Kon 22:19 en 2Kron 18:18 en Job 1:6 en Jes 24:21 en Neh 9:6 en Ps 103:21 en Luk 2:12-14.


El Olaam
Die woord Olaam dui op ’n Ou God en word vertaal met Ewige God. In Gen 21:33 staan: “ En hy het ’n tamarisk in Berséba geplant en daar die naam van die Here (Jahweh) die ewige God (El Olaam) aangeroep”. Sien ook Jes 40:28: “’n Ewige God (El Olaam) is die Here (Jahweh), Skepper van die eindes van die aarde…”.

Die name van God onder die loep 
Dit is opvallend dat daar vir één Opperwese verskillende name in die Ou Testament gebruik word. Dit is verder opvallend dat hierdie name van God nie direk uit Hebreeus vertaal word nie (alle ander name in die Bybel word direk en keurig vertaal). Hierdie name word vertaal met neutrale aanspreekvorme, naamlik: Heer (Jahweh en Adonai) en God (El, Eloah en Elohiem). Verder word in die vertaling uitgegaan van die veronderstelling dat ''God'' en ''Heer'' ook nog dieselfde entiteit is. 'n Paar name (identiteite) word nou in die Christelike mitologie doelbewus op een hoop gegooi. 

El, Elohiem en Eloah (Arabies Allah)
El is van oudsher 'n Fenisiese God. In die Kanaänitiese mitologie sou hy uitgegroei het tot die Oppergod van die politeïstiese Kanaäniete. Hy was beskou as die Vader van die Gode (God die Vader). El is 'n baie ou Godheid en is hy ook as 'n magtige God beskou. Hy is die Skeppergod, maar word ook verbind met die stier of bul en is dus ook 'n Hemelstiergod. Verder was El ook die eggenoot van Asherah, die oudste Moedergodin van Kanaän. Tog het El ook 'n vroulike vorm geken, naamlik die Godin Elat. Die sentrum van die verering van Elat was die Kanaänitiese stad Elat. Dit blyk uit argeologiese opgrawings dat Elat die Hoofgodin was in hierdie stad, maar ook omliggende stede. Daar is ook ondersoekers wat meen dat die naam Eloah 'n ander spelvorm is van Elat.

Eloah dui op 'n vroulike Godheid terwyl Elohiem dui op 'n manlike Godheid. Eloah en Elohiem was dan kinders van God (El). Daar is ondersoekers wat ook daarop wys dat Elohiem 'n meervoudsvorm is en dui op ''Seuns van God'' en Eloah 'n enkelvoudsvorm. Elohiem en Eloah is hiërargies gesien op 'n laer vlak as die Vadergod El. Die enkelvoudsvorm Eloah is dieselfde as die Arabiese Allah. Uit argeologies opgrawings in Tell Mardikh in Sirië wat dateer uit 2300vC is talle kleitablette opgegrawe waaruit blyk dat El(i) die Oppergod was van die Ebla beskawing uit hierdie omgewing.

Wat vreemd is, is dat die woorde Eloah en Elohiem, in die Bybel, nie alleen op God dui nie, maar ook op vreemde Gode, byvoorbeeld 1Sam 28:13 waar die heks van Endor, Gode (Elohiem) sien. Die vertaling van Elohiem word ook soms verskillend gedoen. In Eksodus 22:28 van die 1951 vertaling van die Nederlandse Bybel staan: “De goden zult gij niet vervloeken”. In die ou Statenbijbel staan: “De goden zult gij niet vloeken”. In die nuwe Afrikaanse vertaling staan: “Jy mag God nie vervloek nie.” Hier is Elohiem soms God en soms Gode (of gode)!

Die meervoudsvorm van El is Eliem of Elim. Maar wat ook hier vreemd is, is dat die meervoudsvorm juis dui op vreemde Gode, byvoorbeeld Exodus 15:11: "o HERE (Jahweh) wie is soos u onder die gode (Eliem)". Vergelyk ook Daniël 11:36: "En die koning sal doen net wat hy wil en homself verhef en hom groot hou bo enige god (El), en teen die God (El) van die gode (Elim) sal hy wonderbaarlike dinge spreek." Hier dui El op god sowel as God. Sien ook Esëgiël 28:2: "Ek is 'n god (El), ek bewoon 'n godewoning (Elohiem) in die hart van die seë - terwyl jy tog 'n mens is en geen god (El) nie - en jou hart gemaak het soos die hart van 'n god (Elohiem)." Sien ook Ps 89:7: "Wie is soos die HERE (Jahweh) onder die hemelinge (Eliem).

