Kerstening van die Kelte

Dit is nie duidelik wanneer die Kelte as groep ontstaan het nie, maar 3,000 jaar voor ons jaartelling was hulle in Europa aanwesig. Kelties is ’n Indo-Europese taal waarby al die tale van Europa behoort met uitsondering van Fins, Ests, Magyaars (Hongaars) en Baskies. Eersgenoemde drie tale is aan mekaar verwant. Uit die telwoorde van tale kan die verwantskap duidelik gesien word. Vergelyk die volgende:

Afrikaans Een Twee Drie
Duits Eins Zwei Drei
Iers Aon Tri
Wallies Un Dau Tri
Grieks Énas Duo Treis
Latyn Unus Duo Tres
Russies Odin Dva Tri
Persies Yak Do Se
Sanskrit Eka Dvi Trí
Baskies Bat Bi Hirur
Hongaars Egy Kettő Három
Fins Yksi Kaksi Kolme

Die Kelte is/was woonagtig in Ierland (Gaellics), Engeland (Celtics), Frankryk (Galliërs), Spanje (Galiciërs),  Italië en Wes-Oekraïne (Galazi), Turkye of Klein-Asië (Galate), Palestina (Galilea), Suid-Nederland (Batawe), Wallis en ook Wallonië in België. Reste van die Keltiese tale vind ons vandag nog in Wallis, Skotland, Ierland, Bretagne (Frankryk) en ook in Galiza in Spanje.

Dit was nie altyd maklik om op die grensgebiede tussen die Germane en die Kelte 'n duidelike streep te trek tussen die twee groepe nie. Sommige stamme was deur geskiedskrywers as Kelte bestempel terwyl ander geskiedskrywers dieselfde stamme weer as Germane beskou het.

Die Keltiese soldate het dikwels hul liggame in oorlogskleure geverf en met wit gekalkte hare, ter stryde getrek. Hulle het ook voor die stryd in ‘n ekstase of beserkte toestand gegaan. Hulle was woeste en gespierde manne net soos die Germane, met blonde of rooi hare en groot baarde en snorre.  Tatoeëring was ook baie gewild. Die Romeine het hulle heldhaftige krygers genoem, maar hulle ook beskryf as twissiek en altyd op soek na rusie. Die Griekse skrywer Strabo (64vC - 21 nC) skryf dat die hele Keltiese ras oorlogsgek was. Etenstye het daar baie dikwels rusies ontstaan wat weer gelei het tot tweegevegte.

Die Keltiese maatskappy het uit verskillende kaste bestaan wat ook kenmerkend is van die Hindoes, maar ook die Germane. Die booste laag van die Keltiese maatskappy het bekend gestaan as die Druïde en kom ooreen met die Brahmane van die Hindoes. Die woord druïd is moontlik verwant aan die Griekse drus wat eik beteken. Beide die geskiedskrywers Strabo en Plinius Secundus het hierdie mening gehuldig. Daar is ondersoekers wat ‘n  verband sien met dru-wid (eik-kennis). Wid = weet.  Wid is in Sanskrit vid en die woord kom ook voor in die Veda’s van die Hindoes, die oudste religieuse tekste in ’n Indo-Europese taal. Die betekenis van Druïde was dan: Besondere kundige. Die verering van heilige bome het sentraal gestaan in die kultus van die ou Ariese rasse en is dit daarom nie vreemd dat die woord Druïde op ’n boom dui nie. Ook die Hindoes vereer ´n soort vyeboom. Die oorsprong van die Keltiese kaste stelsel lê ongeveer 6,000 jaar in die verlede toe groot eike-woude Europa bedek het. Eikels (akkers) was toe ook beskou as ’n belangrike voedselbron wat tewens ook lang bewaar kon word. Hesiodus (700vC.), Pausanias (5de eeu vC.) en Galenus (129-199) vermeld die belangrikheid van eikels as voedselbron vir die mens. Strabo vermeld dat die Kelte brood gebak het van meel afkomstig van eikels.

