Mithras

In die Romeinse Ryk het die God Mithras vir meer as 400 jaar ‘n prominente rol gespeel en terselfdertyd ook in direkte kompetisie met die Christendom gestaan. Maar die Mithraïme het ‘n baie ouer herkoms as die Christendom. Hierdie God was in Europa en Asië bekend onder die name Mithra, Mitra, Meitros, Mihr, Mehr of Meher.  Sy verering het Europa binnegekom vanaf Klein-Asië en het daarna oor die hele Romeinse Ryk versprei, van Spanje tot die Swartsee en van Skotland tot die Sahara.

Die Mithras-kultus het ongeveer 3,500 jaar gelede ontstaan. Die God Mithra kom in die heilige boeke van die Indiërs sowel as die Perse voor. In die Indiese Veda was hy die opkomende Son. In die Persiese Avesta was hy die “Lig van die Wêreld” of die “Spirituele Son”. Volgens die Persiese mite is hy gebore uit die maagd Anahita.  Mithras was die seun van Ahura Mazda, die Wyse Heer. Mithras (seun) het in aansien laer gestaan as Ahura Mazda (vader), maar in aanbidding was hulle gelyk. By die Perse was die Mithraïsme baie gewild en teen 400 vC het dit byna alle ander godsdienste in Persië (Iran) verdring. By die verowering van Persië deur die Babiloniërs kom die godsdiens ook onder die Galdeërs. In gewysigde vorm het dit ook die godsdiens van die Armeniërs geword.

Mithras het groot byval gevind by die Romeinse soldate. Hy is gesien as die God van stryd, van trou, van manlikheid, van vriendskap en broederlikheid. Via slawe,  handelaars en soldate het die godsdiens vinnig oor Europa versprei. Vandag bestaan daar in Rome nog meer as 100 inskripsies wat opgedra is aan Mithras, met ongeveer  ewe veel beeldfragmente. Een van die grootste tempels in Italië lê vandag onder die huidige kerk van San Clemente, naby die Colosseum in Rome. Alhoewel Mithras geen Songod was nie,  is hy spoedig in Rome as sodanig aanbid, naamlik: Deus Sol Invictus. Sol Invictus was die eintlike Songod.(1)

In 307 het keiser Diocletianus Mithras uitgeroep as die Beskermer van die Romeinse Ryk en was die Mithraïme op die toppunt van sy mag. Die Mithraïsme en die Christendom was nou in direkte kompetisie met mekaar. Vanaf 310 begin Konstantyn om die Christendom en die Mithraïsme te assimileer. Hy volg die weg van één godsdiens vir die ryk, maar sonder om die twee godsdienste in konflik met mekaar te bring.

Foto: Diocletianus

Afgesien van die talle ooreenkomste tussen die twee godsdienste was daar een groot verskil. Die Mithraïsme het verdraagsaamheid en versoening voorgestaan, en het vrede bewerkstellig met die ou Romeinde Gode soos JupiterSaturnus, Oceanus, Venus en die Son, maar ook met ander nuwe Gode soos Isis, Serapis en die Christendom.

Die Christendom het juis onverdraagsaamheid voorgestaan. Toe die Christendom mag begin verwerf het, is die tempels van ander Gode met byle aangeval. Vanaf 376 kon die Romeine alle nie-Christelike godsdienste “wettiglik” vervolg. Sommige Heidense tempels is gesloop en op dieselfde plekke is kerke of katedrale gebou.  Sommige Heidense tempels is ingepalm deur hulle beelde te konfiskeer en dit met Christelike beelde en simbole te vervang. Priesters van die ander Gode is doodgemaak (verkieslik op hulle altare). Alle Heidense liturgie is verbrand, asook alle ander boeke in Heidense besit. Die bedoeling was om die bestaan van hierdie godsdienste letterlik en figuurlik van die aardbol af te vee. Gelowiges van alle ander godsdienste is nou brutaal vervolg en uitgemoor. Die Christendom sou met verloop van jare die oorhand verkry oor alle ander godsdienste in die Romeinse Ryk. Baie historici maak vandag nog die bewering dat as die Christendom nie die oorhand oor die Mithraïsme behaal het nie, Rome en later die hele Weste aanbidders van Mithras sou word.

Die ooreenkomste tussen die Mithraïsme en die Christendom is opvallend groot. Die kerk het herhaaldelik verklaar dat die Mithraïsme die Christelike ideologie oorgeneem het, maar in werklikheid was die Mithraïsme baie ouer as die Christendom en was die oorname net andersom. Wanneer die kerk in die verlede met hierdie feite gekonfronteer is, het die kerkvaders verklaar dat die ooreenkomste die werk van die duiwel was.

Die ooreenkomste

Verhouding tussen mens en God
Mithras is gesien as skakel tussen mens en God (Ahura Mazda). Die gelowiges het tot God gebid via sy Seun Mithras.

