Meiviering

Die woord Mei is afkomstig van die Latynse woord maius wat groter, groei of wasdom beteken het. Die herkoms van die woord kan herlei word na die Godin Maia. Sy was by die Romeine die Godin van die aarde en vrugbaarheid en by die Grieke 'n Arkadiese nimf (moeder van Mercurius). Maia, Maj of Mai was 'n Maagdgodin. Die Romeine het hierdie lentefees Floralia genoem ter ere van die Vrugbaarheidsgodin Magna Mater. Die Meifees word beskou as een van die oudste Europese feeste en dateer uit die prehistorie. In Swede is rotstekeninge uit die Brons- en Ystertyd gevind wat dui op die verering van bome in die tyd. In Europa het hierdie fees uitgeroei tot een van die grootste en bekendse feeste.

Die fees is gevier op 1 Mei maar ook soms op 30 April en ook soms in die nag van 30 April en 1 Mei.

Die belangrikste kenmerk van hierdie fees is dat 'n boom geplant was en om die boom was daar gesing en gedans, maar soms was 'n versierde paal of boomstam (of 'n groot tak) gebruik in plaas van 'n boom. Hierdie fees was 'n ware volksfees wat gepaard gegaan het met optogte en spelletjies. Ook is Meivure aangesteek. Omdat hierdie fees 'n baie ou herkoms het, het die wyse waarop daar fees gevier was, baie verskil van streek tot streek. Tot in die Middeleeue was hierdie tradisie nog springlewendig en was dit in byna alle dorpe en stede gevier. Vroeër was daar verenigings wat hulself Meigilde genoem het en onder die gesag gestaan het van 'n Meigraaf wat verantwoordelik was vir die feesreëlings. Lede van hierdie vereniging het in 'n bos 'n boom uitgesoek en dit uitgegrawe of gekap. In die Lae Lande was die Es, Den of Spar gewild as Meiboom, maar in ander gebiede was ook weer voorkeur gegee aan ander boomsoorte. Hierdie boom is op 'n versierde Meiwa gelaai. Met die terugkeer na die dorp was daar 'n stoet gevorm en voor in die stoet het lede van die Meigilde op Meifluitjies geblaas. Die doel van die fluitjieblasery was om die bose geeste wat tydens die fees besonder aktief was te verjaag. In die middel van die dorp is die Meiboom gestroop van die meeste van die takke en op die dorpsplein geplant of in 'n woonwyk. Soms was die boom direk voor 'n kerk geplant. Dit kom uit 'n ou gebruik om die boom juis voor 'n tempel te plant. Alleen bo in die boom was 'n paar takke agtergelaat. Hierdie Meiboom was dan versier met vlaggies, kranse, strikke, krone, glinstende materiale en linte. Om die boom het 'n fees ontstaan. Meisies het in 'n kring om die boom gedans. Aan die top van die boom is linte vasgemaak. Die eindpunte van die linte het die meisies vasgehou tydens die dans. Die dames was almal 'n wit geklee. Tydens die fees was daar ook baie gewilde Meiliedere gesing en spelletjies gespeel. Aan die einde van die fees gooi die Meigraaf 'n krans in die rigting van die meisie van sy keuse. Sy was dan gekroon as die Meigravin (of Meikoningin) vir die volgende jaar. Op baie van hierdie Meifeeste was daar ook diep in die bottel gekyk. Daar was selfs 'n spesiale drank gebrou wat as Meidrank bekend gestaan het. 

Soms was die Meiboom na 'n week of twee verwyder. Soms is die boom na 'n tyd verkoop op 'n spesiale veiling. Maar soms het die boom vir die hele jaar bly staan as herinnering aan die fees. Die fees het in hoofsaak gewentel om jongmense, maar niemand was uitgesluit nie. Die fees het bestaan aan groepies mense wat weer in mans en dames opgedeel was en wat dan aan allerlei kompetisies deelgeneem het. Die Meikoningin het 'n klein Meiboompie (of soms 'n Meitak) ontvang wat sy voor haar huis geplant het.