Nie alle Keltiese stamme het die eik vereer nie. Sommige stamme het ander bome geken as hulle stamgebonde heilige boom, Lewensboom (cran bethadh) of Boom van kennis wat in die middel van hul grondgebied gestaan het. Stamme wat onderling stryd gevoer het, het juis probeer om die heilige boom van die teëparty te verniel. Die uitgangspunt was: My God is groter as jou God (Dit is ook ’n Christelike persepsie). Hierdie Lewensboom is as ´n simbool beskou van die Gode of die Oppergod (Vader van die Gode) of selfs die Eikegod. 

Ook by ander Europese volkere is die eikeboom as ´n God beskou. Die Litouers assosieer die eikeboom met Perkanus, die God van die donder. By die Slawe word die eikeboom met die dondergod Perun in verband gebring. Heilige eike is ook deur die Germane vereer en ook weer in verband gebring met die dondergod Donar/Thor. Omdat eikebome groot is, word dit makliker deur weerlig getref en vandaar die verband met ´n Dondergod. Met die koms van die Christendom was eike bome genadeloos gevel. Tog is nie alle eikebome gevel nie, maar soms het hulle ikone van die Christendom geword. Katolieke kerke in Anjou en Orthe in Maine dra die name: “Ons Vrou van die Eik”. Met die opkoms van die protestantisme was daar weer ’n tweede veldtog gevoer teen eikebome. Die eik het intussen ’n simbool geword van die katolieke kerk. Mariabeelde is daarin staangemaak of daarin opgehang. Die gevolge vir die eikeboom was enorm. Ondersoekers meen dat die eikboom op hierdie manier vir ’n groot deel uit die natuur verdwyn het en sy plek deur ander bome ingeneem is.

Daar is sowat 150 monumente gevind met afbeeldinge van die Keltiese Oppergod of Vadergod waarby ook ´n eikeboom staan wat soms verder versier is met eikeblare en eikels. Die eik het diep spore getrap in die religieuse belewing van die ou Kelte en Germane. Vandag pryk ´n eikeblaar op die vlag van Kanada. Die Eik het simbool gestaan vir die manlike Oppergodheid waar water simbool gestaan het vir die Moedergodin. Die Keltiese Moedergodin heet Danu (water uit die hemel) en is die rivier Donau ook na haar vernoem. Net soos die Germane het die Kelte water beskou as 'n lewende entiteit. Water het magiese en medisinale eienskappe gehad. Water uit sommige bronne was heilig. Ook seewater is as heilig beskou.

Die Keltiese priesterklasse word deur sommige ondersoekers in drie klasse verdeel, naamlik die Druïde, Vates (sieners) en Barde (digters). Die Druïde, Vates en Barde het 'n leidende rol gespeel in die Keltiese gemeenskap. Hulle was priesters, regters, adviseurs, historici, astonome, sieners, sangers, filosowe en digters. Hulle het baie nou met die natuur saamgeleef en van voorspellings gebruik gemaak wat hulle uit die natuur ontleen het. Hulle is as wandelende ensiklopedië beskou. Die Druïde (maar ook Vates en Barde) het nie alleen net uit mans bestaan nie. Verskillende Griekse en Latynse skrywers maak melding van vroulike Druïde, Dryaden of Druïdesse. Die Druïde was die hoogste rang in die Keltiese gemeenskap. Enigiemand kon Druïde word; dit was nie oorerflik nie. ‘n Student in die Druïsme kon soms vir 20 jaar aan die vak studeer voordat hy of sy as volwaardige lid toegelaat is. ‘n Groot hoeveelheid inligting moes van buite geleer word. Elke Druïde moes alles weet op die gebied van die wet, spirituele sake, poësie, volksverhale, mites, godsdiensrituele, astronomie, astrologie, genealogie en die geskiedenis van die stam. Volgens Caesar (1) was dit in die Keltiese gemeenskap verbode om hulle kennis op skrif te stel. Daar word bespiegel dat die Druïde moontlik bevrees was dat die gewone volk dan toegang sou verkry tot hulle hoogs gespesialiseerde vak vol geheime kodes. Aan die Druïde is dus swaar intellektuele eise gestel. Die volk het geglo dat die Druïde mag gehad het oor storms, winde en reën. Ook sou hulle in staat gewees het om 'n vyand te gebied om die wapens neer te gooi. Die Druïde, Vates en Barde was vrygestel van militêre diensplig. Beide Caesar en Strabo vermeld dat die aansien van die Druïde in die Keltiese gemeenskap besonder hoog was. Alle regters was Druïde en hulle uitspraak is nooit betwis nie.

