Reste uit die Heidendom

Baie van die gebruike wat ons vandag ken, het ‘n baie ou geskiedenis, maar ons besef dit nie altyd nie. Hieronder haal ek ‘n paar voorbeelde van sulke ou gebruike aan.

Die eerste vorme van aanbidding was ‘n byeenkoms om ‘n boom of boomstam. Mettertyd het die mense ‘n skuiling daarom gebou vir beskerming teen die wind en reën. Later het die boomstam ‘n steenpilaar geword en nog later ‘n toring. Die skuiling is vervang met eers ‘n houtgebou en later ‘n steengebou. Vandag noem ons so ‘n gebou ‘n kerk.

Die boomkultus was vroeër nogal wyd bekend. Boeddha is gebore onder ‘n satynboom. Die Jode en die Assiriërs het die boom uit die Tuin van Eden geken. Die ou Grieke het ook bome aan Gode gewy, byvoorbeeld die beuk aan Zeus en die vyeboom aan Dionysius. By die Germane was soms ‘n hele bos heilig, maar tog was die eik aan Wodan gewy en die lindeboom aan Freya.

Die kerk het hard probeer om die boomverering onder die Heidene en later die Christene uit te roei. Die volgende is enkele voorbeelde van geleenthede waar die verering van bome verbode verklaar is: Die Konsilie van Arles (452) , die Konsilie van Tours (567), die sinode van 578, die verordeninge van Gregorius die Grote (540-604), die Konsilie van Auxerre (585), die Konsilie van Nantes (658) en die Konsilie van 743.

Uit die geskiedenis van daardie tyd word baie voorbeelde genoem van heilige bome wat afgekap is. Martinus van Tours (326-397) het melding gemaak van ‘n heilige denneboom wat afgekap is tydens ‘n veldtog om Heidense heiligdomme in Bourgondië te vernietig. Die bekende eik in Geismar wat in opdrag van Bonifacius afgekap is, is nog ‘n voorbeeld.  an het Willibrord ook in Heiloo die heilige woud daar laat afkap.

As jy jou vyand nie kan wen nie, word jy sy vriend. Die kultus van boomverering was baie moeilik om uit te roei en was tot en met die 16de eeu springlewendig in Europa. Die enigste oplossing wat die kerk gesien het, was om die Heidense rituele aan die Christendom te koppel. ‘n Elegante manier was om ‘n Heidense heilige plek op te dra aan ‘n Christelike heilige. Sint Augustinus het die volgende boodskap uitgestuur: Heidene roei jy nie uit nie,  jy bekeer hulle. Ook heilige bome kap jy nie meer af nie,  jy wy hulle aan Christus. Toe is daar begin om by die heilige bome kapelle te bou, en langsamerhand sou die fokus van die bome (later kapelbome genoem) verskuif na die kapel. Die band tussen die twee het later so sterk geword dat by die bou van ‘n nuwe kapel op ‘n neutrale plek, ook een of meer bome geplant is.

Op sommige plekke is in die heilige bome Maria-beeldjies opgehang. Die bedoeling was dat die verering vanaf die boom na Maria sou verskuif, en mettertyd het dit geslaag. In Vlaandere sien ‘n mens vandag steeds Maria-beelde in bome.

Die ou Romeine, Kelte (Galliërs) en Germane het prosessies gehou. Beelde van Gode of Godinne is op 'n draagbaar langs die akkers en weivelde gedra om die Gode of Godinne se guns te vra vir byvoorbeeld ‘n goeie oes. Dit is ook deur die stad gedra om die Gode of Godinne se seën te verkry. Die beeld op 'n draagbaar het ook bekend gestaan as 'n odebaar (ood = geluk) (1). Hierdie prosessies bestaan vandag nog in Katolieke lande, maar nou nie meer met ‘n Godebeeld nie, maar die beeld van Maria (soms met ‘n kind in haar arms). Hierdie fees word gekenmerk deur ‘n stoet met aan die voorpunt musikante en dansers, gevolg die geestelikes en dan die beeld. Die optog eindig by ‘n kerk, waarna uitbundig fees gevier word.

 

Die ou Germane het ook na goeie oeste dankfeeste gevier. Die huidige dankseggingsdag (thanksgiving) wat die Amerikaners vier, is hiervan ‘n voorbeeld.

Om bose geeste te verdryf het die Heidene daaraan geglo om ‘n lawaai op te skop deur op ramshorings te blaas of klokke te lui. Die gebruik van ramshorings het verdwyn, maar vandag word kerkklokke gelui voor die begin van ‘n Christelike erediens. Ook tydens die mis in die Katolieke kerk word klein klokkies gelui (en ook wierook gebrand) om bose geeste te verdryf.

Op gevaarlike kruispunte (‘n plek waar duiwels en bose geeste aanwesig was) het vroeër heilige bome gestaan as beskerming teen die onheil. Mettertyd is daar kruise by die bome geplant om die fokus van die boom na die kruis te verskuif. Op die Vlaamse platteland vind ‘n mens hierdie kruise nog heel dikwels, met bome daarby en soms ook ‘n klein kapel.

Offermaaltye en heildronke is ten strengste deur die kerk verbied. Tog is dit steeds gebruik by Katolieke feesdae, of feeste van patroonheiliges, om heildronke in te stel en groot feesmaaltye te nuttig.

Die verering van gestorwe voorouers het lank na die kerstening van ons voorouers bly bestaan. Die gewone Christenmense is in gewyde grond om die kerk begrawe,  maar die adellikes is binne-in die kerk begrawe, en hoe hoër in aansien,  hoe nader aan die preekstoel. Geestelikes het spesiaal vir hierdie oorledenes gebid en ook misse aan hulle opgedra (voorouer-verering). Die begrip “stinkryk” het sy oorsprong hier, want sommige ryk adel was nogal vlak onder die vloer begrawe en is soms geruik.