Die naam El kom in talryke eiename en plekname voor, byvoorbeeld: Eli, Elia, Elisa, Allah (Al Illah), Joël (Jahweh + El), Israel, Ismael, Daniël, Gabriël, Esegiël, Samuel, Abdullah, Bethel, Ariel, Elad, Eliana, Elias, Elizabeth, Emmanuel, Michael, Nathaniël, Peniel, Raphael, Ragel, Hellas, Eliezer, Sataniël, Uriël, Babel, Carmel, Elbethel, Bel of Baäl, ens.

El, Elim, Elat, Eloah en Elohiem is moontlik afkomstig van van die ou Mesopotamiese God Enlil.

El is mitologies sowel as etimologies verwant aan die Griekse Songod Helios (Helios = El) en die Romeinse Songod Sol.

Helios

Die Afrikaanse woord Al (Almagtig en Alvader) is etimologies verwant aan die Indoeuropese *sal of *sol (Germaanse s- val weg) of Son, waarmee die Germaanse Godin Sunna ook 'n verwantskap toon.

Jaw, Jah, Ya'a, Jahweh, Jam of Jamm
Jaw was ook 'n Fenisiese God. Hy was die God van water: see, riviere en reën. Hy het geheers oor storms en onweer. Die naam kom moontlik van die Hebreeuse hawah (storm) en die Arabiese hawa (atmosfeer, ruimte, wind). Jaw staan onder die gesag van El en soms was Jaw ook gesien as die seun van El. Van alle Gode was hy die vyandigste teenoor die God Baäl. Jaw sou El gevra het om gesag te voer oor alle ander Gode, wat deur El toegestaan was op voorwaarde dat Jaw vir Baäl verslaan. Baäl en Jaw was dus in 'n verbete stryd verwikkel om die tweede belangrikste posisie op die Gode-ranglys. Daar is ondersoekers wat meen dat Baäl en Jahweh broers was (wat mekaar nie kon verdra nie). Die tweestryd tussen Baäl en Jahweh blyk duidelik uit die Ou Testament. Jaw het sy aanhangers verbied om afbeeldinge van hom te maak. Ook talle eiename en plekname is afgelei van Jaw, byvoorbeeld: Abiah, Adalia, Adonijah, Amariah, Joël, Jabin, Jeremia, Joab, Jonathan, Joshua, ens.

Uit die Bybel blyk dat Jaw of Jahweh by die ou Israeliete aanvanklik 'n onbekende God was. In Exodus 3:13-15 blyk dit dat die volk nie die naam geken het van die God (Jahweh) wat Moses aan hulle voorhou het nie. Dan word daar ook 'n 'verbond' gesluit tussen Jahweh en die Israeliete, waar die Israeliete Jahweh as God aanvaar (in Exodus 6:3 ev). In Exodus 32 gaan die Israeliete onder leiding van die pas aangewese hoëpriester Aäron 'n Goue Kalf maak wat hulle sou vereer het as Jahweh (vers 5).

Dit blyk uit ondersoek dat Jahweh deur talle Midde-Oosterse stamme vereer was. Uit kleitablette wat in Babilonië gevind is, blyk dat Jahweh daar vereer was voor 2000 vC. Die aardsvaders Abraham, Isak en Jakob het ongeveer in die 16de eeu vC geleef. In die Kanaänitiese stad Tell Ta'annuk of Taanach is kleitablette gevind waaruit blyk dat Jahweh daar vereer was in die 14de eeu vC. Dit was nog voordat die Israeliete uit Egipte vertrek het.

Daar bestaan 'n aantal moontlikhede wat die herkoms van Jahweh betref. Een daarvan is dat Jaw verwant kan wees aan die Akkadiese I of Ia of die Semitiese Yau. Dit is ook moontlik dat Ia en Yau verwant kan wees aan die Babiloniese Ea of Enki of selfs daarvan afkomstig kan wees. Waar die Ander Gode in die Hemel gewoon het, het Jaw in die see gewoon. Dit sluit egter nie aan by Esëgiël 28:2 nie, want daar staan: "Ek is 'n god (El), ek bewoon 'n godewoning (Elohiem) in die hart van die seë...". El was 'n Hemelgod of 'n God van die Lug. Enki of Aa was ook 'n God van die Water of See.

