Die Kerstening van die Vikinge

Vanaf 793 tot ongeveer 1050 val die Vikinge (Noormanne) talle Europese lande binne. Op groot skaal word Slawiese burgers (Russe en Pole) as slawe (dit is waar ons huidige woord slaaf vandaan kom) na Skandinawië gebring. Die Vikinge het 'n groot invloed uitgeoefen in die stigting van die eerste Russiese staat. Die naam Rus(land) verwys na die Vikinge. Die Slawiese volkere het na die Vikinge as Rus (blond) verwys en het die eerste Russiese staat, Vikinge as leiers gehad. Die woord Viking is verwant aan aan die woord veg en ook aan die woord wyk. Die tweede gedeelte van die woord Viking verwys na 'n baie ou Germaanse Godheid Ing. Maar Ing het ook later gebied of plek beteken.

Groot gedeeltes van die Britse Eilande is deur Vikinge gekoloniseer. In hierdie gebiede het die Vikingkultuur en regstelsel (Danelaw) geheers en die taal was Oud-Noors. Met behulp van hulle gevorderde skeepvaart kon die Vikinge ander Europese lande via die riviere binnedring. Parys was in 885-886 via die rivier Seine binnegeval. In 911 het die Franse besluit om aan die Vikinge 'n gedeelte van Noord-Frankryk af te staan in ruil daarvoor dat hulle hulle bekeer tot die Christendom en ophou om Franse stede te plunder. Die gebied het bekend gestaan as Normannia en later Normandië. In Ysland stig die Vikinge die eerste Europese republiek. Dan was Groenland ook gekoloniseer onder leiding van Erik de Rode in 990. Die Vikinge bereik die Amerikaanse vasteland onder leiding van Leif Eriksson, 500 jaar voor Columbus. Hierdie Amerikaanse koloniste het egter later teruggekeer na Groenland.

Aanvanklik het die Vikinge geroof en geplunder en sodoende 'n skokgolf oor die res van Europa gestuur het. Maar later het die Vikinge 'n leidende rol gespeel in die gekoloniseerde gebiede. Hulle was avonturiers. Hulle het bewondering afgedwing deur hulle moed, deursettingsvermoë, ambisie, energieke ondernemingsgees, kreatiwiteit en bestuursvaardighede.

Kerke is graag geplunder omdat daar skatte in bewaar was. Priesters is genadeloos doodgemaak, omdat hulle gekniel en gesmeek het om genade. Vir die Germaanse Viking was nederigheid onfatsoenlik en laakbaar: Die Germaanse Viking toon nie nederige en onderdanige gedrag nie.

Die Hoofgode van die Vikinge was Odin (Wodan) en Thor (Donar) en die vernaamste Godin was Freya. In Skandinawië kom die kerstening baie laat op gang. In 1070 was 'n besonderse Heidense tempel te Uppsala nog ten volle in gebruik. Volgens sommige bronne was die tempel van hout. Volgens ander bronne was die tempel wel van hout maar met goud oortrek. Volgens ander bronne was die tempel volledig van goud.

Tekening: Tempel van Uppsala

Die Franse sendeling Ansgar (1), sou hom toegespits het op Denemarke en Swede, maar hy het baie probleme ondervind en die verhouding tussen Christene en Heidene was lank baie gespanne. Hy is later opgevolg deur Unni wat biskop van Bremen geword het en verantwoordelik was vir die kerstening van Denemarke. In 936 was koning Gorm nog baie vyandiggesind teenoor die Christene.  Hy het alle kerke in sy ryk laat afbrand en alle priesters opdrag gegee om onmiddellik die land te verlaat. Maar Harald Blaatand (Bloutand), die seun van koning Gorm, het die Christendom aanvaar en hom in 965 laat doop. Die seun van koning Harald, Sven Haraldsson I (Vurkbaard), het egter weer ‘n Heidense rewolusie veroorsaak deur teen sy vader in opstand te kom. Sy vader (Harald) moes vlug en het later aan sy wonde beswyk. Sven het met Sigrid getrou en sy was ‘n groot voorstaander van die heidendom. Die Christendom is weer verdryf en die Heidendom het opgebloei onder die koningspaar. Maar Knut, die seun van Sven, het vanaf 1018 die Christendom omarm en onder sy heerskappy is Denemarke gekersten.

