Kruistogte
In die 6de en 7de eeue het die Turke Jerusalem verower. Voor daardie tyd het pelgrims van tyd tot tyd na Jerusalem gereis, maar onder Turkse gesag het dit al moeiliker geword. Op 27 November 1095, tydens die Konsilie van Clermont-Ferrand, het Pous Urbanus II die Christene opgeroep om Jerusalem te bevry van die Islamitiese Turkse gesag. ‘n Aantal “kruistogte” sou onderneem word om hierdie doel te bereik.

Om mense aan te moedig om aan die eerste kruistog deel te neem, het die Pous verklaar dat alle deelnemers wat geld geskuld het of ‘n boete of gevangenisstraf moes uitdien, daarvan vrygestel sou word in ruil vir hul deelname. Ook sou diegene wat tydens die kruistog sterf, direk na die hemel gaan. Baie mense het ook geglo dat hulle skatte in Jerusalem sou ontdek en skatryk sou word. In 1096 het die eerste kruistog met 80,000 Christene uit Frankryk, Duitsland en Italië begin. Dit was ‘n enorme groep mense.
Dit was moeilik om kontrole oor die groep te behou en dit het ontaard in ‘n roof- en plundertog, omdat die reis lank was en die mense nie oor genoeg middele beskik het om die afstand te voltooi nie. Tydens die kruistogte is baie mense ook tereggestel om orde te handhaaf. Baie onskuldige mense is ook brutaal aangeval, verkrag en vermoor onder die leuse: Deus il volt, of “Volgens God se wil”. Die pelgrimgangers is ook deur Turke aangeval en duisende het daardeur hul lewens verloor. In 1099 het die groep in Jerusalem aangekom, en alle inwoners is vermoor – Islamiete sowel as Jode.
Hierna het nog ‘n aantal pelgrimstogte plaasgevind:
2de: 1147-1149
3de: 1189-1192
4de: 1202-1204
5de: 1218-1221
6de: 1228-1229
7de: 1248-1254
8ste: 1270
9de: 1271-1272
In 1272 het die laaste tog na Jerusalem plaasgevind, maar dit was ‘n verlore stryd. Die vorige oorwinnings was telkens bowendien van korte duur. Die kerk moes die stryd teen die Islamitiese ryk opgee. In 1212 is ‘n kinderkruistog gereël waartydens duisende jongmans en meisies vanaf Marseilles per skip na Palestina sou vaar, maar hierdie jongmense het in Alexandrië beland waar hulle as slawe verkoop is.
Na hierdie Jerusalem-kruistogte sou die kerk fokus op gebiede waar die bevolking wel gekersten was, maar waar die gesag van Rome nie erken is nie. Die belangrikste gebied was Occitanië in die suide van Frankryk waar die Kathare gewoon het. Hierdie groep mense was besonder welvarend en het selfs steun in Duitsland gehad. Hulle het hulself beskou as navolgers van die ware Christelike kerk, waar Jesus sentraal gestaan het in hul lewe, maar hulle het die Ou Testament verwerp. Hierdeur het hulle nie alleen die argwaan van die Pous gewek nie, maar ook die van die Franse koning.

In 1145 is Bernard van Clairvaux na die gebied gestuur om die Kathare te versoek om hulle aan die gesag van Rome te onderwerp. Die Kathare het geweier. In Julie 1209 het Pous Innocentius III besluit om ‘n kruistog na die gebied te reël. Hy het hiervoor die goedkeuring van die Franse koning Filip-August ontvang. Die eerste stad wat aangeval is, was Béziers. Al die inwoners van die stad is doodgemaak, omdat die bevelvoerder, Arnaud-Amaury (biskop van die Abdy van Citaux), nie ‘n onderskeid kon maak tussen goeie Katolieke en “ongelowige” Kathare nie. Hier is sowat 20,000 mense in opdrag van die kerk doodgemaak.
Hierna is nog stede aangeval, maar nie al die inwoners is doodgemaak nie. Slegs diegene wat die Kathaarse geloof aangehang het, is verbrand. In Julie 1210 is ‘n tweede stad aangeval, naamlik Minerve, en 140 Kathare is verbrand. Hierna sou nog ‘n aantal kruistogte teen die Kathare in die hele suide van Frankryk onderneem word. Die laaste kruistog was in 1243-1244 waartydens baie stede in hierdie gebied aangeval is. Sommige Kathare het selfs lewend in die vuur gespring eerder as om op die brandstapel vasgemaak te word. Hierna was die Kathaarse geloof nog nie heeltemal uitgeroei nie. Die laaste Kathare het in 1312 op die brandstapel gesterf. Tussen 1209 en 1312 is in hierdie gebied tienduisende mense genadeloos deur die kerk tereggestel.
Ons Afrikaanse woord “ketter” kom van Kathar.