Hemel en Hel

Met die koms van die Christendom na Germaanssprekende Europa ongeveer 1,500 jaar gelede, moes die taalgebruik van die nuwe godsdiens pasgemaak word op die reeds bestaande taal en dit was nie so eenvoudig nie. Voor ons kerstening het die woord 'hel' nie die betekenis gehad van ’n warm plek waar ’n vuurtjie brand om sondaars te verteer nie. Dit woord hel het toe nog beteken: veilige plek. Die woorde hel, hil, heuwel, hol, heul, hal, hemel, hof en hawe kom van dieselfde stam.

Ons voorouers was holbewoners. Hierdie hol of hole was dikwels in ’n heuwel en is later na die holte onder die heuwel, sowel as die heuwel self, verwys as hol, hel, hal, heul, hil, heuwel, hemel of hof. Die betekenis was positief. Dit het verwys na ’n warm en gesellige nes (of huis). Die woord 'heel', staan ook hiermee in verband. Plekname in Nederland wat nog steeds dui op hierdie gesellige plekkies is Helledoorn, Helmond, Holwerd, Hilversum (Hil+fort+soom) en nog vele meer. Maar ook Holland! Vandag hoor 'n mens in Nederlands die volgende uitdrukking: 'Ek waag my in die hol van die leeu'. Dit beteken ek waag my op gevaarlike terrein (in die nes van die leeu). In Apeldoorn in Nederland vind ’n mens ’n apepark met die naam Apenheul. Apenheul beteken apehol of apenes. In Afrikaans het die woord hol ’n negatiewe betekenis gekry. Dit was gebruiklik tydens die kerstening om alles wat toe nog Heidens was in ’n swak lig te beskou. Hol was so ’n woord. Die holbewoners (Holle en Hollinne) was laaste gekersten. Hulle was die agtergeblewenes waarop die Christene neergesien het. Volgens sommige ondersoekers het Hollinne en Holle egter ook gedui op aardgeeste. Maar 'n gees = gas (want beide woorde is verwant) wat ook weer daarop dui dat geeste mense was.

Met die vyand heul beteken in dieselfde nes kruip. Van die woord hel het ons ook helling (skuinste) en omhel (omval). Die werkwoord hol kom van iets wat teen 'n skuinste van die helling in beweging kom. Dit raak op hol. 

By ons ou Germaanse voorouers was die Hel (of ook helheim) die Hiernamaals van die gewone mense. Die Godin Hel het oor hulle siele gewaak (in die onderwêreld). In sommige stamme was Helheim self die Godin. Gevalle soldate het na 'n ander Hiernamaals gegaan, bekend as die Walhalla. Wal=val (gevalle kryger) en halla = hal of hel.

Die woord Heim (of ham) sluit hierby aan. Die woord ken ons in baie plekname in die Germaanse lande en dit beteken: veilige plek. Dink aan Hamburg, Hamersham, Oostham, Stutterheim en nog vele meer. In Afrikaans ken ons die woord inham wat nog op die betekenis dui. Die Engelse woord home (veilige plek) kom ook van ham/heim. Die woord hemel is afgelei van woord ham/heim. Vergelyk ook die Oudengelse heofon, Oudnoorse himinn, Gotiese himins, Oudfriese himul en Duitse Himmel, afkomstig van die Proto- Indoeuropese wortel *kem-/*kam- "dekking".

Verder is die woord Hof verwant aan hierdie groep woorde (vergelyk Oudengelse heofon, moderne Engels heaven, Afrikaanse hawe en Nederlandse haven). Hof het in die voorchristelike tyd die betekenis gehad van Heiligdom of Tempel. 'n Hof is ook beskou as die woonplek van die Gode. In dié tyd was konings gesien as afstammelinge van Gode en het ook kongings gewoon in 'n Hof. Maar 'n Hof was ook 'n grafheuwel, waar die voorouers in begrawe is (of hulle as begrawe is). Die Hof (of Heuwel) was van duidelike grenspale voorsien, soms van hout en soms van klip. Op hierdie grens was regsittings gehou (in die aanwesigheid van die oorlede voorouers). Die woord Hof ken ons vandag nog in die woorde kerkhof en geregshof. Die grens van die ou Heidense Hof het bekend gestaan as die Wand. Rondom die Hof was daar 'n pad. Hierdie pad het bekend gestaan as die Wandeling of Wandelgang. Die mense van destyds het sake in en om die hof bedink en bepeins. Die uitdrukking - om iets in die wandelgange te verneem- dateer uit hierdie tyd. Vergelyk ook die Engelse betekenis van die woord wand.