Stryd teen die kwaad
By die aanhangers van Mithras was selfbeheersing, selfverloning en seksuele onthouding baie belangrik. Mithras het ‘n etiese sisteem verteenwoordig waarin broederskap aangemoedig is om gesamentlik te kon stry teen die kragte van die kwaad.

Verlosser
Die Mithraïste het geglo in die welwillende kragte van Mithras en dat hy hulle sou verlos van die ellende van die wêreld. Deur Mithras sou die gelowiges onsterflik wees en sy volgelinge sou later ‘n ewige saligheid erf. Die aanbidders van Mithras het uitgesien na die oordeelsdag wanneer gestorwenes uit hulle grafte sou opstaan en deur hom na die paradys gelei sou word. Die bestaande wêreld sou dan tot niet gaan en die Lig sou die Duisternis oorwin.

Doop/inwyding
Deur ‘n rituele doop is die gelowige gesuiwer. Dit het tydens ‘n seremonie gebeur waar die gelowiges wyn gedrink (bloed van Mithras) en brood geëet het (klein broodjies met kruise daarop (2) : die liggaam van Mithras). Direk voor die seremonie is die volgende woorde gebruik: “Diegene wat eet van my liggaam en drink van my bloed, sal één word met my en ek met hom en hulle sal gered word.”

My die Mithraïsme is egter ook met water gedoop. Water was beskou as rein met 'n suiwerende effek. Die doop (besprinkeling) met water het egter by alle Indo-Europese volkere voorgekom en is ook bekend in Japan en China. Waterbronne was in Europa en Asië beskou as heilig. Ook Moslems moes hulle voor die bidritueel met bronwater 'reinig'.

Sondag
Sondag is aan die God Mithras opgedra en het in Latyn bekend gestaan as Dominicus, of “Dag des Heeren”.

“Kersfees”
Die geboorte van Mithras is jaarliks op 25 Desember gevier.

“Pase”: offer van ‘n stier
Die belangrikste daad van Mithras was die stryd met ‘n simboliese stier (bees) wat hy dan sou oorwin en offer. Die stier was die Bose. In die ou Persiese geskrifte was die stier Mithras self. Die God Mithras offer homself op vir die heil van die gelowige mens.

Ram/Lam
Later het die stier ook ‘n ram geword. Maar die ram uit die zodiak (Aries) was in die Persiese zodiak ‘n lam (Rundahish 12-2). Dus is ‘n lam geoffer.

Hemelvaart (3)
Nadat Mithras sy aardse opdrag volbring het,  het hy ‘n Laaste Avondmaal genuttig saam met sy twaalf geselle. Daarna sou hy opgevaar het na die hemel om van daar af tot in alle ewigheid die gelowiges te beskerm.

Stal en Ster
Mithras is op 25 Desember in ‘n stal gebore. By sy geboorte is daar ‘n nuwe, helder ster waargeneem.

Maagd (4)
Mithras is gebore uit die maagd Anahita, die vrugbaarheidsgodin.

Aanspreekvorme
Navolgers van die Mithraïsme het mekaar aangespreek as “broeder”. Hierdie broeders is gelei deur ‘n priester wat as “Vader” (of Pater) aangespreek is.

Struktuur
Die priesters is gelei deur ‘n Vader van Vaders (Pous) wat deur ‘n raad van vaders of priesters verkies is. Die hoofsetel was Rome.

Kleding
Mithras het ‘n staf gedra met ‘n gekrulde punt. By die Christendom is hierdie staf oorgeneem as ‘n “herderstaf”. Hy het ‘n hoofbedekking gedra wat deur die kerk oorgeneem is en vandag bekend staan as “myter” (hoofbedekking van Roomse priesters). Die woord “myter” kom van Mithras.

Heilige Drie-eenheid
Mithras was lid van die heilige drie-eenheid. Hierdie konsep was teenwoordig by talle godsdienste, ook by die Germane. Kyk hier vir oorsig van Goddelike drie-eenhede.

(1)  In die jaar 218 het keiser Marcus Aurelius Antoninus die Siriese God Sol Invictus uitgeroep as die enigste toegelate God in die Romeinse Ryk. Sol Invictus = Onoorwinlike Son.

(2)  Die kruis as simbool is aanvanklik ten strengste deur die kerk verbied, juis omdat dit ‘n Heidense simbool was: Volgens die kerkvader Minutius Felix aan die einde van die tweede eeu in Octavius XXIX:6.

(3) Behalwe die hemelvaart van Jesus, sou ook Maria in die hemel opgeneem word. Haar tenhemelopneming word jaarliks gevier op 15 Augustus.Ook Mohammed sou na sy dood na die hemel opgevaar het in 'n nagreis.

(4) Maagdelike geboortes was 'n algemene konsep in die Romeins-Griekse kultuur. Ook by Plato, Empedocles, Hercules, Pythagoras, Alexander die Grote, Keiser Augustus, Zoroaster, Sargon, Perseus, Jason, Miletus, Minos, Asclepius en talle andere word beweer dat hulle uit maagde gebore was waarvan die vader 'n Goddelike figuur was.