Nabetragting

Vanaf ongeveer 300 nC vind daar in Europa ‘n groot omwenteling plaas op die gebied van godsdiens. Vanuit Rome brei die taal, kultuur en godsdiens van die Romeine (Mithraïsme gevolg deur die Christendom) vinnig uit. Alexandrië (Egipte) en Klein Asië (Turkye) word gekersten, maar dieselfde Christendom sou later weer daar deur die Islam verdryf word. Die Suide van Europa word onderwerp aan die Romeinse militêre gesag. Voor hierdie onderwerping was die Christelike godsdiens onbekend ef afwesig in die Keltiese en Germaanse gebiede. Die Keltiese tale en Heidense Keltiese godsdiens sou egter redelik vinnig verdwyn onder die militêre bestuur van Rome. Keltiese gebiede wat nie onder militêre gesag van Rome beland het nie, (soos Ierland) is eers baie later gekersten. Vanaf die 5de eeu word die eerste Germane gekersten. Tussen die 10de en die 12de eeu word die Noord-Germane gekersten en in die 14de en 15de eeu die Baltiese volkere.

Met die bewindsaanvaarding van Karel die Grote (742-814) lui die doodsklok vir die Heidense Germaanse godsdiens en kultuurgoed. Karel laat alle Germaanse heiligdomme vernietig asook hulle geskiedkundige- en religieuse geskrifte. Ons Heidense erfenis moes letterlik van die aardbodem gevee word. In die plek hiervan voer hy die Christelike geskiedenis en religie in. Hy vaardig ‘n aantal godsdienswette uit (Capitularia) waarvolgens die Christendom die Heidendom moes verdring en waarvan sommige oortredings met die dood strafbaar was. Die eertydse godsdiens van ons voorouers, wat duisende jare met ons saamgekom het, is nou beskou as duiwelsgoed. Vaders Abraham, Isak en Jakob, wat onbekend was aan ons voorouers, word nou skielik óns aartsvaders. Die Germaanse Ase en Wane word ingeruil vir die Christelike God(e). Ask en Embla word ingeruil vir Adam en Eva.

Ask en Embla (links) + Adam en Eva

Ten spyte van die stappe wat Karel die Grote geneem het, was die kersteningsproses ‘n langdurende onderneming. Dit was ‘n proses wat eeue geduur het, oor geslagte heen. Ons inheemse godsdiens is nie plotseling ingeruil vir die Christendom nie. Dit was ‘n proses van samesmelting tussen die nuwe en die ou godsdiens, waarna die kerk telkens weer die “verkeerde” of Heidense gebruike probeer wegwerk het. Trouens, die kerk stry vandag nog teen sekere “Heidense” gebruike. By sommige stamme het die omskakeling glad verloop, veral in die suide van Europa. As die adel ten gunste van die Christendom was, het die res van die bevolking nie getwyfel nie en geen vrae gevra nie, maar gevolg. Sommige stamme (streke) het die omskakeling nie as drasties ervaar nie. Die Godin Freya is met beeld en al behou, maar Freya heet nou Maria.

By die meer noordelike Germaanse stamme was die omskakeling egter stroef. Die Germane staan bekend vir hul hardkoppigheid, eiesinnigheid en drang na onafhanklikheid en vryheid. Die wens van die koning was nie noodwendig ook die wens van die bevolking nie en die invoer van ‘n nuwe godsdiens is beskou as ‘n vorm van roof. Miljoene Heidene en hekse (en later ketters) sou deur die swaard en op die brandstapel sterf in die poging om hulle onder dwang te kersten. Hierdie mense was nie bereid om hulle ou godsdiens te versaak nie;  hulle was bereid om vir hulle Gode en Godinne te sterf, en hulle het ook.

Hierdie brutale vervolging wat oor meer as ‘n duisend jaar gestrek het, word vandag deur die kerk verswyg. In teenstelling hiermee het die kerk die vaandel van Christelike martelaarskap hoog gehou. Baie Christene beskou “die Christen” vandag steeds as ‘n soort martelaar en daar word steeds verwys na die vervolging van Christene “deur alle eeue heen”. In werklikheid was die groot vervolging presies andersom.