Met die koms van die Romeinse Christendom het 'n skat aan kennis egter verlore geraak. Teen die tyd dat daar begin is om aantekeninge te maak, was ‘n groot deel van die Kelte reeds gekersten en was die kennis al verlore. Omdat die kerk neergesien het op die Keltiese kultuur, het die Kelte spoedig begin glo dat hulle eie taal, kultuur en opgeboude kennis, waardeloos was. Sommige Druïde het egter geruisloos oorgegaan tot die Christelike geloof en 'Christelike' priesters geword sonder om aanvanklik veel van die ou geloof prys te gee. Op die manier het hulle steeds deel gebly van die intellektuele klasse. Tog het die Romeinse heersers hard probeer om die gebruike van die Druïde uit te roei. Augustus, Teberius en Cladius het die Druïsme so ver moontlik probeer verbied en dit probeer uitroei. Die Romeinse heersers was bevrees dat die Keltiese intellektuele klasse die Romeinse gesag sou ondermyn.

'n Verdere kenmerk van die Kelte was die voortdurende soeke na Kennis en Waarheid. Dit word beskou as een van die belangrikste fondamente van die Keltiese mitologie. Die Daad van Waarheid sou selfs magiese kragte gehad het. Dit is ook opvallend dat die Oud-Ierse woord vir waarheid ook die basis vorm van ander Ierse woorde wat heiligheid, geregtigheid, trou, godsdiens en ook regverdigheid beteken. Self in moderne Iers kan 'n mens vandag sê: 'Tá sé/sí in áit na fhírinne anois' om aan te dui dat iemand dood is. Die woorde beteken dan letterlik: 'Hy/sy is op die plek van Waarheid'. In die Avesta (Heilige boek van die Perse) staan die naam van die hiernamaals vermeld as Asa en dit beteken waarheid. In die Veda's (Heilige boek van die Hindoes) word die naam van die hiernamaals Rta genoem en Rta beteken ook waarheid. Volgens die Veda's hou Waarheid die aarde in stand.

Die persepsie van die Kelte oor die hiernamaals het verskil van die van die meer strydlustige Germane met hulle Walhalha en Hel. Die hiernamaals van die Kelte heet in Iers Tir na n'Og wat letterlik beteken: land van herkoms. Vir die Kelt is die hiernamaals 'n rusoord waar dit lekker warm is, die natuur pragtig is, waar dit altyd lente is, waar baie blomme is, baie voëls en baie waterstrome. In hierdie oord word niemand siek nie en niemand oud nie. Die Kelte was net soos die Germane nie bang vir die dood nie. Die hiernamaals was 'n voortsetting van die lewe op 'n ander plek (ander wêreld). Daarom is gereedskap en wapens saam met die oorledene begrawe of veras vir gebruik in die hiernamaals. Valerius Maximus skryf in die eerste eeu dat Kelte skuldooreenkomste aangegaan het met die bedoeling om die skuld in die hiernamaals te vereffen. So sterk het die Kelte geglo in die voortbestaan van lewe na die dood.

