Die slang
Van oudsher (steentyd) het die slangkultus ’n baie belangrike rol gespeel in die religieuse belewing van baie volkere. Daarby hang die verering van die slang ook nou saam met die Moedergodinkultus. By die Grieke en die Romeine was die slang geassosieer met Venus, die Godin van liefde, erotiek, skoonheid en vrugbaarheid. Maar die slang het ook simbool gestaan vir versigtigheid, kuisheid, wysheid en veral onsterflikheid. In baie gebiede was Venus die mees gewilde Godin en is Venustempels gebou waarin sy vereer was. In Italië is ’n die dorp Venus na hierdie Godin vernoem en word daar (tot en met vandag) elke jaar steeds ’n slangfees gevier in Venus, wat ’n groot toeriste-aantreklikheid vorm (23-25 Januarie). Tydens hierdie fees word slange aan die beeld van die Godin Venus gehang. Die antieke priesters ‘Flamini pomonari’ wat vandag bekend staan as serpari of ciarmatori hanteer die slange. Hulle gebruik magiese kragte om die gevaarlikheid van die slang te bemeester. Die Godin Venus word dikwels afgebeeld waar sy ’n aardbol vashou met ’n slang wat om die aardbol kronkel. Die slang staan hier simbool vir die skepping van lewe, maar ook die vernietiging daarvan.
By die Ou Grieke het ’n slang wat om ’n eier kronkel simbool gestaan vir ‘n wêreld wat deur die kosmiese slang beskerm word. In Europa sien ’n mens dikwels nog op ou grafstene ’n slang wat homself in die stert byt: Ouroboros. Hierdie slang is die alfa en die omega, die begin en die einde, dood en herlewing. Hy kan sy ou lewe agterlaat deur te vervel en met ’n nuwe lewe begin. Die slang herleef keer op keer. Die slang simboliseer onsterflike lewensdrif en is voortdurend besig om die dood af te skud.
Afbeelding: Ouroboros
By dokters, tandartse, medisyne of aptekers sien ’n mens dikwels die slang wat teen ’n staf omhoogkrul. Die embleem is ’n Voorchristelike embleem bekend as die Eskulaap. Die Eskulaap verwys na die Griekse God van die geneeskunde: Asklepios. Die slang word hier beskou as die mitiese oorwinnaar oor siektes.
Dat die slang ’n positiewe en gunstige beeld gehad het onder die Grieke is ook duidelik by die veroweringstogte van Alexander die Grote (Macedoniër). Volgens sy geskiedskrywers sou twee pratende slange met Alexander en sy gevolg saamgereis het, vir ’n gedeelte van die reis.
Ook in die Hindoeïsme speel die slang ’n sentrale rol. Enersyds word die slang gesien as simbool van tembare kragte. Die beheersing en begeleiding van hierdie kragte verg ‘n bonatuurlike inspanning. Andersyds staan die slang ook simbool vir gevaar, dood en chaos. In Indië is selfs die giftigste slang ’n heilige dier. Ook by die Boeddhiste speel die slang ’n baie belangrike rol. Hier is die Slangkoning na Boeddha die tweede belangrikste Godheid.
Ook het die ou Egiptenare en die Babiloniërs die slang vereer. In Egipte was dit die Kobragodin en ook is die Uraeussimbool van die Farao's daarvan afgelei.
Uraeus op die voorkop van Toetanchamom
In die ou Mesopotamië was Inanna geassosieer met die slangkultus. Talle beelde (van haar) is uit die gebied opgegrawe wat dateer uit 4000 vC, met 'n vroue bolyf en 'n slang onderlyf.
Ook op Kreta was die slanggodin vereer, waar eintlik nie slange voorkom nie. Die slang verskyn vandag op talle stadswapens en logo's.
Ook het die Israeliete in slangverering geglo. Moses het 'n koperslang gemaak (op 'n paal) om die volk teen onheil (slangbyte) te beskerm. Hierdie koperslang is bewaar en het 'n plek gevind in die tempel van Dawid/Salomo (700 jaar later).
Die Slang(god), tuin (paradys), boom en die Godin kom ook in klassieke religieuse tradisies voor. In hierdie verhale gee die Godin lewenskrag (voorplantingsdrif) aan die man. Die Slanggod leef in die boom (lewensboom) in hierdie tuin, waar hy heers en oppermagtig is.
Die slang, tuin, boom en Eva kom ook voor in die Joods-Christelike skeppingsverhaal. Hier is die slang die ‘listigste’ van alle diere en kon hy doen wat geen ander dier kon doen nie: Hy oortuig Eva met vlotte verbale kommunikasie om verbode vrugte te eet. Alhoewel in die Joodse skeppingsgeskiedenis geen enkele woord gerep word oor Satan nie, word daar deur die Christene aanvaar dat hierdie Slang, Satan was. Die Slang heers ook in die tuin van Eden as (opper)magtige wese, waar hy selfs meer mag toon as God, deur met God se skepping (suksesvol) in te meng. In hierdie verhaal word die eertydse ou Slanggod gedemoniseer. In Openbaring (die eindtyd) speel die Slang ’n belangrike rol waar hy sinoniem is met Satan.
Afbeelding: Thor veg met die Midgardslang
Uit die Edda’s blyk dat die ou Germane die slange in die Utgard (onderwêreld) wel in 'n negatiewe lig beskou het, maar uit die sierande wat die Germaanse vroue gedra het, blyk dat die slang as vrugbaarheidssimbool baie belangrik was. Dit sluit aan by die Hindoeïsme (uitvloeisel van ons ou Germaanse mitologie) waar die slang sowel positief as negatief bejeen was. In die Edda’s word een slang baie duidelik vermeld en dit was die Midgardslang. Midgardslang het besondere groot angs ingeboesem. Hy was die kind van die God Loki (God van Vuur) of later ook bekend as Lucifer. Hierdie slang was so groot dat hy reg rondom Midgard (die wêreld) gelê het. Hy het homself aan sy stert gebyt. Wanneer hy beweeg, bewe Midgard. Midgardslang kom eers in die eindtyd tot aksie wanneer die Gode en die mense teen die Reuse en demone sal veg. Midgardslang sal in ’n tweegeveg met die God Thor optree. Thor sal Midgardslang uiteindelik doodmaak, maar Thor sal ook sterf in die gifstoom wat uit Midgardslang se bek sal vloei.