Met die koms van die Romeinse Christendom na die Germaanstalige gebiede, kry die Romeinse taal 'n magsposisie. Karel die Grote laat die nodige kundiges uit Rome haal om 'n onderwysstelsel op die been te bring - geskoei volgens die Romeinse voorbeeld en aangebied in die Romeinse taal (Latyn). Ons Germaanse skrifstelsel, bekend as Rune, word aan die kant geskuif (sover moontlik vernietig) en vervang met die Romeinse taal en Romeinse alfabet. Op taalgebied sou die Germane 'n grootskaalse terugslag beleef. Die Germane in die Noorde van Italië (Longobarde en Ostrogote), die Noorde van Frankryk (Saliese Franke) en die Noorde van Spanje (Visigote) verromaniseer.

Met die kerstening van die Germane sou die posisie van die vrou in die gemeenskap op 'n aantal domeine 'n insinking beleef. In die voorchristelike tyd het die Germaanse vrou 'n baie belangrike rol gespeel in die gemeenskap. Die hele mediese beroep was in die hande van vroue (1). In die Germaanse godsdiensbeoefening het vroue 'n oorheersende rol gespeel, want daar was baie meer priesteresse as priesters. Vroue was gesien as sterker figure op die gebied van telepatie en intuïsie en daarom was hulle besonder geskik as adviseurs van die volk, konings en aanvoerders van die leër. Die gebruik van rune was meestal in die hande van vroue, hetsy die skryfkuns, hetsy die magiese beheersing daarvan.

Volgens die Christelike leer moes die vrou 'n onderdanige rol speel. Sy was immers volgens dié nuwe leer die oorsaak van alle sonde in die wêreld. Uiteindelik het die vakkundige Germaanse Wicca's of Hekse (Wyse Vroue) op die brandstapel beland en het waardevolle talent verdwyn, asook kennis wat oor duisende jare opgedoen was. Die mediese diens is nou met mans gevul (vroue kon assisteer) en in die nuwe godsdiensbeoefening het die vrou geen funksie meer gehad nie, want sy kon geen amp beklee nie. Sien ook die Germaanse vrou.

Met die koms van die Christendom het daar ook op kultuurgebied ‘n hele omwenteling plaasgevind. Die eerbiedwaardige ou Germaanse Gode en Godinne is afgedank. Hulle het nou demone geword. Die nuwe godsdiens is in die kollig geplaas. Dit het weerklank gevind in die taal en talle woorde het nou heel ander betekenisse verkry (sien ook die bladsye wat die herkoms van woorde behandel) (2). 

Met die kerstening van ons voorouers is alle ou religieuse verhale verban. Sommige van hierdie verhale is van Heidense elemente gesuiwer, dus vroom gemaak, en sou verder deur die geskiedenis gaan as mites en sprokies. Dieselfde sou gebeur met figure soos Dwerge, Reuse, Feë, Trolle en Elwe. Hierdie figure het belangrike rolle vervul in die Germaanse religie.

Daar is by die kerstening gebruik gemaak van ‘n tegniek wat ons vandag  nog ken: ‘n nuwe feesdag word ingestel op dieselfde dag as die oue, juis om die oue te verdring (3). Konstantyn het die heilige rusdag van die Christene (sabbat) verskuif na die Heidense Sondag en nie andersom nie. Op die lange duur sou Sondag vir die Christene heilig word en die Heidense viering daarvan is heeltemal verdring.

Die geboortedatum van Jesus was onbekend. Tog het die kerk besluit om dit te vier presies op die allerbelangrikste fees van die Germane en die Romeine, naamlik die Joel en Saturnalia. Die verdringing in hierdie geval was egter nie suksesvol nie. Die belangrikste verandering was in die naamgewing. Joel heet nou Kersfees. Ook is met Paasfees probeer om Ostara of Ester te verdring. Ook in hierdie geval was die verdringing hoofsaaklik suksesvol in die naamgewing.

