Kerstening van die Franke

Rondom die begin van ons jaartelling was hierdie Germaanse stamme aanwesig ten noorde van die Ryn. Hierdie Franke het bekend gestaan as die Ruaparisie Franke.  Later sou die Franke ook die gebied ten suide van die Ryn beset, naamlik die huidige Nederland, België en Noord-Frankryk. Hierdie suidelike Franke het bekend gestaan as die Saliese Franke en hulle het spoedig met die Romeine in aanraking gekom. Hulle het die gewoontes van die Romeine vinnig ingeburger. In 476 sou die Romeinse gesag ineenstort met die afsetting van die laaste Romeinse keiser Romulus Augustus. In 486 verslaan die Frankiese koning Clovis die Romeinse generaal Syragrius by Soissons en val die noorde van Gallië in die hande van die Franke. Dit was die begin van die opkoms van ‘n magtige Frankiese Ryk. Hierdie Frankiese koning het sy hofhouding verskuif na Lutetia (Parys) en die hele gebied wat as Gallië bekend was sou onder die nuwe heersers Francië genoem word. Clovis was die eerste Germaanse heerser wat die Christendom aanvaar het en dit onder sy onderdane versprei het. Dit was veral op aanbeveling van sy vrou. Daarbenewens het die Christelike sendelinge gou besef dat dit geen sin het om die gewone mens te probeer kersten nie. Die koning en die adel moes eers gekersten word.

Tussen die 6de en die 8ste eeu sou die Frankiese mag uitbrei tot die magtigste staat in Europa. Sien die kaart hierby. In Francië (voorheen Gallië) heers Germaanse Franke, maar hulle assimileer spoedig met die Kelte wat intussen verromaans het en Latyn begin praat het (in plaas van hulle Keltiese tale). Die Frankiese konings en adel het egter Germaans gebly en dikwels hulle kinders na die Noorde gestuur om behoorlik Germaans (Frankies) te leer in plaas van die swak Frankies wat in Parys met Latyn verbaster begin raak het. Na die val van Karel die Grote sou Frankies (Germaans) langsamerhand verdwyn in Francië. ‘n Nuwe Latynse taal (Frans) het in Francië ontstaan. In navolging van die Kelte, het ook die Saliese Franke op groot skaal verromaans. ‘n Mens sou eintlik verwag dat die Kelte in die suide van Francië sou germaniseer, omdat die nuwe heersers Germane was, maar dit het nie gebeur nie. Die rede hiervoor was dat Latyn reeds ‘n elitistiese aansien gehad het, al was die mag van Rome gebreek. Tot 500 jaar gelede was die hele Noord-Frankryk nog Germaanstalig. Die stammestryd tussen die Kelte en Germane in Frankryk het tot ‘n paar eeue gelede steeds bestaan. So skryf Katharina die Grote in 1793:  “Besef u nie wat in Frankryk gebeur nie?  Die Galliërs (Kelte) probeer om die Franke te verdryf!”

Onder gesag van Karel die Grote (742-814) sou die Frankiese Ryk die toppunt van sy mag bereik, met as hoofstad Aken (in Duitsland). Met die troonsbestyging van Karel die Grote was die Franke al gedeeltelik gekersten.  Hy het ‘n baie groot bewondering vir Rome gehad (selfs al was Rome nie meer ‘n wêreldmag nie). Alles wat Romeins was het hy aan sy onderdane probeer verkoop, naamlik die onderwys, boukuns, wette, lewensbeskouing, religie ens. Onder die bewind van Karel die Grote sou begin word met formele onderwys in die Germaanssprekende gebiede, iets wat voorheen nie bestaan het nie. Hiervoor het Karel die nodige kundiges uit Rome laat haal. Die Romeinse Christendom was vir Karel die toonbeeld van die beskaafde wêreld. Onder sy bewind is begin met ‘n harde aanslag op die Heidendom. Alle burgers van sy ryk moes gekersten word, hetsy vrywillig, hetsy onder dwang. Wie die Christelike godsdiens nie wou aanvaar nie, is die doodstraf opgelê. Hiervoor het hy ‘n hele aantal wette uitgevaardig, bekend as die Capitularia.

Gedurende die regeringstyd van Karel die Grote (en ook dié van sy seuns) is die bevolking voortdurend opgeroep om alle “Heidense” geskrifte in die openbaar te verbrand. Hierdie openbare en vrywillige verbranding van die “Heidense” tekste sou die besitter vrywaar van ‘n swaar straf (lees doodstraf). Alle geskrewe tekste in die Germaanse tale was verbode. ‘n Skat aan letterkundige, geskiedkundige en religieuse inligting oor ons voorouers het hier in vlamme opgegaan. Terloops die vertaling van die Bybel na Germaanse tale was ook verbode. Eers in die 14de eeu het anonieme(1) vertalers dit gewaag om Bybeltekste in Germaanse tale te vertaal. Tot in die 16de eeu moes Bybelvertalers baie versigtig te werk gaan en dikwels hulle drukkerye verskuif om vervolging te ontduik. Eers teen die einde van die 16de eeu kon vertalers ongehinderd Bybels vertaal en verkoop in die Germaanse tale.

In 800 het die Pous die hulp van Karel die Grote ingeroep om die onrus in Rome te onderdruk. Karel die Grote het die kans waargeneem en Rome binnegeval en onderwerp. Hy is deur die Pous tot keiser, “imperator et augustus”, gekroon. ‘n Keiser was belangriker as ‘n koning. In werklikheid het dit beteken dat Karel die Grote weggedoen het met die ou sakrale koningskap van die Germane, waardeur die vors sy goddelike waardigheid regstreeks van die Gode ontvang het. Karel die Grote het hom as keiser in werklikheid onderwerp aan die Christelike priesterkaste en sou in die toekoms die militêre arm van die kerk word. Die grootste en mees dramatiese uitdaging vir Karel die Grote was die onderwerping en kerstening van die Sakse in die noorde van Duitsland.

Karel die Grote kon die Franke egter nie gedurende sy eie lewe volledig kersten nie. Sy seuns sou die werk voortsit, maar van ‘n volledige kerstening was daar eers baie later sprake. Veral op die Duitse platteland sou Heidense gebruike nog lank voortduur. In Keulen het vroue in 1333 nog aan Heidense rituele deelgeneem. In 1398 het die bevolking nog drie vuurtonge (meteoriete) sien neerdaal op Horselberg in Thüringen. Dit is gesien as ‘n verskyning van die godin Horsel.