Dit was in sommige sterke gebruiklik dat jongmans 'n Meitak neem en dit in die tuin plant van sy geliefde, of onder haar venster. In Amsterdam is in 1612 'n verbod geplaas op die saag van Meitakke, want die bome in die stad het te swaar daaronder gely. Oortreders kon gegesel word wanneer hulle betrap was. Ook was dit soms gebruiklik om 'n bepaalde soort tak te plaas met 'n spesifieke betekenis. So was 'n dennetak beskou as 'n liefdesverklaring. Aan vriendelike meisies was 'n berketak gegee en dit was as 'n komplement beskou. Wispelturige meisies het 'n tak van 'n kersieboom gekry en onbeskofte meisies 'n doringtak. Oujongdames het 'n voëlverskrikker ontvang. In sommig streke was 'n Meitak deur 'n jongman aan 'n meisie aangebied met die bedoeling dat hy die nag by haar kon slaap. Met die aanvaarding van die tak was daar dan aan die man goedkeuring gegee. Baie jong dames is tydens hierdie feeste deur jong mans ontmaagd.

Dit was ook gebruiklik om Meivure aan te steek. Dit was beskou as vreugde vure. Hierdie vure was ook Meierblitse genoem. As gevolg van 'n brandgevaar was daar baie beperkings deur die owerheid gestel op hierdie vure. Tog blyk uit talle geskrifte dat 'Maeijfjûren' hoog opgelaai het in die dorpe en van ver af gesien kon word. By die Kelte was dit gebruiklik om juis tussen twee vure deur te loop wat as 'n reinigingsritueel of ook 'n oorgangsritueel beskou was. Nie alleen het die volk tussen die vure deurgeloop nie, maar is ook die vee daardeur gedryf. Die Keltise fees staan bekend as Beltene, Beltane, Beltaine of Beltain wat felvuur beteken. Vir die Kelte vorm hierdie lentefees die teenpool van Halloween. Beide hierdie feeste dui op die oorgang tussen somer en winter. Die mense het vroeër net twee seisoene geken, naamlik winter en somer.

Die Meifeeste was vrugbaarheidsfeeste. Die Gemaanse Liefdesgodin Freya het sentraal gestaan in die Germaanse viering daarvan asook Wodan/Odin en soms ook die Vrugbaarheidsgod Fro of Freyr. Die Germane het geglo dat Wodan en Freya bose geeste sou verdryf en daarmee ook die lente sou bring. Tydens die Middeleeue het die Meifees in Duitsland bekend geraak as Walpurgisnacht. Walpurga was tydens die Middeleeue 'n fanatiek heksejagter. Tydens die Meifeeste sou hekse uit alle hoek en gate gekom het op besemstele of katsterte om die mense lastig te val. Walpurga sou later deur die kerk heilig verklaar word vir sy pogings om heksery in die ban te doen. Tog is die Meifees hierdeur nie verdring nie.

Onder die Grieke en Romeine het hierdie vrugbaarheidsfees (soms) selfs in 'n wettige orgie ontaard. Tydens hierdie fees mag elke man en vrou vir één nag met iemand anders 'trou'. In sommige gebiede was dit self die gebruik om 'n jaar lank met iemand anders 'getroud' te wees. Daar is ondersoekers wat beweer dat die Meiboom (of Meipaal) simbool gestaan het vir die manlike geslagsorgaan en die linte (of slierte), manlike saad.

Wat verder kenmerkend was van hierdie fees, was dat huurderkontrakte van huise op 1 Mei afgeloop het en is nuwe huurpryse bepaal. Ook het die arbeidskontrakte in die tyd verstryk wat dan hernieu moes word. Hierdie onderhandelinge oor huurpryse en nuwe arbeidsvoorwaardes het soms tot onenigheid gelei en was daar spesiale Mei-regsittings om die konflikte op te los.

Die kerk het hierdie fees as 'n besondere euwel beskou en dit met alle mag probeer verbied. Dit was nie suksesvol nie. Daarna het die kerk probeer om die fees te kersten deur die hoofrol toe te wys aan Maria en die maand Mei te wy aan die Maagd Maria. Die priesters het selfs Meitakke en Meiboompies in die kerk gebring asook baie blomme en ruikers in Mei. Die gedagte was om die Heidense sfeer van die fees te verdring en 'n Christelik etiket daaraan te hang. Later het die maand Mei selfs bekend gestaan as Mariamaand of Blommemaand. In die 17de eeu het die owerhede begin om die kap van Meibome te verbied. In die 19de eeu het hierdie gebruik uit die meeste groot stede begin verdwyn. Tog is die gebruik nooit uitgeroei nie. Meivieringe word vandag nog steeds op die platteland van baie Europese lande gevier. In baie lande is 1 Mei steeds 'n openbare vakansiedag.