By die Germane was die grafheuwels heilig. Dit is omhein deur struike en soms houtpale en was ‘n plek van aanbidding waar daar met die voorvaders en Gode gekommunikeer is. Met die kerstening van die Germane is hierdie begraafplek verskuif na die kerkgebou, omdat die kerk nou heilig geword het. Eers baie later het hulle die oorledenes nie meer in en om die kerk begrawe nie, maar in ‘n kerkhof of begraafplaas verder weg van die kerk.

In Vlaandere sien ‘n mens vandag steeds huise met ingeboude nisse met daarin ‘n beeld van Maria. Vroeër was daar in die nisse binne en buite die huise beelde van Gode en Godinne. Mettertyd is hulle met ander beelde vervang, maar die Maria-beeld was nie toevallig nie. Die Germaanse Godin Freya was die Godin van liefde, skoonheid, vrugbaarheid en huislike geluk. Die vrouebeeld kom dus van ouds en het dieselfde gebly, maar die naam is verander van Freya na Maria. Die aanbidding van die huidige Onse Liewe Vrou-beeld, die Maria-beeld en die Heilige Anna-beeld het in die plek gekom van die aanbidding van die ou Moedergodinne.

Baie van die huidige bedevaartsoorde in Europa was vroeër Heidense bedevaartsoorde, byvoorbeeld Scherpensheuvel (tussen Zichem en Dieste) en ook Dinant, waarheen jaarliks duisende mense stroom. Juis op hierdie plekke het vroeër heilige eike gestaan.

Aan die rand van die Zoniënwoud by Brussel het ‘n reuse-eik gestaan wat ‘n aantal kere deur weerlig getref is en later duiwelseik genoem is. Die inwoners was bekommerd omdat die weerlig die boom herhaaldelik getref het en wou verdere aanslae voorkom. Hulle het kruise in die boom gehang en later is ‘n Maria-beeld deur Peter van de Kerckhoven in die boom gehang. Intussen het daar al meer wonderwerke om en by die boom plaasgevind, soos siekes wat skielik gesond geword het.  Die boom se naam is verander na Jezukens-eik (Jesus-eik) en die plek het ‘n bedevaartsoord geword. Vandag is Jesus-eik ‘n dorp aan die rand van die Zoniënwoud naby Brussel.

Die ritueel by die teraardebestelling van die Germane het gewissel van stam tot stam. Soms is oorledenes veras en soms begrawe. By verassing is die as in ‘n urn geplaas en in die grasheuwel begrawe. ‘n Boomkis was in die 6de eeu nog algemeen in gebruik onder die Alemane. Daarna het houtkiste in gebruik gekom. In Westerse lande is dit vandag steeds die gebruik om oorledenes in houtkiste te begrawe, terwyl dit onbekend was by ander volkere. Die Germane het vuur gebruik as ligdraer by feeste soos Midwinter (Kersfees) en Ostara (Paasfees) en ook om oorledenes te help na die volgende lewe. Vandag word kerse gebrand as oorblyfsel van die ligdraende vuur van die Germane.

In die 16de eeu was daar ‘n ware golf van bome afkap in Nederland. Die Hervormers wou alle reste van die Heidendom uitroei. Die eikebome is ook weer in verband gebring met Maria en hierdie Maria-eike moes uitgeroei word. Die gevolge vir die natuur was dat  die eikebome se getalle drasties verminder het en die getalle van ander bome drasties vermeerder het.

In die hele Germaanse taalgebied vind ‘n mens vandag nog reste van die Godsdiens van ons voorouers. In Nederland en Duitsland is byvoorbeeld op baie plekke nog Druïdestene te vind. Midde-in die Zoniënwoud (Zoniën = opgedra aan die Son) by Brussel lê enorme stene wat nie natuurlik van hierdie streek is nie. Ook vind ‘n mens baie plekke wat vandag Paasberg genoem word, en ook Zonneberg en Tafelberg. Daar is ook Wodansberge of Woensberge of Godensberge.

‘n Tafelberg was die offerplek van die Druïde. Dit was op ‘n heuwel. Soms is ‘n mensgemaakte heuwel (hoogte) gemaak met ‘n plat top (tafel). In Huizen in Noord-Holland is vandag nog vyf van hierdie berge te sien met die name Leeuwenberg of Venusberg, Tafelberg, Trapjesberg, Eukenberg en Sijsjesberg. Kyk ook hier vir meer oor Tafelberge!

‘n Belangrike simbool wat ons van die Kelte geërf het, is die haan op die kerktoring. In die Keltiese mitologie het die haan ‘n baie belangrike rol gespeel. Die haan op ‘n paal (heilige boomstam of totem) was van besondere gunstige religieuse waarde en betekenis. Die haan op ‘n paal = die haan op ‘n kerktoring. In die Frankryk van vandag is die haan steeds ‘n prominente simbool. Die Latynse woord vir haan is “gallus” waarvan die woord Galliërs (of Kelt) ontleen is.

In die Keltiese gebiede sien ‘n mens dikwels die Keltiese kruis. Dit staan by kerke en ook op grafstene. Hierdie kruis word ook die driepas of trifos genoem. Die kruis word gesien as ‘n sonsimbool wat lig en krag uitstraal. In die kruis is ook die Son of Sonwiel te sien.

Keltiese kruis.

 

(1) Die woord ooievaar is afkomstig van die woord odebaar, gelukbringer. Ooievaar is in Middelnederlands odevare en Oudhoogduits odoboro.