Adonai, Adonis of Adoni
Adonis was waarskynlik van oudsher 'n Fenisiese God bekend as Adon. In Semities was hy bekend as Adoni. Hy was rasend populêr in die hele Fenisië, maar veral in die Fenisiese stad Byblos het 'n groot tempel gestaan ter ere van die God Adonis. Die Godin Afrodite was vurig verlief op Adonis. By die Romeine was Afrodite vereenselwig met Venus. Adon of Adonis is egter 'n baie ou Godheid. Adonis was nie alleen 'n populêre Griekse God nie, maar ook moontlik verwant aan 'n ander Griekse God Dionysos. (Dionysos kon water in wyn verander). Verder is dit ook moontlik dat daar 'n verwantskap bestaan met die Keltiese Moedergodin Don(n) en ook met die Germaanse God Donar of Thor. Waar die Jode voorkeur gee aan die naam Jahweh en die Islamiete aan Allah, as naam van God, gee die Romaanse volkere voorkeur aan 'n naam wat afkomstig is van Adoon, naamlik in Spaans Dios, in Frans Dieu, in Italiaans Dio en in Grieks Theos.

Adonis en Afrodite

Baäl, Bel en Baälat
Die priesteresse wat aan die hoof gestaan het van die welvarende Kanaänitiese tempels, was aangespreek as Baälat. In hierdie tempels was Moedergodinne vereer. Balaät beteken meesteres. Later het al meer manlike priesters aan die hoof gestaan van hierdie tempels en hulle was aangespreek as Baäl, wat meester beken. Baäl, Bel en Baälat is etimologies verwant aan El. Sommige ondersoekers meen dat Baäl/Baälat die seun/dogter was van El, maar ander ondersoekers meen dat Baäl/Baälat die seun/dogter was van Dagon. Baäl/Baälat wat dus aanvanklik priesteresse en priesters was, sou uitgegroei het tot God(e) en Baäl sou later die Oppergod by 'n aantal Kanaänitiese stamme geword het. Hy was besonder populêr in die hele Midde-Ooste. Later was daar 'n hele aantal Baäl Gode, waarvan Baäl Hadad seker die bekendste was. Baäl is ook dikwels met die son geassosieer (Songod). Baäl was die eggenoot van Anat. Soms was Anat ook beskou as die suster van Baäl. Verder word Astarte soms beskou as die vrou van Baäl. Net soos Jaw, sou Baäl ook vir El versoek het om as koning oor alle ander Gode te heers. Heelwat name is ook afgelei van Baäl, byvoorbeeld: Baale, Baalbek, Baalah, Baalath-Beer, Baale, Baal-gad, Baal-hamon, Baal-hanan, Baal-hermon, Baali, Baalim, Baalis, Baal-meon, Baal-peor, Baal-tamar, Baalzebub of Beelzebub (Baalzebub was beskou as 'n gevalle engel van Satan), Baalis, Ashbaal, Hannibal, Baalgad, Kannibaal, ens.

Ook die Israeliete het Baäl vereer. Hiervan was koning Agab die bekendste, want hy voer die Baälverering in onder die 10 stamme van Israel (hoofstad Samaria). Ook het koning Ahasia (seun van Agab) volgehou om Baäl te vereer, volgens 1 Kon 22:54. Ook voer koning Manasse die Baälverering in volgens 2 Kon 21:3. Koning Amon, die seun van Manassa, sou in sy vader se voetspore gevolg het, volgens 2 Kon 21:21. Volgens Num 25:3 het die Israeliete ook Baäl-Peor vereer. Selfs die Grote Koning Salomo het nie geskroom om talryke (vreemde?) Gode en Godinne te vereer nie, waaronder ook Baäl. Sien 1 Kon 11:1-8. In (en om) die tempel van Salomo was onder andere Asherah, Baäl, die Son, Maan, Sterre, en Astarte vereer volgens 2 Kon 23:4-20. 'n Beeld van Asherah het ongeveer 300 jaar lank in die tempel van Salomo gestaan.

In moderne Hebreeus is die woord vir 'n man (getroude man) baal.

Baäl


Sjaddaj
Sjaddaj was in die bronstyd 'n stad van die Amoriete in Noord-Sirië. El Sjaddaj beteken dan letterlik God/Godin van Sjaddaj. Sjaddaj was 'n Semitiese Vrugbaarheidsgodin en is uitgebeeld met 'n visstert, wat op vrugbaarheid dui. Die Hebreeuse woord Shadayim beteken ook borste (wat op vrugbaarheid dui). Dit sluit aan by Genesis 49:25 waar Jakob sy seun, Josef, seën en Sjaddaj (Almagtige) versoek om Josef te seën met 'n oorvloed van reën, borste (Hebreeus: shadayim) en moederskoot (Hebreeus: racham); volgens die 1933 vertaling. Dit sluit ook aan by Gen 28:3 waar Isak vir Jakob seën: "En mag God, die Almagtige (El Sjaddaj) jou seën en jou vrugbaar maak..."En ook Gen 35:11 "Ek is God die Almagtige (El Sjaddaj). Wees vrugbaar en vermeerder".