Net soos by die Germane, het ook die Kelte hulle nie besig gehou met die 'kwaad' nie en het hulle geen besef gehad van sonde, erfsonde en straf nie. Hulle lewensuitkyk was positief en die soeke na eer en eervolle optrede was hulle hoogste strewe. Maar ook die soeke na Kennis was vir die Kelte 'n hoë prioriteit. In die Keltiese mitologie is daar besonder weinig monsters en demone.

Uit opgrawings in Ierland (waar die Romeine nie geheers het nie) is talle musiekinstrumente gevind wat uit die 7de eeu dateer. Dit het fluite, trompette, trommels en snaarinstrumente ingesluit. Hierdie instrumente is ook afgebeeld op aardewerk wat opgegrawe is. Uit afbeeldinge op die aardewerk blyk ook dat die Kelte van sang en dans gehou het.

Die Kelte het ook 'n deeglike studie gemaak van die sterre, die son en die maan. Hulle was uitmuntende astronome en astroloë. Die Keltiese kalender getuig van die hulle kennis van die astronomie. Hierdie kalender staan vandag bekend as die Coligny- kalender omdat 'n goed bewaarde kalender gevind is te Coligny in die huidige Frankryk. Hierdie kalender het 'n siklus gehad van drie jaar (sommige ondersoekers meen 5 jaar). Aan die einde van elke 3 jaar siklus is 'n 13de maand ingevoeg. Dit was gedoen om ook tred te hou met die sonkalender. Elke maand het begin by volle maan, maar daar is ondersoekers wat meen dat elke maand begin het by nuwe maan. Hierdie kalender kom ook ooreen met die kalender van die Hindoes. Maande het uit 30 dae bestaan. Daar is ook ondersoekers (byvoorbeeld John Rhys in sy boek Origin and Growth of Religions as Illustrated by Celtic Heathendom) wat daarop wys dat die Kelte 'n week gehad het wat uit 9 nagte bestaan. 'n Week van 9 nagte was egter ook by die Germane en die Romeine bekend. Die 9de nag is beskou as die begin/einde van 'n periode (week). In Iers dui die woorde nómad en noínden op 9 tydseenhede. Drie weke van 9 nagte sou dui op 'n maand van 27 nagte en 27 is ook 'n belangrike getal in die Keltiese mitologie. In die diereriem van die maan is daar 27 tekens. Dit kom ook weer ooreen met die Hindoeïsme waar die maan, Soma, 27 sterre as vroue het.

Daar is ondersoekers (byvoorbeeld Peter Berresford Ellis in sy boek The Druïds) wat daarop dui dat die Kelte kundige astroloë en astronome was voor die koms van die Christendom. Met die koms van die Christendom is hierdie kennis vernietig. Eers later, in die 14de eeu, sou kennis oor die astrologie/astronomie weer oor die Keltiese gebiede versprei, maar hierdie keer onder Arabiese invloed. Die ou Keltiese terminologie het verlore geraak. In Engels is vandag 183 terme in die astronomie/astrologie ontleen uit Arabies, nege uit Arabies of Latyn, drie uit Persies, en 14 uit Grieks of Latyn. Die persepsie word gewek dat die Heidense Kelte geen kennis gedra het van die astrologie/astronomie nie.

As gevolg van hul oorheersing het die taal, kultuur en godsdiens van die Romeine vinnig deur hulle hele ryk versprei, en veral op die Europese vasteland. Op die Britse eilande was die proses stadiger. Die Kelte het die Sakse wat vanaf 350nC Engeland binnegekom het as bondgenote teen die Romeine beskou en dit het ook die romanisering teëgewerk. Gedurende die 5de eeu het nog veel meer Germane na die Britse eilande verhuis. Nog meer Sakse het gekom en ook Jute, Angele en Friese. In plaas daarvan dat Engeland meer sou verromeins, het die gebied meer van die Germaanse kultuurgoedere oorgeneem. Oor die verromeinsing van die Kelte skryf die Romeinse skrywer Sidonius Apollinarius (431-489) dat die Kelte lank tweetalig was (Kelties-Romeins), maar dat die ryk en welvarende Keltiese families gedurende die 5de eeu die Keltiese taal begin beskou het as 'n skandvlek en 'n struikelblok in die bestyging van die sosiale leer.

