Kerstening van die Romeine

By die ou Romeine was dit gebruiklik om die Gode van die vyand huis toe te bring en tuis te vereer. Hoe gedugter die vyand was, hoe groter was die kans dat hul God of Gode deur die Romeinse soldate oorgeneem sou word. Op hierdie manier kom die Mithraïsme uit die Persiese ryk die Romeinse ryk binne. Kyk by Mitraïsme vir meer inligting.

Die Romeine het egter ook geheers oor Israel. Dit was vir die Jode onaanvaarbaar dat hulle deur vreemdelinge oorheers en regeer is. Hulle wou daaraan ‘n einde maak. Vanaf ongeveer die jaar 25 het opstand teen die Romeinse gesag begin opbou. Die Romeine het met moeite die hard-koppige Jode onder bedwang gehou. Die eerste uitbarsting het gekom tussen 66 en 70. Die Jode het die stryd byna gewen, maar die Romeine het versterkings aangevra en opdrag gekry om die Jode ten volle uit te wis. Baie Jode het in groepsverband selfmoord gepleeg omdat daar geen ander uitweg was nie (5,000 selfmoorde by Gamla op 10 November 67 en 960 by Masada op 15 April 75). Tog was dit nog nie die einde van die Joodse verset nie. In 132-135 sou die laaste en bloedigste Joodse opstand uitgereek het. Die Jode wat hier die dood ontkom het, het oor die wêreld versprei.

Na hierdie oorlog het die Romeinse soldate die Godsdiens wat hulle in Israel teëgekom het, teruggeneem na Rome. Wat wel interessant is, is dat Jesus gekruisig is.  Hierdie straf is deur die Romeine gebruik om politieke opstandelinge (wat ons vandag terroriste sou noem) te straf. Volgens sommige navorsers was Jesus ‘n volksleier en rebel teen die Romeine en is dit die rede waarom Hy aan die kruis moes sterf.(1)

Die Romeinse ryk van 2000 jaar gelede was besonder Goderyk. Enorm baie Gode is aanbid. Daar was selfs staatsgode wat elke burger verplig was om te vereer, bv. Jupiter, Nuno en Minerva. Tussen al hierdie Gode was die Christendom onopvallend. In die jaar 200 was ongeveer 0,3% van die bevolking van Rome Christene. Die ou Romeine was politeïsties wat beteken dat elke persoon meer as een God aanbid het. Die Christelike godsdiens vereis egter ‘n monoteïsties (een God). Die verering van ander Gode naas die Christelike God was vir die Christene ondenkbaar. Dit het ongetwyfeld gelei tot botsings met die staat. Die eerste vervolging van die Christene het plaasgevind tussen 249 en 251 tydens die regering van Decius. Hy het ‘n edik uitgevaardig waarvolgens elke burger ‘n offerhande aan die staatsgode moes bring en ook ‘n bewys daarvan moes lewer. Die Romeinse heersers was van mening dat die Gode die staat goedgesind sou wees as elke burger sy offerhandes bring, en daarom was ongehoorsame burgers soos die Christene wat geweier het, gevaarlik vir die staat en is hulle vervolg.

Aan die einde van die 3de eeu is die konflik tussen die Christene en die Heidene op die spits gedryf. Die Romeine het te kampe gekry met armoede, hongersnood, oorloë, ontvolking en ‘n swak bestuur. Sowel die Christene as die Heidene het die omstandighede beskou as die einde van die Romeinse ryk. Die Heidene was van mening dat die krisis te wyte was aan die Christene se weiering om die ou staatsgode te aanbid. Die Christene het geglo dit was die Romeine se immorele en onregverdige vervolging van die Christene en dat die wêreld in elk geval aan sy einde was.

