Godsdiensewolusie

Daar is ondersoekers wat verskillende fases aandui in die ewolusie van godsdiens soos dit plaasgevind het in die verskillende kontinente. Hieronder word enkele aspekte uitgelig in hierdie ontwikkelingstrajek.

Die Natuur
Met die groterwordende breinvolume van die mens het ’n tyd ook aangebreek waarin die mens oor sy omgewing begin nadink het. Hy het verklarings gesoek. Die mens het vroeër baie meer in die natuur gelewe as die moderne mens. Vir hierdie pragtige natuur wat die direkte leefomgewing van die mens uitgemaak het, was daar ’n baie groot bewondering. Die natuur het gelewe. Begrippe soos organies en anorganies was onbekend. Die grond, water, wind, weer, rotse, ens, het gelewe (1). Hierdie respek (en angs) vir die natuur en sy ontembare kragte sou ook lei tot ’n verering van die natuur. In hierdie stadium was Gode nog afwesig. Hierdie oerverering van die natuur het in Europa op termyn verdwyn, maar in die Japanse Sinto vind natuurverering vandag nog steeds plaas.

Geeste
Behalwe die verering van die natuur het ook geeste op die toneel verskyn (verwant aan die woorde gas (besoeker) en ghost (Eng)). Die sterwende mens het hiertoe aanleiding gegee. Die mens wil vir ewig lewe. Sy bestaan omvat liggaam en gees. By die dood sterf net die liggaam. Die gees leef voort. By die verlies van ’n familielid het die gees van die oorledene steeds bly leef onder die familie, sibbe of stam. Dit het gelei tot die verering van gestorwe gesinslede. In Afrika is die verering van die voorours steeds aktueel.

Beelde en Gode (Godinne)
Uit die natuurelemente sou Gode gegroei het. Die Son, Maan, Sterre, bome, water, see, ens, is vereer. Hulle het magtige heersers geword om mee rekening te hou. Uit die verering van Lewende bome, sou later totempale gegroei het (gekerf word). Hierdie houtbeelde of totempale het ’n tasbare simbool geword van ’n nuwe generasie Gode. Dit was mensagtige figure wat magtiger was die Natuur en oor die natuur geheers het, maar nog deel was van die natuur. Die Lewende boom, word 'n heilige boomstam en hy word gevorm (gekerf) na die beeld van die mens. Hy word aanbid en vereer. In 'n volgende stadium word die totempaal steeds aanbid, maar is hy nie die Aangeroepe nie, maar ’n medium of verteenwoordiger van die Aangeroepene. Die Aangeroepene is nou 'n Spirituele figuur wat hoër in aansien en mag staan as sy medium (Heilige boomstam).

Mense en diere word Gode
By die ou Kelte en Germane was geglo dat diere en veral sommige diere (soos honde) toegang het tot die Ander wêreld. Die Egiptenare het geglo dat Gode in die begin mense was wat gesterf het en teruggekeer het tot die lewe in die vorm van diere. Talle Egiptiese Gode en Godinne word as half mens half dier afgebeeld. Dat daar 'n verband bestaan het tussen Gode en diere blyk uit die Engelse woord animal. Ani- is verwant aan aan Ans of Ase (Germaanse Gode). Die Afrikaans-Nederlandse woord dier en die Duitse woord Tier is verwant aan die Germaanse God Tiwas/Tyr.

Offers
Daar het ook ’n behoefte ontstaan om iets te gee of te offer aan die Gode of Godinne uit dankbaarheid, maar ook om die Gode of Godinne te beïnvloed. Deur ’n kosbare geskenk te gee aan ’n mens (of ’n God), wil die gewer die stemming van die ontvanger beïnvloed. Die offer het verskyn. Plante en diere is geoffer aan die Gode en Godinne. Maar ook mense was geoffer (vergelyk Exodus 22:29-30 waar alle eersgebore seuns geoffer moes word). Selfoffers was die allerhoogste offer. Die Germaanse God Wodan sou homself offer asook Jesus.

Monotheïsme na Politeïsme na Monotheïsme
Daar was altyd 'n stryd tussen monoteïsme en politeïsme. Die droom en ideaal is die verering van slegs één God. Is hierdie ideaal bereik in 'n stam het dit nie lang geduur voordat sommige stamgenote van mening was dat die God van die bure magtiger was as hulle eie God nie en is dié vereer. Wanneer 'n nuwe heerser aangetree het, het hy sy God as die enigste toegestane God in sy Ryk verklaar. Soms was die saak opgelos deur 'n Oppergod te aanvaar tesame met ander Gode wat laer in rang was. Met die koms van die Christendom na Europa moes alle Keltiese en Germaanse Gode die veld ruim. Alhoewel ook die Christendom verklaar dat dit 'n monoteïstiese Godsdiens is, word drie Gode aanbid, met God die Vader as die Oppergod.

Die nuwe 'Gode'
Die Germaanse- en Keltiese Gode in Europa is verdring deur die Christelike God(e). Tans word die Christelike God(e) verdring deur die moderne wetenskap en tegnologie. Met die koms van die moderne wetenskap word die eertydse ‘onverklaarbare’ vraagstukke helder verklaar. Die werking van die natuur word begryp. Die Son is nie ’n goddelike wese nie, maar ’n vuurbal (dagster). Die Maan is nie ook ’n goddelike wese nie, maar ’n planeet, ens.

Naas die moderne wetenskap, staan ook sporthelde, filmsterre, miljoenêrs en bestuurders van groot besighede in die kollig waar vroeër Gode, Godinne, predikante, theoloë en priesters gestaan het.

Daarbenewens is daar ook weer 'n groeiende aantal mense wat die natuur vereer soos wat ons voorouers dit gedoen het.

 Funksies van Godsdiens

a) 'n Belangrike funksie van godsdiens is om onverklaarbare vraagstukke te verklaar. Verklaring is ordening. Ordening bring berusting. Wanneer die mens nie 'n antwoord kan vind op 'n fundamentele vraagstuk nie, word dit toegeskryf aan die werk van 'n God.

b) Nog 'n belangrike funksie van godsdiens is dat dit die mensdom soet hou. Godsdiens vorm die basis by die vasstelling van maatskaplike norme. Daar word reëls gestel en by die oortreding hiervan volg 'n straf, hetsy tydens die aardse lewe, hetsy in die Hiernamaals.

c) Nog 'n belangrike funksie van godsdiens is dat dit dien as 'n waarborg vir 'n (hemelse) lewe na die dood, vir diegene wat hulle aan die reëls gehou het.

d) Die laaste belangrikste funksie van godsdiens is dat die gelowige glo dat hy/sy tydens die aardse lewe, beskerm word deur 'n God of Gode.

In die laaste fase van godsdiensontwikkeling:

a) word alle fundamentele vraagstukke verklaar deur logiese denke en die moderne wetenskap;

b) word die maatskappy soet gehou deur wette van die regering, waarop 'n straf volg by die oortreding daarvan;

c) word steeds geglo in 'n lewe na die dood, soos blyk uit ondersoek by mense wat 'n byna-dood-ervaring gehad het (onder gelowiges sowel as ongelowiges);

d) gaan die individu hom/haar self beskerm of word 'n beroep op die gereg gedoen.

 

1) Water was as lewende beskou. Elke Germaanse kind is met ‘lewende water’ gedoop na sy/haar geboorte. Die lewende water moes die lewe in die pasgebore kind aandryf. Vergelyk die God van die See: Aegir (in Latyn en Grieks oseaan) en Don van die blou Donau.