Tempelprostitusie

Uit argeologiese ondersoek in die Midde-Ooste en Europa blyk dat 7,000 jaar gelede, die verering van Moedergodinne sentraal gestaan het in die religieuse belewing van talle volkere.

In die Midde-Ooste en Europa is duisende afbeeldinge van vroue opgegrawe. Hierdie beelde was van Moedergodinne. Bekende beelde is die Venus van Lespugue van 25,000 v.C. en Venus van Willendorf 23,000 v.C. In Europa is daar meer as 1,000 beelde of afbeeldinge gevind van vroue wat gemaak is tussen 26,000 en 27,000 v.C.

In die Midde-Ooste is nog meer Venusbeeldjies opgegrawe wat selfs ouer is as 200,000 jaar. Uit opgrawings uit die steentyd is daar geen beelde van volwasse manlike Gode gevind nie. Slegs Godinne. Maar soms is vroulike beelde gevind by 'n beeld van 'n manlike kind. Soms ook 'n volwasse man, maar dan baie kleiner in gestalte as die vroulike beeld. Die eerste beeld van 'n volwasse manlike God dateer uit 1120 v.C. Dit dui aan dat in hierdie tyd die verering van Godinne begin taan het en voorrang verleen is aan die verering manlike Gode.

Die Moeder is beskou as die skenker van lewe. Om hierdie rede is sy vereer. Die bekendse Moedergodinne in die Middeoosterse Moedergodinkultus was: Lilith, Ninlil, Inanna, HannaHanna, Neith, Nut, Anat, Anahita, Ishtar, Isis, Aset, Asherah, Astarte, Ashtoreth en Hathor. Die naam Astarte beteken ook baarmoeder. Uit die verering van die Moedergodinne het tempelprostitusie voortgevloei.

Die Maagd Anahita, Moeder van alle Gode en Godinne.

By tempelprostitusie was seksuele dienste verskaf vir religieuse doeleindes. Daar was verskillende variasies in die uitoefening van hierdie vak. Een vorm van tempelprostitusie uit die oudheid was bekend as Hieros Gamos. Hieros Gamos was 'n belangrike onderdeel van 'n seremonie waarin die koning vrugbaarheid moes (her)genereer, vir homself en sy onderdane. Die Hieros Gamos het plaasgevind in die allerheiligste plek in die tempel van die Moedergodin, waar die koning hom moes verenig met hierdie Godin of haar plaasvervanger, naamlik die opperpriesteres. Die hele seremonie het talle rituele vereis om die krag van die koning te laat sien en uiteindelik ook 'n seksuele prestasie. Hieros Gamos was beoefen in die ou Kanaän, Anatolië en Mesopotamië.

In die hele Midde-Oosterse gebied was tempelprostitusie bekend by (veral) tempels wat aan Moedergodinne gewy was. Die priesteresse wat in hierdie tempels diens gedoen het, het bekend gestaan as nu-gig. Die assistente en bediendes het bekend gestaan as hierodule. Maar die hierodule was ook soms gewone prostitute wat geld vir die tempel verdien het. Ook in Griekeland was tempelprostitusie beoefen by die tempel van Afrodite. Strabo skryf dat daar in die stad Korinthe (Korinthiërs) rond die begin van ons jaartelling, selfs duisend hierodule werksaam was.

By sommige tempels van Astarte (of Ishtar) was 'n vreemde vorm van religieuse prostitusie beoefen. Herodotus skryf dat dit voorgekom het in Mesopotamië. Elke vrou in die land moes voor haar huwelik, een keer in die tempel van Astarte verskyn, waar sy die Godin sou vervang en seksuele omgang gehad het met 'n vreemdeling. In die oudheid was geglo dat die eersgebore kind (seun) 'n Goddelike verwekking was. Hierdie eerste kind moes geoffer word aan die Gode of Godinne. Sien ook Exodus 22:29-30, waar alle eersgebore manlike kinders op hulle 8ste dag geoffer moes word aan Jahweh. Later is hierdie offer omseil deur die seuns los te koop. Uiteindelik het die besnydenis (op die 8ste dag) die kinderoffer vervang. Die besnydenis was al as 'n offer beskou, maar ook 'n verbond met die God(e). Die doop (ook 'n verbond) sou weer die besnydenis vervang.

Astarte

By die Godinnetempels het Tempelmaagde (Heilige Maagde) gewerk as priesteresse. Hulle was daar uit vrye wil. Dit was vir die ouers 'n eer om hulle dogters hierheen te stuur. Sommige meisies is al op 'n jeugdige leeftyd na die tempel gestuur vir hulle inwyding. Hierdie maagde was plaasvervangers van die Godinne en dit was beskou as die hoogste eer. Die tempelmaagde het destyds die status gehad wat predikante, priesters en pastore vandag het.

Die meeste besoekers het in die lente gekom en het so 'n besoek ook dikwels saamgeval met lentefeeste (vrugbaarheidsfees) soos die Joodse Pasga. Vir die mans wat daar besoek afgelê het, was dit dikwels 'n saak van lewe of dood. Die komende oes moes suksesvol wees en hiervoor het hy 'n waarborg (versekering) nodig. Met 'n mislukte oes het hy immers hongersnood in die gesig gestaar. Vir sy besoek aan die tempel moes hy geld (versekeringspremie) betaal aan die tempelbeheerders. Dan moes hy met die Vrugbaarheidsgodin (haar plaasvervanger) ook seksuele kontak hê (as onderdeel van 'n hele aantal rituele). Die hele doel van tempelprostitusie was dus om vrugbaarheid af te pleit.