Die tweede groot vervolging van die Christene was van 257 tot 260 deur keiser Valerianus. Hy het ‘n wet uitgevaardig wat kerkleiers verplig het om offerhandes aan die staatsgode te bring, en Christene is verbied om eredienste te hou. Die laaste groot vervolging van Christene deur die Romeine was van 303 tot 313 deur keiser Tetrarchie.

In 313 beloof Konstantyn algehele godsdiensvryheid en daarna sou die Christelike Godsdiens vinnig versprei. Die onverdraagsaamheid van die Christelike geloof teenoor ander Gode is in hierdie tyd beskou as die meer “korrekte” norm en dit het die vinnige verspreiding aangehelp. Baie Christene uit die tyd het nog met dagbreek en sonsondergang in die rigting van die Son gebuig met die woorde Kyrie eleison (Heer ontferm u oor my). Dit was ten strengste deur die kerk verbied omdat dit 'n Heidense gebruik was by die aanbidding van die Songod. Tog sou die kerk later hierdie woorde verhef het tot 'n Christelike gebed wat vandag nog gebruik word in die katolieke kerk: Kýrie, eléison; Christé, eléison; Kýrie, eléison.

Teen die middel van die 4de eeu het die Christene begin wette maak teen die Heidendom, bv. om te offer, en teen die einde van daardie eeu het geweld teen Heidene begin toeneem. In 346 was dit verbode om te offer. In 346 is besluit om alle Heidense tempels te sluit. In 356 was daar weer ‘n verbod op die bring van offerhandes en is oortreders met die dood gestraf.

Tussen 361 en 363 probeer Julianus die Heidense godsdiens red deur dit weer toe te laat. Die daaropvolgende keisers het die Heidense godsdienste weer verbied. In 391 was dit verbode om ‘n tempel te betree. In 392 was dit ook verbode om tuis ‘n Heidense God te vereer. Die Christendom was nou in opmars in Rome en die res van die Romeinse ryk.

Talle Heidense feeste is egter nog steeds gevier. Die Romeinse keisers was ook besorg oor die tempels. Dit was mooi historiese geboue met ‘n ou geskiedenis.  Alhoewel sommige tempels later gesloop en op dieselfde plek ‘n kerk gebou is,  is ander tempels eenvoudig van hul heidense karakter gesloop en in kerke omskep.

Vir die Christene was Konstantyn ‘n redder of ‘n beskermheer. Hy het in 313 geloofsvryheid toegestaan en Christene is nie langer vervolg nie. Maar dit is belangrik om te onthou dat Konstantyn self geen Christen was nie. Hy was sy lewe lank ‘n priester van die Mithraïsme. Op sy sterfbed het hy homself wel laat doop (en let wel, deur ‘n Ariaanse priester). Konstantyn was nie ten gunste van die verdeling in sy ryk nie;  hy wou eerder eenheid bewerkstellig deur die samevoeging of samesmelting van die verskillende godsdienste. Die eerste Christene het hul eredienste op die Sabbat gehou; onder druk van Konstantyn is dit verskuif na die Heidense Sondag. In hierdie tyd het die Romeine nog 'n week geken van 9 dae, wat na 7 verminder was.

Aanvanklik het die kerk die viering van die Heidense feeste toegelaat,  maar in 743 het Bonifacius die ‘Indiculus superstitionum et paganiarum’  by die Konsilie van Leptines opgestel. Daarin het hy in ongeveer 30 paragrawe aangetoon watter Heidense gebruike uit die kerk verban moes word. Dit het egter weinig sukses gehad en daar is later besluit om die meeste van hierdie Heidense gebruike te verchristelik (vervanging van heidense gebruike deur ‘Christelike’ gebruike of rituele).

(1)  Hierdie navorsers beweer dat by die skrywe van die Nuwe Testament die onskuld van die Romeine baie duidelik gemaak moes word en daarom is daar onder druk van Konstantyn gedeeltes ingevoeg of gewysig. Die Jode moes die skuld kry vir die dood van Jesus en die verskriklike oorlog teen die Jode is verswyg.