Uit talle Christelike bronne blyk dat die Christelike sendelinge daarop uit was om alle Keltiese geskrifte (of Heidense boeke) te verbrand. In een van hierdie werke bekend as Leabbar na gCeart (Boek van die Regte) word vermeld hoe die sendeling Patrick, 180 boeke van die Druïde verbrand het vroeg in die 5de eeu. Hierdie aksie het volgens die geskiedskrywer Mac Firbis daartoe gelei dat ander sendelinge en bekeerde Christene met 'n vurige geloofsywer op soek gegaan het na nog Keltiese boeke om dit te verbrand.

Dat daar heelwat Keltiese geskrifte bestaan het voor die koms van die Christendom, blyk uit die werk van Aethicus van Istria uit die 3de of 4de eeu waarin hy 'n studie gemaak het van die Keltiese geskrifte in Keltiese biblioteke. Dit blyk dat daar werke bestaan het uit die pen van Morann aan die einde van die eerste eeu; uit die pen van Feradach, Modan, Ciothruadh en Fingin uit die 2de eeu en uit die pen van Cormac Mac Art, Fionn Mac Cumhail, Oisín, Fearghus en Caoilte uit die 3de eeu. Hierdie werke is deur fanatieke Christelike sendelinge verbrand. Alleen ogham inskripsies op steen het behoue gebly. Vandag is daar in totaal 369 inskripsies in ogham bekend.

Ondersoekers dui daarop dat die kersteningsproses onder die Kelte met minder geweld gepaard gegaan het as onder die Germane. Baie Kelte het die Christendom aanvaar naas ook die Keltiese Godsdiens en kon baie Kelte nie werklik meer 'n onderskeird tref tussen die twee stominge nie. Baie Kelte het die Christendom aanvaar sonder om te weet wat dit presies inhou. Sommige Christene het Jesus nou beskou as hulle Druïde, sonder om eers te weet wie of wat Jesus was. Waar die Keltiese Druïde mag gehad het oor storms en siektes kon genees en oor magiese kragte beskik het, het die Christelike Heiliges nou oor hierdie magte beskik. Op die lange duur sou die Druïde onder die Christendom in onguns verval het.

Kelte In 360nC is in Lydney Park by Gloucestershire ‘n groot Heidense tempel gebou ter ere van die Keltiese God Nuada (Nodens). Maar vanaf 499 sou die Christendom langsamerhand Engeland binnesypel. Koning Diarmat was met sy afsterwe in 565 die laaste heidense Ierse koning. Sy opvolger koning Ainmire (565-571) sou monnike uitnooi om die Christendom op sy grondgebied te vestig. Koning Sebert van Essex het toegelaat dat ‘n Heidense tempel in Londen deur die Christene herdoop word tot Saint Paul’s Cathredal, maar na sy dood in 614 het dit vir 41 jaar weer ‘n Heidense tempel geword voordat die Christene dit weer sou oorneem.

In 597 het Pous Gregorius I bevel gegee dat Engeland gekersten moes word en is sendelinge uit Rome met ope arms ontvang. Maar dit was nie suksesvol nie.  Teen 660 het die sendingpos in Canterbury nog weinig vordering getoon. Koning Raedwald van Oos-Anglia het in 625 twee altare laat bou: een waar hy aan Christus kon offer, en die ander een vir offergawes aan ander Gode.