Vir die besoekende man, was die Godinnetempel nie 'n plesieroord nie. Hy moes talle rituele met sukses volvoer voordat hy met die tempelmaagd kon paar (laaste ritueel). Sommige mans het nie geslaag nie. Bowendien was so 'n besoek 'n dure onderneming. Die tempelbesoeker moes vir sy besoek, diep in die buidel tas.   

Die ou Israeliete het tempelprostitusie geken, maar die outeurs van die Ou Testament het dit afgekeur. In Deut 23:17-18 staan: "Jy mag nie prostitute by die tempel aanhou nie, of dit nou vrouens of mans uit Israel is. Wanneer jy 'n gelofte afgelê het, mag jy nie die loon van 'n prostituut, of dit nou dié van 'n man of 'n vrou is, na die huis van die Here jou God toe bring nie. Hy het 'n afkeer van hierdie twee dinge." Die gelofte waarna in die teks verwys word, is deel van die vrugbaarheidsritueel. Die besoeker betaal 'n versekeringspremie. Hy word verseker van 'n vrugbare oes en 'n vrugbare kudde.

Vergelyk ook 1 Sam 2:22 waar tempelprostitusie beoefen was by die tent van samekoms: "Eli was al baie ou. En wanneer hy alles hoor wat sy seuns aan al die Israeliete doen en dat hulle by die vrouens slaap wat diens doen by die ingang van die tent van ontmoeting...."

Vergelyk ook 1 Kon 15:11-12: "Asa het gedoen wat reg was in die oë van die Here, soos sy voorvader Dawid. Hy het die tempelprostitusie uit die land verban en hy het al die afgodsbeelde verwoes wat sy voorgangers gemaak het." In 1 Kon 22:47 staan: "Josafat het die tempelprostitusie wat nog uit die dae van sy pa oorgebly het, uit die land verban."

Daar is ondersoekers wat meen dat Maria aanvanklik nie 'n naam was nie, maar 'n titel: die van tempelmaagd, heilige maagd of priesteres. Maria, die moeder van Jesus, was volgens sommige ondersoekers 'n tempelmaagd. Die katolieke kerk hou die maagdelikheid van Maria nie verniet so hoog in die vaandel nie. Sy is selfs verhef tot die Ewige Maagd, al het sy later in haar lewe nog kinders in die wêreld gebring. In Matt 1:25 (1933 vertaling) staan immers dat Maria haar eersgebore Seun gebaar het (nie Eniggebore Seun nie). Sien ook Matt 13:55 en Mark 6:3 waar die broers en susters van Jesus vermeld word. In die apokriewe boek Evangelie van Jakobus staan dat Anna, die moeder van Maria, beloof het om Maria aan die tempel te wy. Toe Maria 3 jaar oud was, het Anna haar na die tempel gebring (Evangelie van Jakobus 7:2). Volgens hierdie evangelie moes Maria die tempel verlaat toe sy 12 was. Sy was toe swanger.

Die woord Maagd het in die tyd nie altyd die betekenis gehad wat dit vandag het nie, want heilige gewyde dames wat diens gedoen het in die tempels was Maagde genoem. Verder was maagdelike geboortes 'n algemene konsep in die Hellenistiese wêreld. Ook by Plato, Empedocles, Hercules, Pythagoras, Alexander die Grote, Keiser Augustus, Zoroaster, Sargon, Perseus, Jason, Miletus, Minos, Asclepius, en talle andere was beweer dat hulle uit maagde gebore was waarvan die vader 'n Goddelike figuur was. Vergelyk ook die betekenis van maagd in Exodus 20:10 (1933) waar die term diensmaagde gebruik word. In Rome was ook Vestaalse Maagde bekend. Vir hierdie maagde was seksuele onthouding van groot belang, alhoewel sommige ondersoekers meen dat ook by die Vestaalse maagde moontlik praktyke beoefen was wat ooreenkom met die Griekse en Midde-Oosterse tempelprostitusie.

Dan is daar ook ondersoekers wat meen dat Maria Magdalena moontlik ook 'n tempelmaagd of priesteres was. In Hebreeus beteken die woord Magdal toring. In Jerusalem het 'n tempel gestaan met drie torings wat ook as Magdala bekend gestaan het. Hierdie drie-toring-tempel was opgedra aan die Goddelike drie-eenheid Mari-Anna-Ishtar. Die naam Maria Magdal(en)a verwys dus moontlik na dié Godinnetempel.

Verder was Maria Madal(en)a ook as 'n prostituut beskou - 'n tempelprostituut. Dan word daar 7 duiwels uit Maria Magdal(en)a verdryf. Die 7 duiwels was deel van 'n simboliese ritueel wat in Mari-Anna-Ishtar tempel in Jerusalem beoefen was. Laastens word Jesus met kosbare nardusolie gesalf in Markus 14:3-4. Dit kom ook ooreen met een van die rituele wat deur hierdie priesteresse voltrek was.

Met die koms van die Romeine na die Midde-Ooste het tempelprostitusie begin verdwyn. Tog bestaan tempelprostitusie vandag nog in Indië bekend by die Devadasi. Die ou Germane het egter streng sedelike norme gehandhaaf en was sodanige praktyke onder hulle afwesig.