In die Kanaänitiese mitologie was die twee identiese berge Targhizizi en Tharumagi baie belangrik. In Akkadies is die woord berg 'shadu'. Daar is ook ondersoekers wat daarop wys dat Sjaddaj die 'God van die Berge' was, bedoelende die tweeling-berge wat ook weer met borste in verband gebring word. Die Hebreeuse 'Šad' beteken bors (of een van die borste).

Sjaddaj was egter nie altyd met vrugbaarheid verbind nie. Dit blyk uit Genesis 14:17ev dat Melgisedek, die koning/priester van Salem, dieselfde God vereer het as Abraham, naamlik El Sjaddaj (Dié Allerhoogste God). Ook uit Exodus 6:2,3 blyk dat die naam El Sjaddaj goed bekend was by Abraham, Isak en Jakob, terwyl die naam Jahweh toe nog onbekend was.

Dit is verder ook moontlik dat Sjaddaj verwant kan wees aan die woord shadad wat vernietig beteken.

Eljoon
Eljoon, Elioun of Eliun was 'n antieke Siriese en Fenisiese Hemelgod. Hy behoort tot een van die oudste Gode van die Midde-Ooste. Die naam Eljoon is moontlik afkomstig van die Hebreeuse woord alaj (rysende). Eljoon was getroud met Beruth (die stad Beiroet is na haar vernoem) en hulle het 'n seun gehad met die naam Epigeus. Die naam Eljoon is later versmelt met El.

Zebaoth
Die Hebreeuse woord zaba kom waarskynlik uit die Assiriese woord 'zabu', wat 'n 'groep' beteken (groep soldate). Zebaoth is die meervoudsvorm van zaba. Die gebruik van die naam in die Bybel is belangrik. In die eerste 5 boeke van Moses, Josua, Rigters, Esegiël en die wysheidsboeke kom die naam Zebaoth glad nie voor nie. In 1 en 2 Konings en 1 en 2 Kronieke en die Psalms kom die naam selde voor. Maar in sommige boeke kom die naam dikwels voor. In die Ou Testament kom die naam 285 keer voor, waarvan 11 keer in 1 en 2 Samuel, 62 keer in Jesaja, 77 keer in Jeremia, 14 keer in die dun boek Haggai, 53 keer in Sagaria en 24 keer in Maleagi. Daar is ondersoekers wat meen dat zaba (Hebreeus) en seba (Arabies) wat sewe beteken, dui op 'n Wese (Wesens) in die 7de hemel (1). Daar is egter 'n aantal ondersoekers wat daarop wys dat Zebaoth op die sterre (soos dit ook in die Bybel staan) dui en dat hierdie sterre gesien was as engele. Hierdie engele was dan ook deur die mense vereer en aanbid, soos uit talle bybelverse blyk, byvoorbeeld 1Kon 22:19 en 2Kron 18:18 en Job 1:6 en Jes 24:21 en Neh 9:6 en Ps 103:21 en Luk 2:12-14.

Name van Gode soos Sothis, Sothesetai, Sirius, Yog-Sothoth en Yat-Zebaoth kan met die verering van sterre in verbinding gebring word.

 

Gevolgtrekking
Die Gode El, Eloah, Elohiem, Jahweh, Adonai, Sjaddaj, Eljoon en Zebaoth wat in die Christelike mitologie as één God beskou word, is in werklikheid verskillende Gode met elkeen 'n eie herkoms en funksie. Hierdie Gode is deur die Israeliete oorgeneem uit ander stamme in die Midde-Ooste en eie gemaak. Die vertaling van die Bybel dui op 'n geforseerde monoteïsme, waar selfs Heer en God as sinonieme (dus één entiteit) beskou word. In die Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling word selfs geen onderskeid gemaak tussen HEER (Jahweh) en Heer (Adonai) nie. Die onderskeid was wel in die 1933 vertaling gemaak.

In Engels het 'n mens die woord "Hoar" (Heer, Duits Herr, Oudengels Har) verwag, in plaas van die huidige woord "Lord". Die Engelse woord Lord is afkomstig van 'n baie ou Germaanse God Lodur. Sien Lodur onder herkoms van woorde.

(1) Vergelyk ook die sewe hemels wat Mohammed op sy nagreis besoek het.