Herkoms van Speelkaarte & Tarot

Die herkoms van ons speelkaarte is oud. Daarbenewens is Tarot en Speelkaarte aan mekaar verwant.

Dit is bekend dat die ou Germaanse waarsegsters stokkies, stukkies been, plankies, klippies of stukkies verharde dierevel gegooi het om daaruit vir die stamleiers die toekoms te kon voorspel. Hierdie stukkies vel, plank of klip is van tekeninge, runename en runesimbole voorsien en in verskillende kleure beskilder. Aanvanklik was daar maar net ‘n paar “kaarte”. Die belangrikste “kaart” was die Aas (Eng Ace). Aas = Germaanse God(e). Die “kaarte” het van stam tot stam verskil. Die doel hiervan was om die toekoms of ‘n gebeurtenis te voorspel, deur die lot (orakel) te werp (kaarte is op ‘n wit doek gewerp). Dit was onder andere gebruik om die uitslag van ‘n oorlog te voorspel, maar ook om te bepaal of iemand aan ‘n misdaad skuldig sou wees. Dikwels is ‘n vraag gestel, waarna die lot (orakel) gewerp was en waaruit dan ‘n antwoord of oplossing sou blyk.

Hierdie speelkaarte was ook gebruik by dobbelspele. Dobbelary is deur ons Germaanse voorouers tot ‘n topsport ontwikkel. Die woord dobbel kom van top, toppel of topper. Ons Afrikaanse woorde speel, spel verspeel en voorspel is afkomstig uit die gebruik van die rune en die tarot. Onder die ou Germane was dit ernstige sake. Hulle het soms tot die uiterste gegaan deur al hul besittings te verwed en het hulself soms as slawe laat verkoop om dobbelskuld te kon betaal. Dit is as ‘n lafhartige daad beskou om vroegtydig uit so ‘n dobbelspel te stap. Die verloorder moes sy pak kan vat. 

 
Tarot kaarte

Met die kerstening van ons voorouers is die gebruik van hierdie “kaarte” ten strengste verbied en oortreders is soms swaar gestraf. Met die koms van die boekdrukkuns het hierdie “kaarte” op papier of karton verskyn. Die aantal kaarte is nou ook uitgebrei. Die doel was steeds vir gebruik by toekomsvoorspelling en dobbelary en ook vir allerhande “onskuldige” speletjies. Hierdie gedrukte kaarte is deur die kerk as “prente van die duiwel” beskou en was ten strengste verbode.  Gelowiges is voortdurend opgeroep om hierdie kaarte te verbrand, verkieslik in die openbaar. 

Vandag kry ons die kaarte in vier reekse, naamlik skoppens, hartens, ruitens en klawers. Benewens die tien speelkaarte in elke reeks is daar ook ‘n Boer, Vrou (of Dame) en Heer (of Koning). Die Aas (Eng Ace) kan voor of agter aan die reeks lê. In elke stel kaarte is daar ook twee jokers.

Die vier kaartreekse verteenwoordig die 4 basis-elemente uit die natuur.

Element Tarot Speelkaart
Vuur Stawe Klawers
Water Bekers Hartens
Lug Swaarde Skoppens
Aarde Skywe Ruitens

Die Tarot is 'n stel van 78 geïllustreerde kaarte (elk met 'n simboliese betekenis) wat afwyk van die bekende 52 speelkaarte. Die Tarot word spesifiek gebruik vir meditasie, persoonlikheidsontleding en toekomsvoorspelling.