In die 7de eeu het aartsbiskop Theodoor van Canterbury mense veroordeel wat op nuwe jaar Heidense gode vereer het of geoffer het in Heidense tempels. In die 8ste eeu veroordeel aartsbiskop Ecgbert van York offers aan die ou Heidense Gode, heksery, waarsêery of die aflê van ede by bronne, bome of groot rotse. Aan die einde van die 8ste eeu val die Vikinge Engeland vanuit die noorde binne en hulle verdryf die Christendom weer op baie plekke. Tog sou die Christendom bly groei. Koning Edgar (959-975) het hom ten volle vir die Christendom beywer. Hy het Christene opgeroep om die Heidendom geheel en al uit te roei en alle Heidense feeste en Heidense gesange het hy verbied. Geskrifte is verbrand en op talle plekke waar Heidense Heiligdomme gestaan het, is kerke (of kapelle) gebou. Heidense heilige bronne en heilige berge is deur die Christene oorgeneem en gekersten deur dit te vernoem na Katolieke Heiliges. In Ierland is ongeveer 3,000 heilige bronne oorgeneem (gekersten) waanvan sommige vandag nog vereer word, byvoorbeeld Doon Well in Donegal.

In die 10de eeu verbied die Engelse koning Edgar bronverering, mensverering, towenary en samekomste by bome of groot rotse. Die skeiding tussen Christendom en Heidendom was vir baie mense nie duidelik nie. Heidense tempels het soms Christelike tempels (kerke) geword sonder dat daar baie verander het in die godsdiensbeoefening. Baie kerke het juis Heidense simbole en beelde in die kerke gehuisves. In die 13de eeu is 'n Christelike priester in die Skotse dorp Inverkeithing berispe omdat hy saam met sy gemeente 'n vrugbaarheidsdans rondom 'n falliese figuur van 'n Heidense God uitgevoer het. Die priester het na die berisping sy pos behou as gemeente leier.

Die Engelse skrywer William Camden (1551-1623) skryf dat is sy tyd Iere nog gekniel het en die Onse Vader opgesê het, wanneer hulle die volle maan sien. Dit dui op 'n voorchristelike ritueel.

In die 18de eeu het die Engelse Puriteine sondaguitstappies gereël waar op die platteland gesoek was na oorblyfsels van ou Heidense Heiligdomme. Hierdie Heiligdomme was dan met die gedrewe geloofsywer van die Puriteine so goed as moontlik vernietig. Tog kom daar weer 'n kentering in die 18de en 19de eeu onder die ontwikkelde klasse. Die belangstelling in die Heidendom uit die verlede het begin toeneem met die koms van talle museums waarin die beelde van ou gode te sien was. In die 18de eeu is ook begin om die gebied rondom Stonhenge te ondersoek en hierdie ondersoek het gelei tot 'n nuwe golf van belangstelling in die ou godsdiens van die Kelte en Germane.

Tacitus vermeld in 69 n.C. dat die Kelte in dié tyd groot spyt daarvan gehad het dat hulle voorouers by die verowering van Rome in 390-387 v.C. onder aanvoering van Brenno losgeld aanvaar het en teruggetrek het. Brenno was toe in staat gewees om Rome te verpletter en het hy op die punt gestaan om dit te doen. Hy het byna die hele stad al verower voordat 'n groot bedrag aan die Keltiese invallers beloof is indien hulle sou terugtrek. Die feit dat Brenno die karwei nie afgemaak het nie word vandag steeds onder die Kelte betreur. Rome sou weer op krag kom en uitgroei tot 'n wêreldmag wat die ondergang sou beteken vir die Kelte.

Die Romeinse oorheersing oor die Kelte was vir die Keltiese kultuur fataal. Die ou Keltiese Godsdiens is volledig verdring deur die Romeinse Christendom. Kelties het in Spanje, Portugal, Frankryk en Italië verdwyn ten gunste van Latyn. Die Britse Kelte het vergermaans.

 

(1) Die Afrikaanse woorde keiser en tsaar is afgelei van die woord Caesar.