Uiteindelik sou die Christelike geloof ‘n volslae oorwinning behaal oor die Germaanse en Keltiese religieë. Die rede hiervoor was nie dat die een God beter sou wees as die ander een nie. Die vernaamste rede vir die oorwinning sien ons by die botsing tussen superieure en inferieure gemeenskappe. By alle dergelike kontakte verloor die inferieure (ondergeskikte) gemeenskap sy taal, kultuur en godsdiens gedeeltelik of selfs ten volle. Vergelyk die kontakte tussen Westerlinge en inboorlinge in die Nuwe Wêreld.

Die ou Germane en Kelte was “onbeskaafd”. Die Romeine was “beskaafd”. Die Christelike godsdiens is beskou as die toonbeeld van die beskaafde wêreld. Die Germane en die Kelte sou die Christendom aanvaar en verder in die wêreld versprei. Volkere wat hulself as ondergeskik beskou het in hul kontak met die Christelike Weste sou in ‘n mindere of meerdere mate afstand doen van hul taal, godsdiens en kultuur. Die Chinese en Japannese het hulself beskou as ewe superieur met die Christelike Weste en om hierdie rede kon die Christendom daar geen voet in die deur kry nie.

Vandag ken ons baie verhale uit die vervloë tyd. Maar dit is verhale uit die Bybel. Ons vertel dit graag aan ons kinders. Dit is mooi verhale, maar dit is verhale van ‘n ander volk. Dit is nie verhale van ons Germaanse en Keltiese voorouers nie. Met die oorname van die Christelike godsdiens het ons ons eie Germaanse en Keltiese godsdienste ten volle in die vergetelheid verskuif. Ons het ons eie verlede verban en die verlede van ‘n ander volk aangeneem. Ons het ‘n skat aan religieuse en kulturele erfgoed deur ons vingers laat gly. Wat vandag nog onder Christene bekend staan as “bygelowe” of “Heidense” praktyke, is dikwels nog die reste van die godsdiens van ons voorouers, wat ‘n aantal eeue gelede as heilig gekoester was. Die Christendom is van oudsher nie Germaanse erfgoed nie, maar leengoed. Die voorchristelike religie van ons voorouers is belangrike erfgoed wat ons aandag verg.

Ons ou Germaanse erfgoed is 'n kosbare Heiligdom.

(1) 'Hollandse Medisyne' soos Duiwelsdrek, Wit Dulsies, Staaldruppels, ens, is 'n oorblyfsel van medisyne wat deur die ou Germaanse Wicca's ontwikkel was.

(2) So was Loo ‘n heilige plek of plein in ‘n bos, maar in moderne Engels kry die woord selfs die betekenis van toilet. Interessant is die pleknaam Lochristie in België. Die Heidense Loo word hier aan Christus gekoppel. (Ander plekname met –loo is Waterloo, Hengeloo, Hoenderloo, Het Loo, Ermelo ens.) ‘n Ander interessante pleknaam in Nederland is ‘s Heeren Loo. Die ou Gode is ook aangespreek met die titel Heer, maar die woord Heer kan ewe goed betrekking hê op die nuwe godsdiens. 

Die woord “ding(es)” het ook ‘n negatiewe betekenis gekry. Die woord “dinges” kom van die God Ding. Aan die begin van die kerstening was Ding in sommige streke selfs nog meer gewild as Wodan. Tog het Donar, Wodan en Freya nie hierdie vernedering ondergaan nie, terwyl ‘n mens dit juis sou verwag het.

Ook die woord “heks” ondergaan ‘n betekenisverandering. Aanvanklik was hekse vakkundige medici, maar na die kerstening, duiwelsgebroed. So ook die woord “Heiden” wat gewoon ‘n plattelander was (iemand wat tussen die heide woon). Omdat die adel en die stedelike bevolking eerste gekersten is, het hulle op neerhalende wyse na die agtergeblewe plattelanders begin verwys as Heidene, bedoelende baie slegte mense.

(3)  Dink aan die viering van Geloftedag op 16 Desember. Hierdie fees het nou ‘n nuwe naam en nuwe betekenis en nuwe aanbieding. Oor ‘n paar geslagte sal die gewone mens op straat nie weet wat die oorsprong van hierdie fees was nie.