Die Noorse heersers het hulself beskou as direkte afstammelinge van die God Thor. Hierdie heersers sou egter in hulle drang om uitbreiding van hulle gesag, die Christendom omarm. In Noorweë het Harold Skoonhaar (880-930) deur middel van die Christendom begin om die land te verenig en die gesag van ander heersers in die gebied te ondermyn. Hy het sy seun Hakon in Engeland laat opvoed onder die Christelike koning Athelstan. Hakon se plan om Noorweë te kersten is egter gestuit as gevolg van verset deur sy direkte volgelinge. Hakon het egter in die praktyk Heidense Gode sowel as die Christelike God aanbid. Hy het homself as Christen laat doop. Hy sou 'n wet uitgevaardig het waarvolgens die Germaanse Joel en die Christelike Kersfees op dieselfde tydstip gevier moes word. Uiteindelik het Hakon later weer sy rug op die Christendom gekeer.

Twee Olafs sou die kersteninsproses verder voer. Olaf Tryggvason het in 995 die land met die swaard begin kersten. Hierna sou Olaf Haraldsson die taak verder gevoer het. In 1030 sterf Olaf Haraldsson juis in 'n stryd om die Nore te kersten. Olaf Haraldsson sou alle Heidense heiligdomme vernietig het en daartoe oorgegaan het om die boeregemeenskappe met geweld te kersten. Beide die Olafs het die Nore voor die volgende keuse gestel: Doodgemaak te word, verban te word of gedoop te woord. Ook het hy talle mense wat hulle nie wou bekeer nie, voor hulle familie en vriende laat martel om sodoende meer mense oor te haal om hulle te laat doop.

In opdrag van die Olafs is mense verdrink, met warm kole doodgebrand, met rooiwarm ysters gebrand en die oë uitgesteek. Baie boere het hulle egter teëgesit en liewer gesterf as om ‘n God te aanbid wat vir hulle vreemd was. Daar word ook 'n verhaal vertel van Thorlief die Wyse, wie se oë in opdrag van Olaf Haraldsson uitgesteek moes word. Toe die Christelike beul die een oog uitgesteek het en Thorlief geen lid verroer het nie, het die beul sy gereedskap neergegooi en uit angs gevlug.

Die eerste koning van Swede wat propaganda vir die Christendom gemaak het, was Olof Skötkonung. Hy het aanvanklik met trots verklaar dat hy die tempel te Gamla Uppsala sou verwoes, maar was uiteindelik bang vir die gevolge daarvan. Olof het ‘n biskop aangestel met die naam Thorgot (vreemde naam vir ‘n Christen en dit nog ‘n biskop). Thorgot het tussen 1000 en 1024 Engelse sendelinge na Swede gebring in ‘n amptelike kersteningsprojek. Aanvanklik het dit goed gegaan,  maar in 1060 was daar ‘n vloedgolf mense wat hulle weer tot die Heidendom bekeer het.

Na die dood van Olof het Stenkil aan bewind gekom en hy het die Christendom fanaties gepropageer, maar in 1066 lei dit weer tot hewige opstande. Die seun van Stenkil, Inge, het probeer om die Heidense godsdiens te verbied en die doop verpligtend te maak vir elke inwoner van Swede. Die Volksraad (Ding) het hom onmiddellik afgesit en sy swaer Sven as koning aangestel. Sven het die Heidense godsdiens ten volle herstel,  maar met buitelandse hulp het Inge weer aan bewind gekom en hy het Sven verdryf. Op Inge se bevel is die tempel Uppsala in ongeveer 1100 vernietig en op die plek is ‘n katedraal gebou. Aan die einde van die 12de eeu was die kersteningsproses in Swede in volle swang.

Tog was dit nog nie die einde van die Heidendom nie. Tot laat in die 17de eeu was in Skandinawië offers aan Thor gebring. In 1814 was die Odhínn-steen op Orkney (eiland) nog gebruik by die aflegging van geloftes. In 1791 was daar nog op Orkney 'n jongman aangekla omdat hy 'n ''eed teen Odhínn'' sou verbreek het.

Odin-steen op Orkney

(1)  Interessante naam vir ‘n sendeling, want “Ans” is die spirituele Gode van die Germane en “gard” beteken tuin of hemel.